Flip Buys: Visioenêr, brugbouer, talentversamelaar

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging (Foto: Reint Dykema)

Hy is nie ʼn man wat baie hard praat nie en soms moet jy effens vooroor leun om te hoor wat hy sê. Dan probeer jy ongesiens terug leun sodat dit nie lyk asof jy aan sy lippe hang nie. Dit is egter onmoontlik om nie te luister wanneer Flip Buys praat nie – en selfs in die binnekringe van die regering word daar al hoe meer kennis geneem van dít wat Buys en die Solidariteit Beweging wat hy al langer as twee dekades lei, vermag.

Toe Buys aanvanklik by die Mynwerkersunie (MWU) betrokke geraak het, was dit ʼn sukkelende vakbond. Hy en sy vrou, Melanie, het destyds albei goeie betrekkinge by Eskom gehad, maar Buys se planne was groter. “Ons het ʼn droom gehad, maar ek het baie keer daarna vir Melanie gevra of dit ʼn roeping was, en of die besluit roekeloos was. Albei begin met ʼn r …”

Hy besef in 1992 al watter mag opgesluit lê in ʼn vakbond wat reg aangewend word en stippel ʼn plan uit vir ʼn moderne arbeidersvereniging – die plan vir ’n netwerk van instellings wat vandag die Solidariteit Beweging is.

In 2001 verander die naam van die MWU na MWU-Solidariteit en sedert 2002 staan dit bekend as Solidariteit. Vandag vorm dit deel van die breër Solidariteit Beweging waarvan Buys die voorsitter is.

Brugbouer

Ná Suid-Afrika se oorgang na ʼn demokratiese bestel in 1994 het Buys geweet daar sal na ʼn hoër versnelling oorgeskakel moes word. Dit sou wonderlik wees as die stelsel werk soos daar beloof is, maar nie in een Afrika-land het Afrikane die kultuur, waardes en ideologie oorgeneem van die koloniale meesters nie – “en om begryplike redes,” sê Buys.

“Inteendeel, hulle het dit verwerp en dit is iets wat ek heeltemal verstaan. Ons voorouers het dit ook gedoen.

“Ek het gesê ons kan nie aan goed deelneem wat ons gaan tel nie, ons moet aan goed deelneem wat ons gaan weeg,” sê hy.

Hy het dus gewerk uit die langtermynaanname dat die ANC nie die land suksesvol gaan regeer nie; “dat ons as minderheidsgroep kwalik geneem gaan word vir die verlede, sonder dat ons erkenning gaan kry vir dit wat goed gegaan het, naamlik dat ons die enigste geïndustrialiseerde land in Afrika is”.

ʼn Moderne Helpmekaar-beweging moes op die been gebring word en soos die staat mettertyd verval, moes dit die dienste begin verskaf. Presies dit wat tans gebeur.

Tog het nie almal uit die staanspoor Buys se visie gedeel nie. Daar was teenkanting, skeptisisme, soms prontuit beledigings.

“Om ʼn plan te maak is een ding, om dit uit te voer is om in stroop te swem … om opdraande in stroop te swem,” sê Buys amper melancholies.

Vandag, 25 jaar later, is die hoogtepunt vir hom om te sien hoe die plan begin werk.

“Ek het [destyds] gevoel daar gaan nie ʼn vraag wees na wat ons wil doen nie. Mense gaan dit nie verstaan nie.”

Net soos Henry Ford se beleggers wat toentertyd by hom wou weet waar sy marknavorsing oor ʼn motorkar dan is. Mense weet nie wat ʼn kar is nie, het Ford verduidelik, en as hy marknavorsing sou doen, sal mense sê hulle soek vinniger perde. Toe word die motorbedryf groter as wat die perdebedryf ooit was en skep werk vir miljoene mense.

“Dís wat ek gedink het: ons moet die aanbod begin skep en dan sal die vraag kom.”

Hy het gehoop dat mense die plan vinniger sal snap en begin help om dit uit te voer, maar dit het jare geduur en Job se geduld geverg om op hierdie punt te kom.

“Mense kom nou in groot getalle by,” sê hy. “Ons het minder teenstand begin kry en meer ondersteuning. Ek fokus daarop om die regte te ding te doen. ʼn Mens swem deur stroop, maar ek is nie ontsteld as mense nie saamstem nie.”

Die Beweging se plan was een wat van voetsoolvlak af opgebou moes word – en onder Buys se leiding ís dit.

“Waar kan ons ʼn standbeeld van Flip Buys oprig?” vra ʼn leser onlangs in reaksie op ʼn berig oor die beoogde naamsverandering by die Afrikaanse Taalmonument.

Maar nee, Buys is nie die soort man wat ʼn standbeeld van homself wil sien nie. Tog het sy visionêre denke reeds op verskeie plekke konkreet gestalte gevind. Akademia. Sol-Tech. Maroela Media. Helpende Hand. AfriForum. Die omskakeling van MWU na die Solidariteit Beweging, ʼn volwaardige arbeidersorganisasie waarvan dit vandag haas onmoontlik is om nie kennis te neem nie.

“Pleks van vooraf toestemming, gaan ons na die tyd erkenning kry vir wat ons bou,” sê Buys.

“ʼn Mens moet ʼn dik vel ontwikkel as jy voel dat jy met die regte ding besig is, maar jy moet jou nie doof hou vir kritiek nie.”

Visioenêr

As vyfjarige seuntjie verloor Buys die sig in een oog toe ʼn mes in sy oog beland terwyl hy ʼn speelding uitkerf. Sy ma is bekommerd oor die ontwikkelingsmylpale wat die jong man nie behaal nie, en ʼn oogspesialis stel voor dat sy hom aanmoedig om te lees.

Dit open ʼn wêreld vir Buys en skep ʼn liefde en drang na kennis wat vandag nog soos ʼn vuur in hom brand. Sy kantoor is funksioneel, netjies – en gepak met boeke. Hy wil wéét.

Sy uitgebreide kennis maak dit tydens die onderhoud soms moeilik om tred te hou met die ongelooflike pas van Buys se denke. Hy het ʼn uur tyd oor middagete beskikbaar, waarsku sy persoonlike assistent voor die onderhoud. Dis onmoontlik genoeg, protesteer jy – Buys het ʼn lang asem. “Jy moet kan aanhou en volhou en uithou en moed hou,” sê hy. Inderdaad. In die agtergrond lui ʼn klokkie op sy rekenaar. Jy weet dis ʼn volgende afspraak. Sy foon biep. Jy druk deur. Daar is baie vrae. Baie vraagstukke. Min tyd.

Jy weet hy skakel naatloos oor tussen onderwerpe. Politiek. Staatsleer. Mense. Letterkunde. Sy vermoë om dit wat hy gelees het te interpreteer, weer te gee en in werking te stel, is verstommend. Machiavelli. Van Wyk Louw. Churchill. Goethe.

“Jy leer by die groot figure van die geskiedenis. Dit voel vir my op ʼn Saterdagaand wanneer ek lees, amper of ek gesels met ʼn Churchill of ʼn Bismarck. Jy leer by hierdie mense. Die omstandighede is anders, maar jy pas dit toe,” sê hy.

Talle mense bestempel hom as ʼn visionêr; ʼn man wie se idees die tyd ver vooruit was. Die ander gevoel wat jy van Buys kry, is dat hy veel meer diplomaat as vurige vakbondman is. Toegegee, die vakbondwese het hom met velerlei vaardighede toegerus – veral met swaargewigteenstanders soos Mantashe en Cyril Ramaphosa – maar eindelik het sy rol dié van argitek geword.

Dit gaan meer oor handel, as oor onderhandel. Dit gaan oor ʼn opregte respek vir ander mense se kultuur, as jy wil hê hulle moet joune aanvaar, sê Buys. Hy probeer ʼn middeweg tussen mense vind sodat daar van binding na brugbou oorgeskakel kan word.

“Ons gaan mekaar nie vind op gemeenskaplike sienings nie, ons moet klem lê op gemeenskaplike belange,” sê hy. “Die idee is om mekaar te respekteer, eerder as dat almal met jou saamstem. Ek glo baie sterk in ʼn Westerse stelsel, maar dit help nie ek maak vyande net omdat iemand van my verskil oor iets nie.”

Juis daarom wend hy hom so dikwels tot die geskiedenis. Nie omdat Buys ʼn hunkering na die verlede het nie, maar om hom te vergewis van wat kán gebeur.

Werklikheid laat hom nie voorskryf

Dit is ook waarom hy byna drie dekades gelede begin skaaf het aan ʼn plan om “self die werklikheid te skep”. Hy het allermins verlang na ʼn verlede onder die Nasionale Party, maar hy het ook nie uitgesien na ʼn toekoms onder die ANC nie. Hy het gehoop die ANC se planne werk, maar hoop kon nie die enigste strategie wees nie.

Wanneer die sogenaamde grondwetlike verwagting begin afneem, moet ʼn nuwe skikking bereik word, verduidelik Buys. Dít is waar Suid-Afrika hom nou bevind en die Beweging is uitstekend geposisioneer om oplossings te verskaf.

Die momentum van ’94 het lank reeds afgeloop en die planne wat die regering die afgelope paar jaar in werking gestel het, werk kennelik nie. Hoewel die Grondwet se woorde dalk nie sedertdien verander het nie, het die Grondwet wél verander omdat Suid-Afrika se werklikheid vandag heeltemal anders daarna uitsien.

“Elke keer wat jy by ʼn historiese kruispad kom, kan jy nie meer net heimwee na die nuwe Suid-Afrika of selfs die ou Suid-Afrika hê nie. Jy moet begin werk aan ʼn ander Suid-Afrika – jy het nie ʼn keuse nie.”

Buys glo daar is ʼn al hoe breër besef dat nuwe oplossings nodig is. Dit is dalk hoekom daar al hoe meer voelers uit verskeie oorde na die Beweging uitgesteek word. Diskrete voelers, maar voelers nietemin.

“Die werklikheid laat hom nie indwing in ʼn teorie nie. Om prakties te wees: die geld gaan opraak en dienste gaan privatiseer. Ons moenie op die kantlyn sit en wag tot daar ʼn nuwe orde tot stand kom, of die orde heeltemal verval nie. Agt en twintig jaar gelede was mense bang vir die nuwe orde, nou is ‘geen orde nie’ die groot ding op die agenda.”

Waar staan die Beweging in hierdie nuwe orde? Hulle het die organisasie begin met die aanname dat die nuwe bedelings hoogs waarskynlik nie gaan werk nie – en “dis nie ʼn lekker ding om te sê nie,” gee Buys toe. Hiervoor was daar verskeie redes, onder meer omdat struggle-ideologie nie iets is waarmee jy suksesvol kan regeer nie. Dis in verskeie ander lande só bewys en Suid-Afrika sou onwaarskynlik die uitsondering wees.

“Ons het dit voorsien en eintlik die beweging gestig vir ʼn tyd soos hierdie. Ons het lankal begin om selfdoenoplossings in werking te stel. Ons het lankal begin met die bonding wat dit nou vir ons moontlik maak om te bridge.”

Hy is geen Afro-pessimis nie, sê Buys, en ook glad nie negatief nie. Wat hy wél is, is ʼn “ervare optimis”.

Veranderingsbestuur is egter ʼn moeilike ding. Daar is diegene wat gaan verloor as sake verander en húlle beveg jou plan. Dan is daar die ouens wat gaan voordeel trek uit die plan, maar dit nog nie besef nie. Dus het jy venynige aanvallers en louwarm verdedigers van die verandering – en dit moet ons ook in Suid-Afrika verwag, sê hy.

Wat jy nooit moet wees nie, is irrelevant. “Dít het ek by Gwede Mantashe geleer: mense praat nie met jou omdat hulle van jou hou nie, maar omdat jy ʼn faktor is. Ons moet van onsself ʼn faktor maak. Dit is ongelukkig hoe die werklikheid werk.”

Jou aandeel in die ekonomie hang boonop af van jou bydrae tot die ekonomie en om armoede te verbreek, moet jy mense se bydrae tot die ekonomie verhoog. Hiervoor is daar net een oplossing – opleiding – en dit is ʼn kwessie waarop Buys deurlopend hamer.

“Mense moet meer van hulself dink en meer van hulself verwag. Ons kan nie toelaat dat die ANC ons so moedeloos maak dat ons wil landuit gaan nie. Wie is die ANC?

“Ons het al baie universiteite en kolleges en skole gebou. Ons kan weer.

“Dink meer van jouself en verwag meer van jouself, want jou kinders verdien beter.”

As Christen glo hy aan gee, sê Buys. Maar om te sê sommige van myne is joune, verskil hemelsbreed daarvan om te sê joune ís myne. Dit is vir hom ook hoegenaamd geen manier om armoede uit te wis nie.

Sy ouers was ryk, skerts Buys, aan liefde en geluk, want geld was daar nie. Dit is vandag dus steeds vir hom ʼn prioriteit om die armoedesiklus te verbreek. By Sibanye-Stillwater staak mynwerkers van Amcu en die NUM nou al maande lank vir ʼn R1 000-verhoging, verduidelik hy as voorbeeld.

By Sol-Tech help die Beweging mense om van niks af nie, R20 000 per maand te verdien. “Een wil ʼn dubbelsyferverhoging hê, die ander wil mense se salarisse verdubbel,” sê Buys.

Die welstand van ʼn land hang af van die welstand van sy werksmag en die welstand van die werksmag word bepaal deur sy vlakke van opleiding en opvoeding. Vir Buys is daar ʼn verskil: “Opleiding gee jou ʼn werk, opvoeding gee jou ʼn loopbaan.”

In Suid-Afrika sit ons met ʼn krisis, waarsku hy, want die werksmag werk nie. Die staat moet die ekonomie se brieke lostrek, ontslae raak van “mal wette” en ʼn drang om alles te beheer en die rol van huishoudster en nie broodwinner nie, begin speel.

“Maak die huis aan die kant. Die land moet reg wees. Die paaie en spoorlyne moet werk, die land moet veilig wees. Dán sal die mense vir hulself sorg. Die oomblik wat die huishoudster vir jou begin sê hoe moet jy jou werk moet doen, het jy moeilikheid.”

Talentversamelaar

Op die vraag oor wat gebeur wanneer hy die kantoordeur die laaste keer agter hom toetrek en die leisels van die Beweging oorgee, antwoord Buys sonder aarseling: “Die finale toets vir ʼn leier is sy opvolgers.”

Hy is nie bang daarvoor nie. Om hom het hy ʼn gedugte span versamel en die Solidariteit Beweging het vandag meer as 2 000 hoogs gekwalifiseerde personeellede. Soos die strategiese skaakspeler wat hy is, het hy die regte mense op die regte plekke ontplooi.

“Ek bly by die feite. Ek is ʼn skaakspeler en dit het my denke gevorm, al is dit soms ʼn nadeel. Jy werk met logika, maar die wêreld is nie altyd logies nie. Strategie en die uitvoering daarvan is wat my energie gee.

“Dit is vir my ʼn tragedie as ek sien hoeveel mense nie hulle volle vermoëns verwesenlik nie. Dit is belangrik want dit bepaal jou lewensgehalte, jou lewenstandaard.

“Dis hoekom ek affirmative action so verpes. Dit keer mense om hul volle vermoëns te verwesenlik.”

As kind moes een van sy dogters (hy en Melanie het drie dogters en ʼn seun) jare gelede ʼn taak doen oor wat haar pa se werk is. Onder haar klasmaats was een se pa was ʼn prokureur, die ander dalk ʼn onderwyser of rekenmeester.

“Sy kon nie verstaan wat ék doen nie,” vertel Buys. “Toe sê ek vir haar ek is ʼn talentversamelaar.

“Die afspraak voor jou was weer ʼn talentsoekkompetisie,” skerts hy. “Ek soek die heeltyd.

“Die les wat ek geleer het, is: eers die span, dan die plan.”

Die geskiedenis wys ʼn samelewing kan net volhoubaar wees as jy vir die volgende geslag leef, sê Buys. Hierdie “plan” is vir hulle; daardie volgende geslag.

“ʼn Mens voel ʼn roeping en doen wat jy moet doen. ʼn Beskawing kan net bestaan as jy dit wat jy gekry het, verbeter en vir die volgende geslag gee.

“Ek kan nie toekyk hoe iets ondergaan en niks daaraan doen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Eden ·

Mooi Flip. Goed gedoen. Die Afrikaners het darem weer half koers gekry danksy Soliforum wat mooi opgebou is. Baie werk lê voor en ons kort nog ‘n klomp Flippe.

Pieter9 ·

Flip Buys; ons het meer van hom nodig in S.A vandag – al ons ondersteuning, want sy rol ( Solidariteit en filiale)gaan al meer belangrik word in die jare wat kom. S.A gaan ‘n baie uitdagende volgende 10 jaar in; sal bepalend wees. Waardes , innovasie en doen, gaan die deurslag gee. Ons het egter mense soos F.B nodig vir momentum en visie gerugsteun deur geloof in een God, Jeus Christus.

Dries ·

As dit nie vir Flip Buys, dr. Dirk Hermann, Kallie Kriel, Ernst Roets en hulle onderdane was nie was daar geen hoop vir ons in hierdie land nie. Hulle sal nog uitgewys word as die grootste helde in die Afrikaner geskiedenis.

Dries ·

Mnr Buys se kritici het so stil geraak dit is oorverdowerend. Party joernaliste en politieke kommentators wat nie hulle bekke van Solidariteit en Afriforum kon afhou nie het nou ook stil geraak. As hulle net manmoedig genoeg kan wees om dit ruiterlik te kan erken sal daar baie meer hoop vir ons wees hier aan die suidpunt van Afrika

Treurwilger ·

Só bly jy sê die nodige.
Die kritici uit die sogenaamde ‘Afrikaanses’ se geledere het by tye stomgeslaan, so kortsigtig en kleingeestig was dit.

Hayntjie ·

Ek stem met Buys saam. Ons moet meer as ooit tevore saam staan om opleiding, skepping van intepreneurskap en werk moontlik te maak. Afgetrede persone behoort gier oor veral aangewend te word. Moenie hulle kundigheid en ervaring verlore laat gaan nie. Gebruik dit om ons ekonomie te draai om suksesvol te wees.

Waarnemer ·

Maak Flip adjunk presiddng van DA….Dirk Hefmann vir presiddng dn oom Glop lm hom by te staan.

Cherokee ·

Waarnemer, dit lyk asof jy die naweek vroeg begin het. Die kommentaarblad is in Afrikaans, onthou.

Mariana ·

Ons moet meer mense in SA het soos hy. Hy vat raak oor kwessies wat saak maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.