Eis oor defektiewe maasinplantings kan miljarde beloop

Soortgelyke hofsake is al in verskeie ander lande aanhangig gemaak. (Argieffoto ter illustrasie: Unsplash)

ʼn Groep Suid-Afrikaanse vroue het met die hulp van die regsfirma RH Lawyers en die prokureur Richard Spoor met ʼn groepsgeding teen die farmaseutiese reus Johnson & Johnson begin oor maasinplantings wat volgens die vroue defektief is en langtermynskade veroorsaak.

Maroela Media het verlede jaar berig vroue in verskeie ander lande het ook al farmaseutiese maatskappye hof toe gesleep oor die polipropileentoestel, genaamd ʼn transvaginale maas (TVM), wat ontwerp is om interne steun te bied om blaasinkontinensie en die verplasing van bekkenorgane – genaamd uitsakking – te behandel.

Duisende vroue sê egter die inplantings het reuseskade veroorsaak en hulle ondervind pyn nadat die maas ingeplant is.

Die Suid-Afrikaanse groep voer ʼn groepsgeding teen die Deense mediese vervaardiger Coloplast, die vervaardiger Nuangle en Ethicon, ʼn filiaal van die Amerikaanse farmaseutiese reus Johnson & Johnson.

Daar is in Julie verlede jaar al begin met voorbereidings vir die groepsgeding en die regspanne sê hulle is nou gereed om met die saak voort te gaan. Die proses om die aansoek as ʼn groepsgeding te laat sertifiseer is reeds in die Johannesburgse hooggeregshof van stapel gestuur.

“Die pelviese maastoestelle wat chirurgies ingeplant word om bogenoemde toestande te behandel, is ten volle of gedeeltelik van polipropileen gemaak en is veronderstel om permanent ingeplant te word. Die maas is poreus en is só ontwerp dat die pasiënt se weefsel deur die porieë groei en die maas effektief met die pasiënt se liggaam laat saamsmelt,” lui ʼn verklaring van die prokureurs.

“Die groepsgeding is daarop gemik om vergoeding te eis vir vroue by wie die pelviese maastoestelle ingeplant is en wat skade gely het omdat die toestelle defektief was.”

Sertifisering is die eerste stap in die proses om ʼn groepsgeding aanhangig te maak en behels toestemming deur ʼn hof om dit namens ʼn groot groep geraakte mense te voer. Dit beteken ook nie elkeen wat by die hofsaak betrokke is, hoef in die regsproses by name genoem te word nie.

Enigiemand wat van 1 Januarie 1996 tot op die datum van sertifisering ʼn soortgelyke maasinplanting in Suid-Afrika ondergaan het en waarby die respondente betrokke was, kan deel van die groepsgeding vorm. Dit sluit ook diegene in wat diagnoseerbare psigiatriese beserings opgedoen het weens die inplanting.

Die eisers voer aan polipropileen is nie ʼn geskikte materiaal vir die inplantings nie omdat dit mettertyd hard word, kraak en misvorm word. Dit kan lei tot verskeie komplikasies wat insluit insnyding in die been, chroniese inflammasie en die uitermatige opbou van weefselletsel.

Hulle sê ook hoewel alle operasies met ʼn mate van risiko gepaard gaan, is die komplikasies wat in hierdie gevalle ondervind word beduidend hoër en is die voordele daaraan verbonde in talle gevalle nie die nadele of gevare werd nie.

Volgens die regsfirmas word duisende vroue in Suid-Afrika moontlik deur die defektiewe maastoestelle geraak.

“Gegewe die erns van die beserings wat Suid-Afrikaanse vroue opgedoen het by wie hierdie defektiewe maasinplantings gedoen is, kan die moontlike aanspreeklikheid van Johnson & Johnson, Ethicon en Coloplast miljarde rande beloop.”

In Australië het meer as 1 350 vroue ʼn soortgelyke saak teen J&J en Ethicon gewen oor bewerings dat die produkte defektief en onveilig is. Die regter het bevind die vervaardigers het versuim om ʼn behoorlike waarskuwing uit te reik oor die ernstige gevaar van besering wat met die inplanting verband hou.

In daardie saak is daar eindelik vir meer as R3 miljard geskik, die grootste skikking van sy soort in Australiese geskiedenis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nettie ·

“…versuim om ʼn behoorlike waarskuwing uit te reik oor die ernstige gevaar van besering…”

En is dit nie waarvoor ‘n klomp van ons ook maar die afgelope jaar veg nie? Erkenning dat daar nie behoorlike waarskuwings uitgereik is/word nie. Asseblief, hou op om ons stemme stil te maak media, julle gaan ‘n soortgelyke klasgeding in die gesig staar as dit so aangaan. Ons het die reg om mense te waarsku van die moontlike “gevare van besering”. Nee, nie ‘n reg, maar ‘n verpligting.

Vir die vroue wat geraak word: Mag geregtigheid geskied, en mag jul genesing en hulp vind. Sterkte!

Miskruier ·

Johnson en Johnson se ablasie tegniek is n wenner. Ek het die binnekant(endometrium) van my uterus laat wegbrand en het dus nog steeds my uterus maar nie meer die probleme.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.