‘Fishrot’-skandaal se voortvlugtige in die Paarl aangekeer

Marén de Klerk (Foto: Facebook)

Die gesoekte Namibiese voortvlugtige, Marén de Klerk, het Vrydag vlugtig in die Paarl-landdroshof verskyn. Hy is die vorige dag in hegtenis geneem deur Interpol en die Valke se eenheid wat ernstige handelsmisdaad ondersoek. Interpol het ʼn rooi kennisgewing vir sy inhegtenisneming uitgereik.

“Daar is bepaal dat De Klerk, ʼn klaer in ʼn saak wat deur die Valke ondersoek word, ʼn voortvlugtige is en deur Namibiese owerhede gesoek word,” sê kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke. “Hy word verdink van swendelary, bedrog, korrupsie en geldwassery ná ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming en uitleweringskennisgewing in 2022 deur die Paarl-landdroshof uitgereik is.”

Die saak is tot 5 Junie 2023 uitgestel om die datum vir die borgtogaansoek te bepaal.

De Klerk (55) het drie jaar gelede na Suid-Afrika gevlug. Hy word betrek by een van Namibië se grootste korrupsieskandale. Dit is “Fishrot” gedoop en het ʼn katnes van korrupsie tussen Yslandse seekosmaatskappy Samherji en individue in die Namibiese regering blootgelê wat sedertdien wyd deur die media gedek is.

De Klerk voer egter aan hy is nie ʼn voortvlugtige nie, hy is ʼn fluitjieblaser.

Viskwota-skandaal

Maroela Media het vroeër berig De Klerk, ʼn voormalige prokureur, het aan die begin van 2020 in Suid-Afrika kom skuil ná sy rol in die Namibiese viskwota-skandaal op die lappe gekom het. Daar bestaan ʼn moontlikheid dat hy ʼn staatsgetuie in die sloerende bedrog-en-korrupsie-hofsaak in Namibië gaan word.

In ʼn beëdigde verklaring van 76 bladsye, wat in April 2020 in Stellenbosch onderteken en later aan die media gelek is, het De Klerk sy rol erken in die knoeiery in die visbedryf. Dié is in 2019 oopgevlek toe die WikiLeaks- webwerf sowat 30 000 vertroulike dokumente op die internet gepubliseer het.

Die nuuskanaal Al Jazeera het ʼn dokumentêre televisieprogram, The Anatomy of a Bribe: A Deep Dive into the Underworld of Corruption, internasionaal uitgesaai en gewys hoe hooggeplaaste politici en ampsdraers van Namibië se regerende Swapo-party onderhandel om omkoopgeld van miljoene Namibiese dollars na hulself en die party te kanaliseer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.