‘Ek is bly ek het terugbaklei’

(Foto: Verskaf)

Kort nadat ʼn rassebom op 9 Januarie 2019 by Laerskool Schweizer-Reneke in Noordwes gebars en Elana Barkhuizen in die openbaar as ʼn rassis gekruisig is, het dié gr. R-onderwyseres en haar gesin ernstig oorweeg om te emigreer.

Vier jaar later is sy egter steeds op haar pos in haar ou klaskamer en was sy omring van familie en vriende toe sy Donderdag die nuus kry dat die Menseregtekommisie (MRK) haar op alle klagte van rassisme vrygespreek het.

“Ons was sterk op pad Kanada toe,” sê sy Vrydag in ʼn onderhoud met Maroela Media. “Ons het op die ou einde besluit om nie eens die dorp te verlaat nie en daarvoor is ek vandag baie dankbaar. Dis wonderlik om ná alles ou bekendes te hê wat langs jou in die straat stop en sê, ‘uiteindelik, ons is bly saam met jou’.”

ʼn Herrie het in 2019 losgebars nadat ʼn foto versprei is wat wys hoe ʼn groep wit leerders saam in die middel van die klaskamer by ʼn tafel sit, terwyl vier swart kinders apart by ʼn tafel voor die deur van die klaskamer sit.

Barkhuizen is summier afgedank, ʼn stap wat die Johannesburgse arbeidshof ʼn paar weke later tersyde gestel het.

“Ek is ʼn week lank op spesiale verlof geplaas, en is toe deur die hof verplig om terug te gaan skool toe. Dit was vir my ʼn baie moeilike besluit, omdat ek nie geweet het hoe my kollegas en die ouers dit gaan hanteer nie.”

‘n Brief wat een van Barkhuizen se voormalige leerders Donderdag vir haar geskryf het. (Foto: verskaf)

Sy sê hoewel daar aanvanklik ʼn hele paar ongemaklike stiltes by die skool was, het sy veral ongelooflike ondersteuning van die skoolhoof, Alwyn Henning, gekry. “Vandag is ek ongelooflik dankbaar ek het besluit om terug te gaan. Ek wil regtig nêrens anders as in hierdie skool en vir hierdie graad klasgee nie,” sê Barkhuizen nou.

Sy skat egter die effek wat die gebeure op haar en haar gesin gehad het nie gering nie. Sy het twee dogters wat vanjaar onderskeidelik in gr. 5 en gr. 8 is.

“My kinders het vir lank nagmerries gekry en skeidingsangs gehad. My jongste dogter het daardie dag vir die eerste keer gr. 1 toe gegaan. Dit was haar ervaring van die eerste skooldag.”

Barkhuizen sê met die nodige hulp en terapie kon hulle as gesin die gebeure verwerk. “Ek moes hulle weer Donderdagoggend byeen roep en sê, ‘Mamma gaan weer vir ʼn rukkie in die nuus wees.’ My jongste se gesig het sommer so wit geword. Maar ons is oukei.”

Die MRK het Barkhuizen Donderdag van alle bewerings teen haar vrygespreek en bevind die bewering dat die Laerskool Schweizer-Reneke onbillik teen vier leerders gediskrimineer het, kan nie gestaaf word nie.

Die MRK het boonop die destydse LUR vir onderwys, Sello Lehari, geroskam en bevind dat sy destydse bekendmaking van Barkhuizen se naam nie net ʼn skending van haar menseregte was nie, maar ook van haar menswaardigheid en reg op privaatheid.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, en Elana Barkhuizen in die hof. (Foto: Twitter/ Solidariteit)

As Barkhuizen nou terugkyk op die afgelope vier jaar, sou sy niks anders gedoen het nie.

“Ek is bly ek het vir myself opgestaan en dat ek só ʼn verskil in ander onderwysers se lewe kon maak. Ek dink dit het beslis verander hoe ander onderwysers, wat met soortgelyke beskuldigings gekonfronteer is, deur die media en politici hanteer is. Ek dink mense is nie meer so vinnig om hul eie gevolgtrekkings te maak nie.”

Sy sê egter sonder haar sterk ondersteuningsbasis en die span van Solidariteit wat haar deurentyd bygestaan het, sou sy nie so maklik staande gebly het nie.

Vir onderwysers wat hulself in ʼn soortgelyke posisie bevind is haar raad, “moenie opgee nie”. “Staan op vir jouself en dit waarin jy glo. En moenie die onderwys afskryf nie. As dit jou passie is, volhard daarmee. Jy as onderwyser het ʼn ontsettende belangrike rol in die vorming van die volgende generasie.”

Barkhuizen is self nou oortuig haar plek is in die onderwys en beplan nie om gou van skool of beroep te verander nie. “Ek weet nou hierdie werk is vir my en ek wil help bou aan die volgende generasie grootmense, maak nie saak wat die ras is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Shoshan ·

Jy mag trots wees. Jy het so so baie vermag. Dankie vir jou integriteit en vasbyt.

Africangrey ·

Ek het nou nie die hele petalje kon volg nie maar waarsktnlik het die kinders self gekies om so te sit?

Ian ·

Bloedneus. Pragtig. Dankie wat julle vir ons onderdrukte nasie doen.

Sonblom ·

Juffrou Elana, ek is net so bly saam met jou. Baie sterkte vorentoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.