‘Ek is daar met pannekoek by die wenstreep’

Zenéy van der Walt spog met haar bronsmedalje. (Foto: Ben Stansall / AFP)

Die volgende Olimpiese Spele word oor twee jaar in Frankryk aangebied. En wanneer Zenéy van der Walt vir haar 400 m-hekkieslopie aantree, kan sy op die aanmoediging van een spesiale ondersteuner in Parys staatmaak.

Die opwindende atleet – wat onlangs ʼn bronsmedalje op die Statebondspele losgehardloop het – is immers verwant aan Jan Hendrik van der Westhuizen, Suid-Afrika se eerste sjef wat ’n Michelin-ster ontvang het.

“Zenéy is my neef se dogter. Ek is nie mooi seker wat ’n mens daardie verwantskap noem nie,” laat weet Van der Westhuizen laggend.

Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) is nadergetrek en ná ’n rukkie se gerondsoek kry ’n mens die antwoord: Die 22-jarige hekkiesster is sy kleinniggie.

Jan Hendrik van der Westhuizen (Foto verskaf deur Showmax)

Benewens haar goeie Statebond-prestasie is Zenéy goed op koers om een van die land se atletieklieflinge te word. Sy is die voormalige o. 20-wêreldkampioen, terwyl sy vanjaar ook goud by die Afrika-kampioenskap in Mauritius gesmaak het.

Wenda Nel, ook ʼn Olimpiese atleet, is opgewonde oor wat die toekoms vir die jong atleet kan inhou en sy het vir Zenéy onder meer as iemand met baie potensiaal beskryf; iemand wat nie sommer vir ’n uitdaging skrik nie.

Nodeloos om te sê stem Van der Westhuizen met haar raakvat beskrywing saam.

“Sy is nou weliswaar nie ’n Van der Westhuizen nie!” skerts hy.

“Maar die ‘Van der’ in die ‘Van der Walt’ is klaar genoeg sodat ek baie trots kan rondloop en vir almal van haar vertel. Sy is nie net ’n ongelooflike atleet nie, maar ook ʼn fantastiese mens. Altyd positief en met ’n groot glimlag.”

“Sy is nie net ’n ongelooflike atleet nie, maar ook ʼn fantastiese mens.” Foto: Verskaf.

Nou wie is dan die vinnigste: Zenéy in ’n 400 m-hekkiesitem of Van der Westhuizen wanneer hy die eierwit van die eiergeel skei?

“Beslis Zenéy! Ek dink egter dat ons ’n toetslopie sal moet doen.”

Van der Westhuizen het al in ’n vorige onderhoud met Maroela Media oor sy skoolsportloopbaan gesels. Hy het destyds as haker op die rugbyveld diens gedoen.

“In my hoërskooldae (daar by Hoërskool Middelburg in Mpumalanga) het ek vir die H-span, of iewers daar rond gespeel, totdat ek musieknote begin lees het. Rugby was werklikwaar nie vir my nie, maar tog dink ek dit het vir my die nodige dissipline geleer.”

En hoe het dinge dan atletiekgewys gegaan?

Van der Westhuizen is trots op sy kleinniggie se prestasies. Foto: Daniela Zondagh/The Food Narratives/ Instagram).

“Ons moes alles gedoen het. Ek het die langer afstande aangepak en altyd bloedrooi in die gesig ná die tweede rondte besluit om net te gaan sit.”

Hoewel hy nog nie vir Zenéy in lewende lywe aan ’n byeenkoms sien deelneem het nie – hulle is die heeltyd op verskillende vastelande – hou hy haar vordering met valkoë aanlyn en op die televisie dop.

Tog sal hy in Parys wees om haar aan te moedig.

“Ek is 100% daar met ’n tafel vol pannekoek by die wenstreep!”

Hy het ook onderneem om vir Zenéy na JAN – sy restaurant in Nice – te nooi.

“Ons sal dit sommer so tydens die Olimpiese Spele inwerk.”

  • Volgens die topsjef is finansiering een van die grootste uitdagings wat Suid-Afrikaanse atlete in die gesig staar. ’n Backabuddy-veldtog is geloods om Zenéy se Olimpiese droom ’n werklikheid te maak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.