Enrico het dalk in kattebak aan die slaap geraak

Klein Enrico Snyders (Foto: Facebook)

Die sesjarige seuntjie wat dood gevind is in die kattebak van sy ouers se motor, het moontlik aan die slaap geraak terwyl hy daar gespeel het.

Enrico Snyders is op 26 Maart in die motor se kattebak aangetref op die gesin se kleinhoewe in die omgewing van Springs.

Volgens Esme Strauss, ʼn jarelange familievriendin wat as familiewoordvoerder optree, het die polisie aan Marie en Willem Snyders, Enrico se ouers, gesê dit lyk of hy met speelgoed in die kattebak gespeel en moontlik aan die slaap geraak het. Daar was geen tekens dat hy desperaat geveg het om uit die kattebak te kom nie.

Die presiese oorsaak van sy dood, of dit moontlik weens versmoring of hitte-uitputting was, sal eers bekend wees sodra die verslag van die nadoodse ondersoek beskikbaar is.

Geen misdaad word vermoed nie en die dossier van die geregtelike ondersoek na Enrico se dood sal nou na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gestuur word vir ʼn beslissing.

ʼn Kissie met Enrico se as is Donderdag aan sy ouers oorhandig. Solidariteit Helpende Hand se terapiesentrum sal volgende week met berading vir Enrico se ouers en sussie begin.

Enrico het die betrokke Sondagmiddag vir sy ma gevra of hy buite mag gaan speel. Toe sy later na Enrico roep en hy nie antwoord nie, is sy ouers na buite om na hom te soek.

“Hulle kon hom nie vind nie. Hulle het in die kar geklim om te gaan kyk of hy nie dalk weggedwaal het nie. Dit is toe dat Enrico se mamma ʼn stuk materiaal by die kattebak sien uitsteek. Hulle het die kattebak oopgemaak en Enrico daarbinne gekry,” het Strauss vroeër gesê.

Die ouerpaar het dadelik met hul jongste na ʼn hospitaal gejaag waar hy dood verklaar is.

Enrico was ʼn gr. 1-leerder aan Laerskool Jan van Riebeeck in Springs.

“Hy was net ʼn liefdevolle kind, vol lewe,” onthou Strauss. “Hy was net hierdie mooi seuntjie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.