‘Ek kon nie my eie kind se lewe red’

Grieta Spiers (Foto: Verskaf)

“Die dood ná ’n siekte of ongeluk kan ek aanvaar. Maar moord?

“Nooit. Ek sal dit nóóit kan aanvaar nie.”

Grieta Spiers se dogter, Chantel Kershaw, is in September 2020 op hul kleinhoewe in die Sundra-omgewing in Mpumalanga vermoor. Die vroue se tuinwerker, wat etlike jare vir hulle gewerk het, was volgens die hof die baasbrein agter die aanval.

Themba Moses Masuku is vandeesmaand in die rondgaande hooggeregshof in Delmas tot effektief 15 jaar tronkstraf gevonnis op aanklagte van roof met verswarende omstandighede en regsverydeling .

Die aanklagte van moord teen Masuku is egter vroeër laat vaar nadat hy op die ander twee aanklagte skuldig gepleit het en ingestem het om teen sy twee medebeskuldigdes te getuig. Dié twee mans is destyds glo deur Masuku aangesê om Spiers en Kershaw te oorval, vas te bind en te beroof.

Masuku hou vol dat hy nie kon voorsien het dat Kershaw dié dag vermoor sou word nie. Sy is nietemin op daardie noodlottige dag verwurg.

“As hy dit nie beplan het nie, sou hierdie ding nooit gebeur het nie,” sê Spiers nou.

“Hy het die hand gebyt wat hom gevoed het. Die regter het dit self in die hof gesê.”

Maroela Media het destyds berig Masuku het die betrokke middag omstreeks 13:00 vir Kershaw na buite geroep om haar iets te vra. Hy het haar vermoedelik op dié manier na buite gelok. Spiers was in daardie stadium in die huis besig om ʼn resep van haar tablet af neer te skryf.

Chantel Kershaw (Foto: Verskaf)

Een van die aanvallers het Spiers oorval en ’n vuurwapen op haar gerig. Die aanvaller het haar beveel om in die rigting van die kombuis te loop. Hy het Spiers se baadjie oor haar kop getrek, ’n lap in haar mond gedruk en haar voete vasgebind voor die aanvaller vort is.

Spiers het haarself losgewikkel. Sy het die tweerigtingradio gegryp en na buite gehardloop van waar sy die buurtwag en omliggende boere se hulp ontbied het.

Spiers het tot by die hek gehardloop terwyl sy oor die radio om hulp geroep het en gesien het hoe iemand met haar bakkie daar verbyjaag.

Haar dogter se liggaam is kort daarna in die motorhuis aangetref. Sy is verwurg.

Spiers glo Masuku moes lewenslank tronk toe gestuur word vir sy aandeel in haar dogter se moord.

“Enige ma sal vra vir lewenslank, maar niks sal haar kan terugbring nie.

“Ek het basies alles verloor.”

Spiers se man is vier maande voor die moord op haar dogter ná ’n siekbed oorlede.

Sy het kort daarna as intensiewesorgsuster afgetree. “Ek kon soveel lewens red, maar ek kon nie eers my eie kind se lewe red nie,” vertel sy nou.

  • Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die saak teen die twee oorblywende verdagtes wat van Kershaw se moord aangekla word, sal later vanjaar aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andre ·

n Lewe in die land is niks werd nie, dis asof roof diere die land oorgeneem het.

Jennifer ·

My vredebewaarder is altyd aan my sy sodra ek my voet by die deur uitsteek andersins is ek binne en sekuriteits hekke gesluit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.