Eskom appelleer oor munisipaliteit se bankrekening

Argieffoto: GCIS

Eskom het ʼn aansoek om verlof tot appèl ingedien nadat beslis is dat hy die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit in die Oos-Kaap se bankrekening onmiddellik weer aan die munisipaliteit moet vrystel.

Die kragvoorsiener het in Julie die munisipaliteit se bankrekening laat vries sodat hy onbetaalde skuld deur die munisipaliteit kan verhaal. Eskom het kort daarna ook ingestem om R90 miljoen van die munisipaliteit se gevriesde fondse beskikbaar te stel sodat die munisipaliteit sy werknemers se salarisse kan betaal en ander lopende koste kan dek.

Die hooggeregshof in Bloemfontein het egter Vrydag beslis Eskom moet die munisipaliteit se bankrekening en die geld daarin onmiddellik vrystel.

Stefanie Jansen van Rensburg, woordvoerder van Eskom, het gesê die kragvoorsiener het die munisipaliteit se bankrekening aanvanklik laat bevries om ʼn gedeelte van die R5,4 miljard wat die munisipaliteit aan hom skuld te verhaal. Die hofbevel is reeds in 2018 bekom nadat munisipaliteit herhaaldelik versuim het om sy verpligtinge teenoor die kragvoorsiener na te kom.

Eskom het nou ʼn aansoek om verlof tot appèl teen Vrydag se uitspraak ingedien aangesien die munisipaliteit se voortdurende wanbetaling volgens Jansen van Rensburg lei tot ʼn verdere eskalering van hul agterstallige skuld.

“Dit hou ook ʼn ernstige bedreiging vir Eskom se finansiële lewensvatbaarheid en die voortbestaan van die kragvoorsiener in. Die munisipaliteit se toenemende skuld dwing Eskom om drastiese stappe te doen om hierdie onmiskenbare risiko die hoof te bied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter ·

Howe is ‘n klug en sirkus. Van bakboord na stuurboort gestuur teen ‘n prys vir die belastingbetaler.

Blikkantien ·

Laat onafhanklike kragvoorsieners toe om ook by te dra tot die netwerk

George ·

Dit is darem n hele klomp geld vir so klein dorpie vir salarisse!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.