Eskom ’n ‘boelie’ wat Frankfort se ligte wil afhou

Een van Rural Maintenance se sonplase in die Vrystaat. (Foto: Verskaf)

Dit lyk of Eskom alles in sy vermoë gaan doen om Frankfort, wat danksy vier sonplase bedags self genoeg krag opwek om aan die meeste van die dorp se krag behoeftes te voldoen wanneer die son skyn, se ligte nietemin af te hou.

Rural Maintenance, die kragverspreider wie se sukses oënskynlik ʼn al hoe groter doring in die sukkelende Eskom se vlees word, is in ʼn hofstryd met die kragvoorsiener gewikkel omdat Eskom daarop aandring dat die dorp by sy vasgestelde beurtkragskedules hou.

Rural lewer danksy sy sonplase op Frankfort en Tweeling krag aan 4 759 huise, sakeondernemings en groot nywerheidsgebruikers. Nadat dit teen Desember duidelik geword het dat beurtkrag nie binnekort iets van die verlede gaan wees nie, het Rural ook planne begin beraam om die negatiewe uitwerking daarvan op sy kliënte te verminder.

Die maatskappy het pasgemaakte skedules vir groot en klein gebruikers opgestel en die skedules só uitgewerk dat die dorp se water- en sanitasie-infrastruktuur nie deur beurtkrag geraak word nie, sê Chris Bosch, uitvoerende hoof van Rural.

Die probleem met rioolvuil wat in die rivier oorloop op pad Vaaldam toe en waterpompe wat gaan staan wanneer beurtkrag inskop, was iets van die verlede.

Vir Eskom was dit oënskynlik een te veel.

Die kragvoorsiener voer aan dat die nasionale netwerk beskadig word omdat Rural nie by die vereiste beurtkragskedule hou nie. Hoe dit beskadig word, is onduidelik.

(Grafika: Rural Maintenance)

“Bedags gebruik ons die krag wat ons self opwek en snags of wanneer dit bewolk is [wanneer die sonplase nie krag kan opwek nie], hou ons by die beurtkragskedule soos Eskom vereis,” sê Bosch.

“Daar is geen manier dat ons die netwerk ontstabiel maak nie. Daar is geen logiese verduideliking hiervoor nie.”

Bosch sê hulle sal die sonplase bedags noodgedwonge moet afskakel om beurtkrag toe te pas as Eskom sy sin kry – Eskom wil ook nie die surplussonenergie verniet hê nie, selfs al lewer hul sonkragstelsel in hierdie tyd genoeg krag om aan inwoners  se kragbehoeftes te voldoen.

Die maatskappy het die Johannesburgse hooggeregshof dus verlede week met ʼn dringende aansoek genader om uitsluitsel oor die kwessie te kry. Uitspraak is voorbehou.

Tog het dit Eskom nie gestuit nie om, hangende die uitspraak, opnuut ʼn aanmaning aan Rural te stuur waarin hy gewaarsku word dat Eskom sélf beurtkrag sal afdwing indien Rural dit nie dadelik doen nie.

Die aanmaning lui dat Rural “geen reg het nie” om sogenaamde “voiding” toe te pas nie. “Voiding” is ʼn proses om alternatiewe energiebronne, wat nié van die staat afkomstig is nie te gebruik om op te maak vir kragtekorte, soos tydens beurtkrag.

Eskom se regspan waarsku Rural in die aanmaning dat hy “gedwing sal word om self beurtkrag in die Mafube-munisipaliteit toe te pas” en dat Rural beurtkrag moet toepas, ongeag die hangende hofuitspraak.

“Hulle probeer ons ten alle koste stop, klaarblyklik sodat die gemeenskap nie voordeel uit die son kan trek nie.

“As hulle dit met óns kan doen, kan Eskom naderhand vir almal met sonpanele sê om dit af te skakel tydens beurtkrag omdat ander mense nie krag het nie,” sê Bosch.

Waar is die sin hieraan? Ek weet nie wat Eskom wil hê nie, ek is eintlik stomgeslaan.

Rural se syfers vir Donderdag wys byvoorbeeld dat hy op dié dag 530 kW by Eskom ontvang het, en 3 200 kW self opgewek het. “Hoekom moet ons dan mense se krag afsit?” sê Bosch.

Hy vermoed die motivering vir Eskom se aandrang dat beurtkrag ingestel word in ʼn gebied wat grotendeels in die dag aan sy eie kragbehoeftes kan voldoen, is toenemend polities. “Ek dink hulle wil verhoed dat mense sien hulle hoef al hoe minder op die staat te steun,” sê Bosch.

Die Mafube-munisipaliteit, wat Frankfort bedien, het dit ook skriftelik en duidelik aan die hof gestel dat hy nié deel van Rural se aansoek vorm om die ligte self aan te hou nie. ʼn Amptenaar van die nasionale tesourie se advies aan Mafube was klaarblyklik ook om die hooggeregshof te nader om die maatskappy se kontrak ter syde te laat stel.

“Dit is duidelik die probleem met ons gaan baie hoër op in die regering as bloot die Vrystaat. Ek verstaan egter glad nie hoekom nie,” sê Bosch.

Groeiende steun

(Foto: Rural Maintenance)

Hoewel Rural en die inwoners van Frankfort vir Eskom tot dusver eintlik op hul eie die stryd aangesê het, kry hulle nou al hoe meer steun om hul afhanklikheid van Eskom te verminder.

Kevin Mileham, die DA se woordvoerder oor minerale hulpbronne en energie, en Ghaleb Cachalia, sy eweknie by openbare ondernemings, het Frankfort vandeesweek besoek om daar met inwoners te vergader oor hoe Eskom klaarblyklik hul pogings om hulself teen beurtkrag te verskans, in die wiele probeer ry.

Mileham en Cachalia het onder meer met Rural, die Mafube-sakeforum en die Mafube-munisipaliteit vergader.

“Afhangende van die uitspraak in die hofaansoek, is die DA gereed om by Rural Maintenance en die inwoners van Frankfort aan te sluit in enige opeenvolgende hofsake terwyl hulle begin om hulself te bevry van Eskom se beurtkrag,” het die DA-LP’s gesê.

Die DA sê Eskom tree op soos die “speelgrondboelie” terwyl hy probeer om Frankfort in ʼn greep van beurtkrag te hou.

Boonop is daar ʼn dawerende stilte van ministers in die energiegroepering of ʼn opdrag aan Eskom om Frankfort toe te laat om sy energie in vrede op te wek.

“Pleks van steun gee aan Frankfort se pogings om beurtkrag te verminder en die las op die reeds beperkte nasionale netwerk te verminder, sal Eskom eerder sy monopolie beskerm as om bykomende opwekkingskapasiteit te verwelkom.

“Die DA het ʼn duidelike boodskap aan belanghebbendes op Frankfort gegee: Ons gaan nie toelaat dat Eskom hulle boelie nie en ons is bereid om alles moontlik te doen om te verseker hulle baat by hul plaaslike kragbronne.”

Hof gee hopelik verligting

Bosch sê hulle hoop die hof kyk na die praktiese kwessies en nie na die “bangpratery dat die netwerk ineen gaan stort as gemeenskappe self nuwe kapasiteit by die netwerk voeg nie”.

“Eskom en die land benodig nuwe opwekkingskapasiteit. En ons het baie daarvan nodig.”

Bosch sê dit is onverklaarbaar dat Eskom hulle wil straf omdat hulle self iets aan die benarde kragsituasie wil doen.

“Dit is heeltemal waansinnig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.