En die wenner van die ‘Die Kontrak 3’ is …

Chris Steyn (Foto verskaf deur die Coleske Groep)

Chris Steyn is pas tydens die eerste van ʼn reeks uitverkoopte Afrikaans is Groot-konserte by die Sunbet Arena Times Square in Menlyn, Pretoria, as die wenner van Die Kontrak 3 aangekondig.

Hy stap nou weg met ʼn platekontrak van R1 miljoen by Coleske Artists Management, waarvan Afrikaanse kunstenaars soos Riana Nel, Karlien van Jaarsveld, Jay en Ruan du Toit ook deel is.

Chris se nuwe kortalbum met sy wen-enkelsnit, “Helemal”, is ook op alle groot musiekstromingsdienste beskikbaar.

Demi Lee Moore, voormalige Die Kontrak-wenner, het as Chris se mentor opgetree.

Chris Steyn se pad met musiek het toevallig gekruis. Aanvanklik wou dié student van Stellenbosch ’n rugbyspeler of besigheidsman wees, maar dis om ’n kampvuur, met ’n bokskitaar in die hand waar dinge vir hierdie 19-jarige handomkeer verander het. Sy vriend en woonstelmaat het talent raak gesien en het hom ooreed om in te skryf vir Die Kontrak.

“Ek wou oorspronklik nooit inskryf vir Die Kontrak nie. My woonstelmaat het my een aand oortuig om die video te neem. Ek het toe gesê ek sal slaap daaroor en toe ek wakker word het hy reeds die video gelaai. Maar natuurlik is ek nou baie dankbaar daarvoor,” het Chris gesê.

Demi Lee is in die wolke dat haar deelnemer met die louere weggestap het. “Ek kan nie meer trots op Chris wees nie, ek kan nie wag om te sien hoe sy loopbaan blom nie.” het Demi Lee gesê.

Die kunswerk vir Chris se enkelsnit. (Foto: Facebook/Die Kontrak)

Mirandi Mörsner, met engelstemsanger Tarryn Lamb as mentor, is as die naaswenner van die kompetisie aangewys.

Dié sangkompetisie het ook voorheen die sangloopbane afgeskop van Ivan Roux, Samantha Leonard en Dodo Nyoka, wenners en naaswenners van die eerste en tweede seisoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.