Fase 4 geld nou

Argieffoto (Foto: Mujahid Safodien/AFP)

Eskom het Saterdagoggend op die nippertjie die beurtkragfase van fase 3 tot fase 4 verhoog. Dit sal vanaf 10:00 Saterdag tot 05:00 Maandag geld.

Volgens Eskom moes hy noodgedwonge die besluit neem ná bykomende opwekkingseenhede gedurende die aand die gees gegee het. Eskom kon dus nie sy noodopwekkingsreserwes aanvul nie, wat die stand van die huidige opwekkingskapasiteit verder versleg het.

Fase 3-beurtkrag sou aanvanklik die hele naweek geld. “Dit is om ons kragreserwes aan te vul sodat ons laer vlakke van beurtkrag volgende week kan instel,” het Eskom Saterdagoggend in ʼn verklaring gesê.

Volgens die kragreus moes ʼn opwekkingseenheid by die Kendal-kragstasie van die stelsel verwyder word vir noodherstelwerk. ʼn Eenheid by Majuba, Lethabo, Camden, asook Hydro de Cahorra Bassa in Mosambiek, moes ook afgeskakel word as deel van kritiek beplande herstelwerk ter voorbereiding vir volgende week.

“Ons kon wel gedurende die nag ʼn opwekkingseenheid by Kusile en Tutuka weer in werking stel.”

Altesaam 5 579 MW is tans nie beskikbaar nie weens beplande instandhouding, terwyl ʼn massiewe 16 599 MW weens onbeplande onderbrekings nie beskikbaar is nie.

Eskom sê hy sal Maandag ʼn nuuskonferensie belê om lede van die publiek op die hoogte te bring van die stand van die kragstelsel. “Alle Suid-Afrikaners word intussen aangemoedig om krag spaarsamig te gebruik.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.