FAK lui Paastyd in met onthulling van Piet Smit-liedjiebord

Piet Smit het die Paasfees ingelui met ‘n paar gewyde snitte in die FAK se Liedjietuin. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Die Afrikaanse gospelsanger- en liedjieskrywer, Piet Smit, is Woensdag deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vereer deur ʼn splinternuwe liedjiebord met van sy lirieke in die Liedjietuin te onthul.

Die lirieke van Piet se alombekende “Oorwinningslied” verskyn nou op die 51ste liedjiebord wat in die Liedjietuin sy tuiste gevind het.

Die onthulling het plaasgevind tydens ʼn spesiale Paasfeesdiens in die Liedjietuin, wat bygewoon is deur die personeel van die algehele Kultuurtuiste, wat al die onderskeie organisasies op die Voortrekkermonumentterrein insluit.

“Ek kan dit nog steeds nie glo nie. Ek het nie woorde nie,” het ʼn bewoë Piet tydens die onthulling gesê.

“Ek voel of ek so ses duim bo die grond sweef. Dit is iets wat ek nie in my wildste drome gedink het gaan gebeur nie.”

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sê: “Hierdie lied inspireer Christene om met hoop te leef en verder as die probleme en die ontsaglike uitdagings wat ons beleef te kyk na die koninkryk wat kom.”

Piet Smit en Dr. Danie Langner tydens die onthulling van die liedjiebord. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Piet het in 1994 die Afrikaanse lirieke vir die “Oorwinningslied” geskryf. Die lied het sedertdien een van die geliefdste liedere geword wat veral in die Paastyd gesing word.

Ds. Cassie Aucamp, die hoof van die Voortrekkermonument se direksie, het gesê dat dit ’n spesiale manier is om ’n liedjiebordonthulling te vier.

“Dit is absoluut wonderlik om te weet dat die FAK homself beywer om wie ons is as Afrikaanse mense voort te dra. Dis fantasties dat daar so organisasie is en om deel te wees daarvan,” het Piet afgesluit.

Die FAK Liedjietuin, wat vanjaar reeds sy tiende bestaansjaar vier, is oop vir die publiek en dié opelugmusiekmuseum is ʼn tuiskomplek vir Afrikaanse musiek en die kunste.

Die lirieke van Piet Smit se “Oorwinningslied” verskyn op die 51ste liedjiebord in die FAK se Liedjietuin. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vonny ·

Trots Afrikaans.

Nou moet die ouers net hul kinders begin leer dat paasfees gaan oor die kruis.
En
Nie paashase en paas eiers!!!
En die eenvoudige paas eiers skattejag…
Kinders word verkeerd groot gemaak.

Ronél ·

Halleluja, die Kruis is leeg, JESUS lééf……………..!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.