Finale aanmaningsbrief oor Eskom se krag

Die Ditsobotla-munisipaliteit in Lichtenburg, Noordwes. (Argieffoto: African News Agency)

Die DA in Noordwes se regsverteenwoordigers het ʼn finale aanmaningsbrief aan Eskom gelewer om dadelik die voorsiening van grootmaatelektrisiteit in Lichtenburg te hervat.

“Ons doen ʼn beroep op Eskom om rede te sien en onmiddellik elektrisiteitstoevoer te hervat of ʼn nederlaag in die hof te ly,” sê Leon Basson, provinsiale DA-leier in Noordwes.

Die dorp sit al 19 dae sonder betroubare krag nadat ʼn spantoring omgeval en ʼn transformator gevandaliseer is.

“Eskom het gepoog om die transformator te vervang en die werk is Donderdag voltooi, maar Eskom het toe opportunisties gekies om die desperate situasie wat inwoners vir meer as twee weke moes verduur, te misbruik as ʼn skuldinvorderingsmeganisme teen die Ditsobotla-munisipaliteit se R1 miljard-skuld,” sê Basson.

Die prokureursbrief, namens die DA en die Ditsobotla-dienstevereniging, is onder meer gerig aan Eskom, die munisipale bestuurder van Ditsobotla en die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake in die provinsie. Dit lui dat Eskom die enigste grootmaatkragverskaffer aan die Ditsobotla-munisipaliteit – wat Lichtenburg bedien – is, en dat Eskom ook ʼn monopolie het oor die opwekking, transmissie en verspreiding van die krag wat die geraakte plaaslike gemeenskap benodig.

Die Ditsobotla-dienstevereniging is ʼn plaaslike organisasie wat inwoners en sakelui van die dorp verteenwoordig.

“Die plaaslike munisipaliteit het ʼn grondwetlike en statutêre plig om grootmaatkrag te bekom en deur sy netwerk te lewer. Eskom is ʼn staatsinstelling en munisipaliteite is afhanklik van hom vir hul kraglewering. Eskom het ʼn grondwetlike plig om te verseker dat munisipaliteite hul pligte ingevolge die Grondwet kan nakom,” lui die brief.

Die kragvoorsiener moet ook elke billike stap doen om tussenregeringsdispute op te los en tot dít nie gedoen is nie, mag hy nie ʼn besluit in werking stel om kraglewering op te skort nie.

“Wanneer Eskom weens uitstaande skuld weier om krag deur die vervangde transformator te lewer sonder dat hy die meganismes gebruik wat geskep is om tussenregeringsdispute op te los, laat die staatsinstelling die Grondwet in die steek en die mislukkings raak en verwoes selfs die inkomste van burgers,” lui die brief.

Basson sê daar is groot begrip vir inwoners se woede en frustrasie oor die gesukkel.

“Ons regsverteenwoordigers is opdrag gegee om hierdie aansoek so redelik en wetlik moontlik te versnel om te verseker dat ons namens al die geraakte inwoners van Eskom se onregmatige besluit en onetiese optrede verligting kan kry.”

Die party het ook die Ditsobotla-dienstevereniging bedank vir sy steun en aansluiting by sy dringende aansoek in die hooggeregshof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Truman Burbank ·

As die publiek hul krag rekeninge direk aan eskom kon betaal, sou daar nie so iets gebeur het nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Net soos in Soweto. Dan sit Eskom met R25 miljard se skuld. En Joburg Power rol hul oë.

Truman Burbank ·

Hoe betaal hulle direk aan eskom? O ja. Sit alles en almal oor op prepaid. Nog makliker.

Republikein in die Wes Kaap ·

Een entiteit se probleem word ‘n ander een se probleem. En so ploeter ons voort.

Kokerboom ·

Hoe kry ‘n munisipaliteit dit reg om meer as 1Miljard te skuld aan krag??
Maklik Laat ‘n ANC regering toe om ‘n dorp te bestuur
Absolute skande!

Sean ·

Kyk net hoe lyk die munisipale geboue in die foto Daai arme dorp Tipies anc regering

Amelia ·

Kyk eerder wie is die wat nie betaal nie nou moet die wat wel betaal daaronder lei laat elke buurt op sy eie wees dan sal geisen word wie betaal en wie nie sny dan die wat nie betal nie se krag

HPJ ·

n Mens kan sien verkiesings tyd is op pad Waar was die DA die afgelope 40jaar met Lichtenburg se probleme Die DA is op verkiesings mode Hierdie is net Window dressing

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.