Elke oggend ʼn oproep; nou net stilte

Deodette en haar oorlede man, Dominic (Foto: Verskaf)

Dominic le Roux (35) het soggens met sy motorfiets werk toe gery en daarom het sy vrou, Deodette (40), hom elke weeksdag rondom 06:00 gebel om seker te maak dat hy veilig daar aangekom het.

Sowat twee maande gelede, op ʼn Maandagoggend in Desember, het sy foon egter net bly lui.

Deodette se grootste vrees het vroegoggend op 18 Desember ʼn werklikheid geword. Haar “man van 11 jaar, haar beer, haar alles”, is in ʼn tref-en-trap-ongeluk op die N1-Suid naby die R101-afrit in Kosmosdal in Centurion – skaars ʼn kilometer van sy werk – dood.

En ondanks die aanhoudende druk wat sy op die ondersoekspan plaas, het sy steeds geen antwoorde oor wie moontlik vir haar man se dood verantwoordelik is nie.

“Toe ek om 06:00 niks van hom hoor nie, het ek aanhou bel. Sy selfoon het steeds gelui. Omtrent ʼn uur daarna het iemand uiteindelik sy foon geantwoord…”

Die vreemdeling wat die foon beantwoord het, wou by Deodette weet wie praat. Sý wou weet hoekom iemand haar man se foon het.

Volgens Deodette het die vrou gevra wie haar man is. “Die een wat dood in die sloot lê?” het sy glo gevra.

Deodette is aangesê om dadelik na die ongelukstoneel te gaan, maar sy wou nie vir ʼn oomblik glo dat haar man dalk dood is nie.

“Ek het die owerhede gevra om my te laat weet waar die ongeluk plaasgevind het, want Dominic het verskillende paaie werk toe gery. Ek het egter eers omstreeks 08:00 ʼn ligging ontvang; dit was onakkuraat, want dit het ons na Eco Park gelei.”

ʼn Vriend en haar skoonma – en die pleegkind van net ʼn paar maande oud wat slegs vier dae tevore in haar en Dominic se sorg geplaas is – is saam met Deodette na die ongelukstoneel. Haar vriendin het daar vir haar gewag.

Sy onthou hulle het daar stilgehou, maar nie veel meer nie. Haar vriendin het haar later weer ingelig wat gebeur het.

Beamptes van die Ekurhuleni-metropolisie was glo op die toneel, sowel as beamptes van die Olievenhoutbosch-polisiestasie. Dominic se lewelose liggaam is reeds na ʼn voertuig geneem en die Tshwane-metropolisie is glo ook na die toneel ontbied.

Die ongelukstoneel (Foto: Verskaf)

Deodette wou haar man sien, maar ʼn beampte het haar glo bars weggewys.

“Maar dit is nie wat my ontstel nie; dit is nou al meer as twee maande sedert my man se dood en steeds het ek geen antwoorde nie.

“Die persoon wat in my man vasgery het, het hom net daar gelaat. Iemand moes iets gesien het, ons het op Facebook rondgevra, maar tot vandag het ek geen antwoorde nie,” sê Deodette.

Sy het die Olievenhoutbosch-polisiestasie reeds telkemale gekontak in haar soeke na antwoorde.

“In ʼn stadium het ek die ondersoekbeampte se persoonlike kontaknommer in die hande gekry. Hy het my uitgeskel daaroor, herhaaldelik gevra waar ek sy nommer gekry het en vir my gevra wie ek dink ek is om hom op sy persoonlike selfoonnommer te bel.

“Ek wou net graag die beeldmateriaal van my man se ongeluk sien. Ek wil hê die persoon wat verantwoordelik is vir die ongeluk – wat verantwoordelik is vir my man se dood – moet vasgetrek word.”

‘Foute’ op ongeluksverslag

Deodette sê sy het minstens twee foute op die ongeluksverslag opgemerk. Een was die kleur van Dominic se motorfiets – wat as swart en nie blou nie aangedui is – en die tweede was die ligging van die ongelukstoneel.

“Ek verstaan dat foute soms deurglip, maar as twee sulke simpel foute op die verslag gemaak is, wil ek nie weet hoeveel ander foute tydens die ondersoek gemaak is nie. Wat anders mis ons? Wat anders sien ons nie? Wat anders het hulle verkeerd op die verslag geskryf?”

Volgens die ongeluksverslag wat Maroela Media onder oë gehad het, voer die klaagster (onbekend aan Deodette) aan dat ʼn vragmotor in Dominic vasgery het. Dominic is glo op slag dood en die vragmotor het aanhou ry. Deodette sê sy het later wit verf op haar man se motorfiets opgemerk. Sy meen ook dit is duidelik dat ʼn swaar voertuig die motorfiets getref het.

Hein Botha, ʼn jarelange vriend van Dominic, was ook op die ongelukstoneel en het ʼn verslag vir die polisie saamgestel in ʼn poging om met die ondersoek te help. Botha het vroeër as voertuigassessor vir verskeie versekeringsmaatskappye gewerk en het risikobepalings en ongelukassesserings gedoen.

Tans werk hy as motorwerktuigkundige wat defek-ondersoeke doen.

“Daar was ongetwyfeld ʼn tweede party by die ongeluk betrokke,” meen hy.

Domonic se motorfiets na die ongeluk (Foto: Verskaf)

Sy verslag lui dat hy om 12:48 by die ongelukstoneel aangekom en dadelik twee kringtelevisiekameras, reg langs die plek waar Dominic en sy motorfiets aangetref is, opgemerk het. Een van die stelsels behoort aan Sanral I-Traffic en die ander aan ʼn private maatskappy.

Kort nadat hy stilgehou het, het ʼn beampte van die Tshwane-metropolisie hom glo genader.

“Die beampte het my gevra hoekom ek langs die snelweg by hierdie spesifieke plek stilgehou het. Ek het verduidelik dat my vriend, Dominic, vroeër die dag in ʼn ongeluk daar dood is en dat ek wou kyk of daar dalk kameras of enige ooggetuies is wat na vore sal kom.

Dié beampte het glo gesê hy was self vroeër op die toneel en dat Sanral hom oor die ongeluk ingelig het. Volgens die beampte sou Sanral die beeldmateriaal hê, aangesien hulle [Sanral] vir hom gesê het dat ʼn vragmotor betrokke was maar net weggery het.

Botha het daarna die hoof van sekuriteit by die private maatskappy gekontak en vir die beeldmateriaal gevra sodat hulle kan vasstel wat presies gebeur het. Dié persoon het later dieselfde dag bevestig die ongeluk het om 06:04 plaasgevind. Hy meen dit beteken die voorval kon op die beeldmateriaal gesien word.

“Sy het aangevoer dat hulle besig is om die beeldmateriaal vir ons reg te kry. Sy het egter kort daarna my boodskappe begin ignoreer en my oproepe het onbeantwoord gebly.”

‘My mens’ is weg

Domonic le Roux (Foto: Verskaf)

Deodette vertel dat sy en Dominic nooit kinders van hul eie kon hê nie. “Ons het tien miskrame deurleef, maar het nou ʼn sewe maande oue pleegsorgseuntjie en drie besonderse peetkinders, Janco, Aiden en Mischke.

“Ek praat nog steeds van ‘ons’ … my hart het nog nie vrede gemaak dat hy weg is nie.

“Ek weet daar is groter sake, goed wat belangriker is as my man se dood. Ons het nie kinders van ons eie gehad om te sê ‘hy laat sy vrou en kinders agter nie’.

“Maar hy was my mens en sy plek is nou bitter leeg.”

Vir haar geliefde Dominic het sy ook ʼn boodskap:

“Hoewel ek weet dat jy nou saam met ons ongebore kinders, ons pa’s, by ons mense en by ons hemelse Vader is, is ek jaloers want ek was en ek is nog steeds nie reg om jou te laat gaan nie…”

  • Maroela Media het navrae aan die Tshwane-metropolisie en die polisieondersoekbeampte gestuur. Terugvoer sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Madeleine ·

Breek my hart nou toe ek dit lees, Mag die Here jou omvou met Sy Vrede…

Prikkie ·

Motorfietsryers is uiters kwesbaar. Teen ‘n vragmotor het jy geen kans nie.

Kry vir Ian Cameron van Action SA betrokke of vra Afriforum se privaatvervolgingseenheid om te help.

Baie sterkte.

Bolandse Nooi ·

“Incompetence at the best” … dít is wat gebeur wanneer mense wat net-net basiese Engels kan verstaan, praat en skryf aangestel word in posisies waar dit van hulle verwag word om sekere inligting korrek oor te dra en werk korrek te doen. Ek is baie jammer vir u, Mev. Le Roux, maar u gaan u teen ‘n muur vasloop met die onbeholpe metro- en polisie-beamptes. Kry Ian Cameron/Action SA of Afriforum se privaatvervolgingseenheid aan u kant. Dit is deesdae lyk my al kans wat ons Jan Alleman het om die regering se onbeholpenheid aan te spreek.

Billy ·

Hy was jou alles en jou mooi. Jou Gods gawe.. sit Pa in sy plek en jou lewe sal met vreugde kan aangaan tot julle weer kan ontmoet

Goldy ·

Klink asof die vragmotormaatskappy ondersoekers omkoop of dreig, daars party wat dit gereeld doen. Gaan vang daardie moordenaars.

Kobus ·

Omtrent 2006 is my broer in ‘n motor ongeluk oorlede net uit die Daspoort tonnel. Dit was sy BMW, maar hy het nie bestuur nie omdat sy skoene voor onder die vloerplaat aan die linkerkant (Pasasiers Sitplek) vasgesit het en sy brein is agter die Passasier sitpklek gekry.

In de geregtelike ondersoek is hy blameer vd ongeluk omdat hy oorlede is. Die persoon wat lewe en die BMW bestuur het is nie aangekla nie. Korupsie is oral.
Probeer die ongeluk van jou wederhelf ondersoek sodat die skuldige aan die pen kan ry.

Swerwer ·

Baie sterkte en mag daar spoedig vordering gemaak word en die skuldige partye aan die pen ry.

Helena ·

Deodette jammer vir dit wat jy deurgaan!
@KOBUS……jammer vir jou verlies…. Ken Jul die skuldige? Gaan verder MD saak.
Ń vriendin van my was ook in erge ongeluk… Sy was die passasier van haar motor… Met die stamp het sy geheue verlies gehad en kon nie onthou Wie het haar Kar bestuur…. Wel op kameras gesien hoe ñ vriend van haar weg hardloop van die toneel en haar net so Los. Ook niks met hom gebeur na die tyd!

Martie Smartie ·

Ek stel voor Deodette kry dringend ‘n prokureur en stel ‘n eis in teen die Padongelukke Fonds. ‘n Assessor kan die saak ondersoek en dit moet dringend gebeur. Maroela Media kan hierdie detail vir haar gee e sy sal gehelp word. Hierdie is die beste assessors wat ons ook gehelp het met ‘n baie moeilike geval: [email protected]

Martie ·

Vergeet van Afriforum, hulle help net sekere mense. Die polisie sal ons nooit weer op kan staatmaak nie. Ek wag na meer as 2 jaar nog altyd om te hoor wanneer die GDO van my seun se ongeluk sal wees. In die tussentyd moes ek hoor die saak is gebêre sonder om ooit iets vir ons te laat weet. Korrupsie op sy beste.

Nici ·

Mag geregtigheid seevier en antwoorde gekry word!

Dominic was ‘n wonderlike man en het ‘n leemte agtergelaat wat niemand sal kan vul nie!

Nierkie ·

Dis hoekom ek my motorfiets verkoop het – daar is net te veel dinge wat ander padgebruikers doen elke keer wat jy op die pad is wat mens se lewe in gevaar stel. Mense voel net eenvoudig vere vir jou.

Wondermaarnet ·

Ek kry hierdie vrou so jammer. Mag die skuldige vasgetrek word en boet vir sy/haar dade!

Roek ·

Ja wat betref die kriminele aspek is dit so deurmekaar en so weisd soos die Here se genade, dit moet maar aangaan en kan jy aan die einde geraas maak, gaan voort met die Padongelukke fonds ies sodat jy en die kinders darem versorg is , dit is ‘n tref en trap en is dit in jou reg om ‘n eis in te dien vir onderhoud ens.

Melissa ·

So jammer om te hoor. Ons was Jan 2013 in n ongeluk en ons kind is oorlede (hy was 2 jaar oud).
Die skuldige loop vry rond en ons wag ook nog vir die RAF….
Sterkte vrou!! Dis nie maklik nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.