‘Ek sal dit weer doen,’ sê Cameron

Ian Cameron (Foto: Verskaf)

Terwyl Bheki Cele, minister van polisie, in ʼn tirade uitgevaar het teenoor Ian Cameron, is twee vroue gekaap net sowat een kilometer van waar Cele besig was om gal te braak oor die vryheidstryd – wat glad nie op daardie tyd en plek relevant was nie.

Só sê Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by die drukgroep Action Society. Hy is Dinsdag deur polisielede – elk met R4-gewere gewapen – uit ʼn gemeenskapsaal in Gugulethu, Kaapstad, geboender, nadat ʼn konfrontasie tussen hom en Cele uitgebreek het. Cele het inwoners van Nyanga en Gugulethu ontmoet om oor polisiëring in dié woonbuurte te praat.

“Waar was hierdie beamptes toe die gekaapte vroue hulle nodig gehad het?” vra Cameron. “Die einste polisiebeamptes het Cele in ses voertuie na die gemeenskapsaal vergesel. Dit is ʼn skande.”

Die Ian-Cameron-sage het opslae gemaak, met menigte politieke figure en burgerlikes wat kommentaar daarop gelewer het. Die bekende musikant The Kiffness het selfs die konfrontasie in ʼn aansteeklike deuntjie verwerk.

Cameron wil egter nie hê die voorval moet  ʼn politieke debat word nie. Dit is vir hom uit die staanspoor  ʼn beginselsaak.

“Ek is die dag na die vergadering met die doel om namens die oorlewendes en families van slagoffers van geslagsgebaseerde geweld te gaan luister wat Cele te sê het. Ek het nie eintlik eers beplan om iets te sê nie, wat nog verskree en hardhandig uit die vergadering verwyder te word.”

Nadat Cele tydens die vergadering neerhalend na buurtwagte en plaaslike wetstoepassingsagentskappe verwys en gesê het dat hulle nie die grondwetlike mandaat het om misdaad te bekamp nie, het Cameron egter besluit hy kan nie langer stilbly nie.

Cele het onder meer gesê dit is ongrondwetlik om polisiemagte na provinsies en metrorade af te wentel. Dit terwyl die Grondwet duidelik anders stipuleer.

“Cele se uitsprake was teenstrydig met die Grondwet en sy eie beleidsraamwerke. Hy kan dus nie aanspraak maak dat die nasionale polisie die enigste grondwetlike mandaat het ten opsigte van gemeenskapsveiligheid, en dan misluk om dit uit te voer nie.

“Hy is heeltemal verwyder van die realiteit van dit wat op grondvlak gebeur. Die frekwensie van geweld in van die gemeenskappe is wesenlik. Hy besef nie hoe mense op grondvlak moet optree om gemeenskapsveiligheid te verseker, en dit sonder die nodige hulpbronne nie.

Ná Cameron se spreekbeurt het nog sprekers gepraat, voordat Cele die podium betree en die vergadering afgesluit het. Hy het eers in ʼn politieke tirade oor vryheidsgevegte uitgebars en toe teen Cameron uitgevaar.

“Hy het agter sy praatjies oor die vryheidstryd geskuil omdat hy geweet het hy kan my nie antwoord nie.”

Toe bars die bom.

Cele het vir Cameron geskree, “Jy beskou my as ʼn tuinjong. Bly stil! Bly stil! Sit en luister jong man, of gaan uit”. Cameron het “uit beginsel” geweier om die saal die verlaat. Dit is toe dat die polisie hom nader.

“Ek kan nie onthou hoe ek op daardie oomblik gevoel het nie, die adrenalien het my oorweldig. Al wat ek onthou, is hoe ʼn tannie wat by my gesit het, my hand vasgehou het. Daarna het ʼn groot polisieman my opgetel en saam met sy kollegas hardhandig uit die saal verwyder en na die motor begelei.”

Die video van die voorval het soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei en talle kommentare ontlok. Ten spyte van etlike negatiewe kommentaar en kritiek op Cameron, is hy nie spyt oor hoe hy die situasie hanteer het nie.

“Daar moet meer lig op die kwessie van misdaad gewerp word en ook hoe dit sekere gemeenskappe lamlê.”

Cameron is verstom oor die ondersteuning wat hy van die publiek en veral polisielede kry ná die voorval en het groot waardering daarvoor.

“Ek hoop dat hierdie voorval meer mense sal aanmoedig om hul stem dik te maak en kapsie teen politieke leiers te maak.”

Mense wat hom kritiseer oor sy optrede, daag Cameron nou uit om een dag in die skoene van ʼn misdaadslagoffers se familie te loop of op grondvlak te funksioneer. “Hulle weet nie hoe dit is om elke dag bloed te ruik, of hoe iemand lyk wat vier keer in die kop geskiet is nie. Dit is die realiteit.”

Cameron voel Cele het met die voorval meer skade aan sy eie reputasie gedoen en die ANC ontbloot vir wat hy werklik is. “Selfs van sy ANC-kollegas voel hy het hulle verneder met die manier hoe hy opgetree het.”

Cameron en Action Society het Donderdag vier klagte teen Cele en lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens ingedien en hoop dat die saak behoorlik ondersoek sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Roek ·

Baie geluk, jy het vir hom ‘n hele klomp pare skoene gegee en almal het hom gepas, sterkte met jou saak teen hulle en voorspoed

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.