Ekonomiese impak van EFF-betoging dalk eers later gevoel

Julius Malema spreek ondersteuners op Kerkplein toe (20 Maart 2023) (Foto: Twitter)

Die EFF se landwye betogings het nie ʼn onmiddellike impak op die ekonomie gehad nie, maar die ekonomiese impak hiervan kan wel moontlik in die volgende paar maande gevoel word.

Die rand het Maandag bestendig verhandel terwyl die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) ʼn goeie dag agter die rug het.

Volgens Riaan Grobler, finansiële adviseur by Everest Wealth, is dit positief dat daar pro-aktief deur die regering, die private sektor en burgerlike gemeenskap opgetree is om wet en orde te probeer handhaaf en dat die betogings uiteindelik nie tot grootskaalse ontwrigting, voorvalle van openbare geweld of plundery gelei het nie.

“Suid-Afrika se ekonomie kan nie ʼn herhaling van Julie 2021 se onluste bekostig nie, met die impak daarvan wat steeds gevoel word. Die groot impak van betogings en stakings word gewoonlik eers ʼn paar maande na die tyd gevoel met die algemene verbruiker wat uiteindelik daarvoor moet pa staan.”

Groot ondernemings het gebeurlikheidsplanne, waaronder verhoogde private sekuriteit, in plek gekry in afwagting op moontlik ontwrigting tydens Maandag se betogings terwyl verskeie ondernemings besluit het om eerder hul deure vir die dag te sluit uit vrees vir plundery, wat beteken dat daar wel mense was wat nie werk toe kon gaan nie. Lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is teen ʼn koste van meer as R166 miljoen ontplooi, sê Grobler.

“Die verbruiker gaan aan die einde van die dag hiervoor betaal. Die ontplooiing van die weermag raak die belastingbetaler se sak en plaas druk op die staatskas terwyl ondernemings se verhoogde spandering op private sekuriteit ook iewers ingereken gaan moet word waar die verbruiker dit gaan voel – minder winste beteken minder dividende.”

Grobler meen gewone mense raak ook al meer keelvol vir die ontwrigting wat met betogings en stakings gepaardgaan.

“Vrees vir wat moontlik tydens die betogings kon gebeur het, het tot gevolg gehad dat baie mense nie soos gewoonlik met hul dag voortgegaan het nie. Sommige mense het dalk besluit om eerder nie op die pad te wees nie uit vrees dat hul motors beskadig kan word.

“Ander het dalk eerder tuis gebly om moontlike openbare geweld te vermy. Die land kan nie ‘n enkele dag aan ‘n gebrek aan produktiwiteit afstaan nie. Ondernemings wat moes sluit en mense wat nie gaan werk het nie, het ʼn ekonomiese impak wat uiteindelik weer die verbruiker gaan beïnvloed, met byvoorbeeld lae of geen verhogings, wat nog te sê van ʼn bonus.”

Grobler voeg by betogings en stakings kan ook toeneem in aanloop tot volgende jaar se verkiesing en dit voorspel niks goed vir die ekonomie nie, aangesien dit tot gevolg kan hê dat werkloosheid verder styg, rentekoerse verhoog, die rand verswak en daar meer belasting betaal moet word weens inkomste wat die staat verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.