Eskom is Persklub se grootste ‘nuusmaker’

(Foto: Natsuki via Unsplash)

Eskom is Donderdagaand as die Nasionale Persklub se “nuusmaker” van die jaar aangewys vanweë die wye nuusdekking oor onder meer beurtkrag, onbestendige leierskap en sabotasie in dié staatsbeheerde onderneming.

Die toekenning, wat jaarliks sedert 1980 gedoen word, is gebaseer op al die mediadekking wat ontvang is, asook die uitwerking daarvan.

“Benoemings en motiverings word van lede van die persklub ontvang en ’n finale besluit word deur die dagbestuur van die klub geneem,” sê klubvoorsitter Antoinette Slabbert.

“Die nuusmakertoekenning is nie ’n toekenning of kritiek nie, maar verteenwoordig die oorheersende temas van die 2022-nuussiklus. Ná die verergering van beurtkrag (selfs tot by fase 6), leierskapsonstabiliteit by Eskom, berigte van sabotasie binne Eskom en die ontplooiing van militêre magte by sommige Eskom-aanlegte te midde van stygende koste rakende Eskom se vermoë om krag op te wek, was dit geen verrassing dat Eskom as die nuusmaker vir 2022 aangewys sou word nie.”

Slabbert sê dit was ’n “maklike besluit” aangesien almal in die land hulpeloos toegekyk het hoe voortslepende kragonderbrekings die lewensbestaan van baie Suid-Afrikaners en ondernemings beïnvloed of verwoes.

“Alle oë is op pres. Cyril Ramaphosa terwyl die land voortgaan om teen hierdie meedoënlose onderbrekings te veg. Hy was die leier van Eskom-sake gedurende die ‘nege vermorste jare’ en het voortgegaan om toesig te hou oor die administrasie waaronder Eskom val.”

Verskeie ander toekennings is ook Donderdagaand in die kategorie “joernalis van die jaar” gedoen, onder andere aan die Afrikaanse joernalis, Anton Meijer. Dié gesoute Pretoria FM-joernalis het met twee toekennings weggestap.

Die eerste een was vir indiepteverslae, ondersoekende joernalistiek en aktualiteit in radionuus.

Anton Meijer, ‘n Pretoria FM-joernalis, het met twee toekennings weggestap. (Foto: Pretoria FM)

Die tweede toekenning was vir uitnemendheid in gemeenskapsjoernalistiek (radio, nuus, indiepteverslae en ondersoeke).

Meijer, wat soggens as nuusleser op Klankkoerant-oggend op Pretoria FM gehoor kan word, is ook ’n verslaggewer wat veral lief is vir politiek.

“Sy skerp humorsin en kennis oor provinsiale- en nasionale nuusgebeure maak hom veral geliefd,” het Pretoria FM oor Meijer gesê.

Meijer sê dit is ’n groot voorreg om die toekennings te ontvang.

“Dis vir my ’n riem onder die hart dat onafhanklike Afrikaanse media ook erkenning kry vir die werk wat daagliks onder moeilike omstandighede gedoen word. Baie dankie aan die Nasionale Persklub vir die geleentheid.”

James Kemp, Klankkoerant se hoofredakteur, sê die hele span is baie trots op Meijer.

“Die toekennings is ’n pluimpie vir sy harde werk en die gehalte van joernalistiek wat deur Pretoria FM gelewer word.”

Nog wenners:

  • Christelle du Toit (radionuus)
  • Zikhona Tshona (TV-nuus)
  • Die span van The Devi Show (ondersoekende joernalistiek en aktualiteit, asook die joernalis van die jaar-toekenning)
  • Jabulani OA Afrika (TV-kamerapersoon)
  • Sikonathi Mantshantsha [voormalige Eskom-woordvoerder] (mediaskakelbeampte van die jaar)
  • Catherine White (gedrukte en aanlyn nuus)
  • Hamilton Wende (gedrukte en aanlyn nuus / ondersoekende joernalistiek)
  • Sandile Ndlovu (gedrukte en aanlyn fotografie)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Althes ·

Ek kan nie mooi lees nie: Is Eskom die berugste nuusmaker van die Jaar?

Republikein in die Wes Kaap ·

Iets is verkeerd met ons media. Skande.

Duck ·

Dis nou nie juis n prestasie nie. Dit is n verleentheid. Sies!

Owlie ·

Dis n skande dat so iets in n kompetisie moet verander wat eintlik net gebruik word as diversion vir die Zuma en Ramaphoza sake wat skielik dood geloop het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.