EU sitruswet ‘suiwer politiekery’

Baie werksgeleenthede in die sitrusbedryf sal in gedrang kom indien die EU se nuwe wet van krag kom. (Foto: Vaalbos Trust)

Die deurlopende pogings van die Europese Unie (EU) om struikelblokke in die weg van die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf te plaas, wat kan verhoed dat hy sy uitvoerkontrakte kan nakom, is op die spits gedryf met ʼn splinternuwe wet wat die EU wil afdwing.

Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (CGA), het aan  Maroela Media gesê hierdie is weer eens suiwer politiek.

“Ons het inderwaarheid ʼn goeie verhouding met die lande se invoerders en mark, maar daar is drukgroepe in dié bedryf wat probeer om relevant te bly en ons probeer uitwerk.

“Snaaks genoeg het hulle nie probleme om suurlemoene en pomelo’s by ons te koop nie, dit gaan oor lemoene en mandaryne.”

Tans kruis hulle swaarde oor ʼn reuseverskeping van duisende ton lemoene met ʼn waarde van meer as R600 miljoen, wat reeds op die water is op pad na Europa.

CGA sê die wet behels dat nuwe kouebehandelingsregulasies afgedwing word, wat eerstens onwetenskaplik is en tweedens die lemoene skade sal aanrig. Boonop is die wet op 21 Junie gepubliseer en sal teen 14 Julie van krag word, wat dit onmoontlik maak om daaraan te voldoen. Die bedryf het slegs 23 dae gekry om om aan die nuwe wet te voldoen en boonop is daar reeds duisende ton vrugte op die water.

“Hulle het ʼn probleem met ons vlakke van swartvlek en vals kodlingmot. Ons het egter al telkemale bewys dat dit [die sitrus] binne hul perke is en selfs laer is op die lemoene vanuit ander lande wat hulle invoer,” sê Chadwick.

“Wat ek nie verstaan nie, is dat hulle eintlik probleme moet hê met die sitrus wat van Turkye, Egipte en Marokko kom, wie se produksieseisoen ook oor die Noordelike Halfrond sʼn val en dus met die EU se boere meeding. Ons wat in die Suidelike Halfrond lê komplementeer hulle eintlik sodat hulle regdeur die jaar sitrus op hul winkelrakke kan hê.

“Die enigste mededinging wat ons met hulle het, is tydens die kort oorgangseisoene, wanneer ons produksie met hulle sʼn oorvleuel.

“As ek Spaanse sitrus tydens ons afseisoen op ons winkelrakke sien is ek bly, want dit bevoordeel ons verbruiker en skep ʼn deurlopende verskaffingsketting.”

Hy sê CGA voer tans twee gevegte met die EU, “eerstens moet ons nou met hulle onderhandel en sorg dat hul owerhede nie hierdie verskeping wat tans op die water is afkeur en tot niet maak nie en tweedens voer ons ʼn langtermyn stryd om hierdie uitvoerkontrak te verseker, wat al baie jare lank aankom.

“Hulle is blykbaar nie ʼn slim klomp nie, want ek weet nie waar gaan hulle hul lemoene kry as hulle ons kontrak beëindig nie en dit gaan hul eie verbruikers ernstig benadeel,” voeg Chadwick by.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Swerwer ·

Ai, die politieke wedywer maak dit soms onmoontlik om staande te bly. Die EU sal nog terug kruip want geen ander land se vrugte is so smaakvol soos SA s’n nie.

Andrew ·

Eintlik kopskud hoe ons voorvader nasies ons nogsteeds behandel.

DJ ·

Die nuwe wêreldorde wil kos voorsienining verhinder om bevolkingsgroei te verminder. Kyk wat gebeur tans in Nederland.

Murg en been ·

Wat verwag mense? Die anc regering is pro Rusland. Al persone wat geld maak uit die proses is kwekers en bee plase

Murg en been ·

Wat verwag ons produsente? Die anc regering is pro Rusland. Al mense wat geld maak is kwekers en bee plase(waar geld gestort word deur regering). Bee plase se gehalte skiet die bedryf in die voet. Geen beperking op hektare wat beplant word bestaan nie.

Treurwilger ·

Die gereelde berigte in SA oor rioolbesoedelde riviere maak enige kosuitvoere ‘n raaiselagtige wonderwerk.
Vyftien jaar gelede reeds is waarskuwings uit Europa gerig oor sekere standaarde. Wat het verander sedertdien?

Willi ·

Dit is nou maar so dat die Suid-Arikaanse verbruiker die gemors hier moet koop en die beste produkte word uitgevoer. Gaan kyk maar die swak kwaliteit by enige supermark wat ten duurste deur die verbruiker aangekoop word.

kaplyn ·

Nonsens, ek het die winter al 4 keer by verskillende supermarkte heerlike soet lemoene gekoop. Hulle skille lyk nie goed nie maar die lemoen self is van die beste gehalte!

Harley Davidson ·

Miskien kan ons ook nou van die goeie lemoene in sa kry en nie net die wat onder die bome le en hier ten duurste verkoop word nie.

FBS ·

Hoop die res van Landbou sal nou begin sien waardeur ons in die wild bedryf gaan.
Al hoe ons sal wen is staan saam, raak ontslae van die interne opstekers en begin dan ’n om ons kwaliteite te bewys aan die buiteland. Dit het begin met die leeus en ander wild.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.