Eskom ontvang toe nié Tshwane se betaling

(Foto: Zakysant via Wikimedia Commons)

Die Tshwane-metroraad is wéér diep in die skuld by Eskom nadat die metroraad glo nie sy R1,6 miljard-rekening ten volle betaal het soos ooreengekom nie.

Eskom het Vrydag in ʼn verklaring gesê dat die metroraad slegs R492 miljoen van sy rekening betaal het.

Dít volg nadat Randall Williams, burgemeester van Tshwane, aangedui het dat dié rekening op 16 September vereffen is. Lindela Mashigo, woordvoerder van die Tshwane-metro, het Vrydag aan Maroela Media bevestig dat die munisipaliteit wel nog R1,1 miljard skuld.

Die stad en Eskom het ʼn betalingsooreenkoms waarvolgens die munispaliteit daaglikse betalings moet maak om sy skuld te delg. Eskom het reeds aan die begin van verlede maand oorweeg om die metro se krag af te sny om betaling te verseker.

Eskom sê hy het Vrydag met die metro se bestuurspan vergader en hulle versoek om die uitstaande balans vandag nog te betaal. Dit was een van vele vergaderings oor Tshwane se agterstallige skuld. Die nasionale tesourie is ook geken in die saak om die dispuut te fasiliteer.

Mashigo sê die metro het aan Eskom ʼn betalingsplan vir die uitstaande R1,1 miljard gegee, wat “standaard praktyk in munispale sake” is.

Eskom het egter in sy verklaring aangedui dat dié plan van die hand gewys is.

“Die munisipaliteit se wisselvallige betaalpatroon is ʼn verbreking van die kragvoorsieningsooreenkoms (ESA) met Eskom, wat ʼn verwoestende uitwerking op Eskom se kontantvloei het.”

Mashigo sê die metro het self kliënte wat nie betalings nakom nie, en dat reëlings ook in dié verband getref is.

“Ons moedig ons kliënte aan om hul rekeninge betyds en ten volle te betaal sodat ons Eskom betyds kan betaal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann ·

Solank ALMAL wat op die top 5 agterstallige lys is ook gedreig word?

Chris dupreez ·

Hoekom het Randall Wiliams gesê die geld is betaal, as hy geweet het dit is nie betaal nie. Dat hy so openlik in die media lieg sonder om n oog te knip. Hy hoort in die anc.

Antie Sarie ·

Waarom word dit vir die publiek gese? Waarom kry Tshwane hoegenaamd n rekening? Beide is Tshwane en eskom is regerings instansies. Werk hulle nou teen mekaar?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.