Enkele masels-gevalle in Pretoria aangemeld

Argieffoto (Foto: Adriano Gadini/Pixabay)

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, vra vir kalmte en waaksaamheid ná gevalle van masels in Gauteng opgemerk is tydens roetine-opnames.

Phaahla sê vier gevalle van masels is tydens die laaste twee weke van Mei in Gauteng bevestig deur die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios). “Drie van dié gevalle is persone wat in Pretoria bly. Dit beteken dat daar ʼn uitbreking van masels in Pretoria is. Die vierde geval was ʼn persoon wat aan die Wes-Rand van Gauteng woon.”

Al vier persone is in isolasie geplaas en is besig om aan te sterk.

Die gesondheidsowerhede in die betrokke distrikte en gemeenskappe werk saam om kontakpersone se inentingstatus na te gaan. Minister Phaahla het ouers en versorgers gemaan om seker te maak dat hul kinders se inentingstatus op datum is volgens die skedule teen masels en ander kindersiektes.

“Masels is ʼn hoogs aansteeklike siekte wat deur ʼn virus veroorsaak word. Dit word versprei deur druppels in die lug van besmette persone wanneer hulle hoes of nies. Die masels-entstof is egter al byna 60 jaar lank in gebruik en is die beste beskerming teen dié lewensgevaarlike kindersiekte. Dit is veilig, doeltreffend en gratis beskikbaar by gesondheidsorgfasiliteite.”

Masels se simptome sluit in koors, rooi oë, ʼn loopneus en ʼn hoes voor die siekte se kenmerkende uitslag. Kinders jonger as een jaar oud kan ernstige simptome soos longontsteking of probleme met hul sig ontwikkel, of in uiterste gevalle ook breinontsteking. Kinders wat nie ingeënt is nie het die hoogste risiko om komplikasies te ontwikkel insluitend breinskade en dood.

Phaahla sê beamptes van sy departement werk saam met die Tshwane-munisipaliteit, Nios en ander belanghebbendes, insluitend die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en Unicef om die uitbreking te ondersoek en daarop te reageer.

Volgens die Suid-Afrikaanse Uitgebreide Program oor Immunisering (UPI) word kinders op ses maande en 12 maande teen masels ingeënt. Masels is ʼn aanmeldbare siektetoestand kragtens die Wet op Nasionale Gesondheid en personeel by klinieke is in kennis gestel oor simptome waarvoor hulle op die uitkyk moet wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Marius ·

As ek dit nie mis het nie het die meeste mense wat die aarde bewandel masels gehad in hul kinderjare. Dit lyk of die WGO ook nou besig is om mal te word. Miskien moet ons verkoues en maag ook aanmeld.

VaalDonkie ·

Ek onthou ek het dit gehad toe ek so 4 jaar oud was. Ek het gedog my ouma praat van “muscles” he. Ek was baie siek, maar ook baie in my noppies met my “muscles” soos Hulk Hogan s’n.

RB ·

Ag werklik!! Ja, ja as kind is ons almal geënt teen verskeie kindersiektes. Dokters was dit eens, dis beter vir kinders om wel die siektes te kry, as kind, eerder as dit vryspring en as volwassene dit in veel erger graad kry.

Nou wil hulle dit laat klink of hier al weer ‘n krisis op hande is wat deur ‘n virus veroorsaak word.

Wat wil julle bereik?
‘n Siekte-vrye samelewing is nie’n opsie nie, dis nie moontlik nie.

Leon ·

Berard, Marius, met watter grondige kennis wat julle wáár gekry het betwis julle die dokters se diagnose? WhatsApp bogstories.? Inentings, watersuiwering, antibiotika en pasteurisasie v melk is saam die grootste grootste bydraes tot die verbetering vd openbare gesondheid…………..en ek hét die kennis om die stellings te maak.

VaalDonkie ·

Gister op die radio seg ‘n dokter:”Vitamien C help nie vir verkoue of griep nie”.

Nie Verbaas ·

Phaahla en jou punt is? Masels was algemeen toe ons kinders was. Het jy nou weer vir te lank niks te sê gehad nie?

Witbaard ·

Hulle soek nou n ander rede om voort te gaan met die “maskerbal”

Adri ·

Dit sal interessant wees om te weet of die persone wat nou masels kry, die covid-inspuiting gehad het.

Miena ·

Ek lees “Phaahla sê vier gevalle van masels is tydens die laaste twee weke van Mei in Gauteng bevestig” en lees dan “om die uitbreking te ondersoek en daarop te reageer”. So nou verstaan ek nie lekker nie – na net 4 gevalle – geisoleerd in GP alleenlik – en niks in MP/L/NW/KZN en elders in SA nie – word dit nou as n uitbreking beskou?
Ek weet ons het as babas / kinders inentings gehad (wel die meeste van ons anyway) teen die goete (polio/pokke/witseerkeel/e.a.) en dat daar enkele gevalle mag voorkom. Ek het nog my blommetjie merk op my regter bo-arm om dit te kan bewys. Was daar toe ook anti-vaxxers? Wag n bietjie – so die merkings het baie jare gelede al begin – het nie nou eers met die covid inentings begin nie…wonder ek nou eweskielik wat sou my oorle ouma en oupa gese het…
“Al vier persone is in isolasie geplaas en is besig om aan te sterk” Dis baie goeie nuus – is dit kinders of volwassenes?

Pietertjie ·

Is dit nou die sesde vlaag, of die sewende een? Ek verloor tred.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.