Equal Education, Sadtu se aansoek oor Wes-Kaapse skole misluk

(Argieffoto: Verskaf)

Deur Tania Broughton, GroundUp

Die organisasie Equal Education en die onderwysvakbond Sadtu het misluk in hul poging om dele van die Wes-Kaapse provinsiale wysigingswet op skoolonderwys te betwis.

Regter Andre le Grange het in die Kaapstadse hooggeregshof beslis dat die wet, wat voorsiening maak vir sogenaamde samewerkingskole, skenkerskole en intervensiefasiliteite, strook  die Grondwet en die Suid-Afrikaanse Skolewet (SASW).

EE en Sadtu het die wetgewing in afsonderlike aansoeke betwis, maar weens die gemeenskaplike kwessies is dit saam aangehoor.

Die wet maak voorsiening vir:

  • samewerkingskole: openbare skole waar nie-winsgewende organisasies met die onderwysdepartement saamwerk om bykomende vaardighede en hulpbronne te verskaf;
  • skenker-gefinansierde skole, wat deur winsgewende entiteite befonds word; en
  • intervensiefasiliteite, wat rehabilitasie bied aan leerders wat aan ernstige wangedrag skuldig bevind word.

Le Grange het in sy uitspraak gesê die wet is ingestel om aandag te gee aan onvoldoende openbare finansiering wat die provinsiale departement se vermoë om sy mandaat na te kom belemmer het, leerders swak toegerus het, onderwysers sonder die nodige vaardighede gelaat het en skool-leierskap en -bestuur swak laat funksioneer het.

Die doel was om die bestuursmodel vir gewone openbare skole te hervorm en die regter sê ʼn loodsprojek vir ʼn samewerkingskool het aansienlike sukses behaal.

Equal Education en Sadtu het aangevoer die wetgewing het verskeie grondwetlike gebreke, selfs al het die nasionale minister van onderwys dit goedgekeur en gevolglik nie aan die hofsaak deelgeneem nie.

Hulle het ook hul kommer te kenne gegee oor die samestelling van skoolbeheerliggame, met die bedryfsvennoot of skenkers wat 50% van die setels gegee word en ouers en leerders minder insae gee.

Le Grange het egter bevind dit is nie die geval nie.

Die LUR het nie onbeperkte mag hieroor nie en is gebonde aan wetgewing oor die verskillende kategorieë van skoolbeheerliggame.

Die wetgewing gee ook nie onbeperkte mag aan die LUR om ʼn openbare skool in ʼn samewerking- of skenker-gefinansierde skool te omskep nie. ʼn Beheerliggaam kan die omskakeling in die beginstadium van die proses ook teenstaan.

Selfs belangriker, het die regter bevind, is dat die LUR ook openbare kommentaar moet vra en dat die mening van die publiek die koers bepaal.

“As die wetgewing binne konteks gelees word, kan die identifisering van ʼn samewerkingskool of skenker-gefinansierde skool slegs plaasvind as dit die belange van onderwys bevorder, waaronder die beste belange van die minderjarige kind,” het die regter bevind.

“Die LUR het die stappe wat vir omskakeling vereis word, volledig uiteengesit.”

Oor die intervensiefasiliteite het Le Grange bevind Equal Education en Sadtu het aangevoer die skole is “regressief, te drasties en verouderd” en dat hulle dit gelykstel aan verbeteringskole, nywerheidskole en plekke van veiligheid.

Equal Education en Sadtu het kwessies soos stigmatisering geopper en gesê om ʼn kind na só ʼn fasiliteit te verwys, is ʼn vorm van aanhouding – “ʼn strafmaatreël wat hoftoesig vereis”.

Die LUR het dié fasiliteite egter beskryf as deel van ʼn bestaande stelsel in die Wes-Kaap, die sogenaamde pad na gedragsondersteuning, wat voorsiening maak vir eskalasie na hoër vlakke van gesag indien ingrypings op laer vlakke nie die probleem oplos nie.

Die verwysing van ʼn leerder na ʼn intervensiefasiliteit word ingevolge wetgewing moontlik gemaak en is net nog ʼn manier vir leerders om ondersteuning te ontvang, het die LUR verduidelik.

“Die wet, saamgelees met die Grondwet en die Kinderwet, skep voldoende leiding en daar is geen redelike gevaar dat ʼn besluit om ʼn kind na ʼn intervensiefasiliteit te verwys, ʼn grondwetlike reg sal beperk nie,” het die regter gesê. “Dit kan slegs geneem word as dit in die beste belang van die kind is.”

Oor die kwessie van stigmatisering het Le Grange gesê die doel van intervensiefasiliteite is om skorsing te vermy, gedragsprobleme op te los en kinders suksesvol by die skool te herintegreer.

“Die alternatief is skorsing wat gepaard gaan met sy eie risiko van stigmatisering en uitsluiting en, nog belangriker, sal dit nie die onderliggende gedragsprobleme oplos nie.

“Dit is moeilik om te verstaan waarom Equal Education kla oor intervensiefasiliteite terwyl hy uitsetting as ʼn geldige vorm van sanksie aanvaar.”

Die regter het gesê ʼn verwysing na ʼn koshuisfasiliteit kan nie as ʼn vorm van aanhouding gesien word nie.

“Leerders is nie ‘ingeperk’ nie; hulle kan vertrek wanneer hul ouers so verkies, net soos in die geval van ʼn kosskool.”

Le Grange het Equal Education en Sadtu se aansoeke van die hand gewys en die partye gelas om hul eie koste te betaal.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en ʼn verkorte weergawe word met vergunning hier gedeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Spookasem ·

These woke, under-qualified, lazy teachers and their unions/organisations is one of the prime reasons our kids are receiving below par or NIL education and even less discipline! End result are kids that will become just more ‘useless’ eaters SASSA grantees – all at the taxpayer’s cost. That they actually went to court to break the little bit that still works of the WC’s schools is beyond belief. You are disgusting leeches upon society. Do your jobs with pride, integrity. Our kids matter far more than your politically woke shenanigans. Uuuggh, shame on you. Well done judge, well done!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.