Eskom-werker vas wat ook tender het

Die Valke het Thandi Ruth Magagula aangekeer. (Foto: SA Polisie)

ʼn Veiligheidsrisikobestuurder van Eskom is in hegtenis geneem nadat sy, terwyl sy dié pos beklee het, ook die direkteur van ʼn maatskappy was wat dienste aan Eskom gelewer het.

Die Valke het Thandi Ruth Magagula (40) Vrydag in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery.

Eskom het Magagula in Julie 2015 as risikobestuurder aangestel, terwyl sy terselfdertyd ʼn direkteur van die maatskappy Montoza Engineering and Project 9 was, sê kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke.

Nadat hierdie inligting aan die lig gekom het, is die saak by die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) aangemeld. Die eenheid se ondersoek het vasgestel dat Magagula versuim het om hierdie botsing van belange aan Eskom te verklaar en die saak is na die Valke vir verdere ondersoek verwys.

Dié eenheid het vasgestel dat Magagula ʼn wanvoorstelling op Eskom-vorms en tenderdokumente gedoen het en dat haar optrede gelei het tot ʼn verlies van byna R59 000 vir Eskom.

Die ondersoek is afgehandel en die saak na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) vir ʼn besluit verwys. ʼn Lasbrief vir Magagula se inhegtenisneming is gevolglik uitgereik en sy is Vrydag aangekeer. Sy het reeds in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof op Middelburg verskyn waar borgtog van R10 000 aan haar toegestaan is.

Die saak is tot einde Maart uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.