Fochville-moord: Vier vra hof om saak te laat vaar

Chantell Wheeler (links) en Natasha Wheeler Barnard (regs) (Foto: Chantell Wheeler/Facebook)

Vier van vyf beskuldigdes in die moordsaak van Natasha Wheeler Barnard (33) se vertoë aan die senior staatsaanklaer dat die saak teen hulle teruggetrek moet word, was onsuksesvol.

Só is Dinsdag in die streekshof in Fochville, Gauteng, beslis.

Maryna Doyle (37), haar kêrel, Sidney Scheepers (41), Twane Wienand (31) en Dave Lourens (45) se regsverteenwoordigers het die vertoë op 17 Maart by die hof ingedien. Die vertoë bevat ’n opsomming van die beskuldigdes se weergawe van gebeure. Die hof het egter nie die inhoud daarvan bekend gemaak nie.

Die beskuldigde Rudolf Pretorius (23) het nie vertoë gerig nie.

Die beskuldigdes gaan nou die direkteur van openbare vervolging (DOV) in Gauteng met hul vertoë nader. Hulle sal weer op 27 Julie in die hof verskyn wanneer die DOV se beslissing na verwagting bekend gemaak gaan word.

Die beskuldigdes Maandag by die landdroshof in Fochville. (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Barnard se familie was Dinsdag oudergewoonte by die hof. Hulle het ná afloop van die hofverrigtinge aan Maroela Media gesê die hof se besluit om die vier se vertoë van die hand te wys, is ’n stap in die regte rigting in hul stryd om geregtigheid.

Hulle hoop dat die DOV ook die aansoek van die hand sal wys.

Maroela Media verneem dat familielede van die beskuldigdes met hul hofverskyning in Februarie glo verslaggewers buite die hof probeer verhoed het om foto’s van die beskuldigdes te neem.

Spanning het Dinsdag opnuut buite die hof geheers dat dié gebeure herhaal kan word.

Luidens die klagstaat word al die beskuldigdes van moord en dwarsboming van die gereg aangekla, maar dit is nog onduidelik hoe elkeen by die voorval betrokke was.

Aanklagte teen ’n sesde verdagte, Cecilia Storbeck (23), is in Desember verlede jaar laat vaar. Storbeck gaan moontlik nou vir die staat getuig.

Cecilia Storbeck Donderdag by die hof (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Barnard is op 3 Maart 2022 in die Boulevard-restaurant en -kroeg in Fochville na bewering aangerand en vroeg die volgende oggend by haar ma, Frieda Venter, se huis afgelaai. Paramedici het haar later daar dood verklaar. Sy het beserings gehad wat daarop dui dat sy aangerand is.

Die ondersoekbeampte, AO Kitty Fourie, het vroeër getuig dat Barnard traumabeserings aan haar kop, nek en ruggraat opgedoen het.

Op videomateriaal van die voorval kan daar glo gesien word dat ’n konfrontasie tussen Pretorius (die kroegbestuurder) en Barnard ontstaan het.

Rudolph Pretorius (Foto: Rudolph Pretorius/Facebook)

Fourie het getuig die videomateriaal wys duidelik dat Barnard daarna na die deur stap, waarna Pretorius haar van agter met ’n stoel en kussing gegooi het. Sy het teruggedraai om weer in te gaan, maar Doyle en Wienand het glo na die deur beweeg en Barnard gekeer en na buite gestamp.

Volgens Fourie se getuienis is Pretorius na die kantoor waar hy die videokameras afgeskakel het. Hy is daarna terug na die gebied waar die stampery met Barnard aan die gang was. Die kameras is glo ná ongeveer 11 minute weer aangeskakel. Barnard het in daardie stadium op die grond in die parkeerterrein gelê.

Die videomateriaal sal na verwagting as kernbewysstuk in die saak dien.

Twane Wienand (Foto: Twane Wienand/Facebook)

Maryna Doyle en haar kêrel Sidney Scheepers (Foto: Verskaf)

Doyle, Scheepers, Storbeck, Wienand en Lourens is verlede jaar op borgtog van R5 000 elk vrygelaat, terwyl Pretorius se borgtog op R10 000 vasgestel is.

Barnard se suster, Chantell Wheeler, het tydens ’n vorige hofverskyning aan Maroela Media gesê dit voel of hul lewe stilstaan en dié van die beskuldigdes aangaan sedert hulle in April verlede jaar op borgtog vrygelaat is.

Barnard se ma, Frieda Venter, en suster, Chantell Wheeler (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Natasha Barnard se pa, John Wheeler [Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media]

“Dit is frustrerend om so te wag en boonop gaan hulle [die beskuldigdes] aan asof niks fout is nie. Hulle gaan met vakansie en kuier steeds by dieselfde kuierplek(ke) op die dorp. Ons wil hê iets moet met die hofsaak gebeur, maar dit is uit ons hande,” het Wheeler gesê.

Dit is vir hulle ook ontstellend om te sien hoe die beskuldigdes buite die hof bymekaarkom, grappies maak en lag.

Venter sê Barnard se 11-jarige seun en 14-jarige dogter se verlange na hul ma is ná langer as ’n jaar nie minder nie. Dit is veral Barnard se seun wat sukkel om sy ma se dood te verwerk.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

TruthDealer ·

Ja hulle wil moor, maar geen gevolge dra nie. Geen verskil tussen daardie walglike moordenaars en plaasmoordenaars nie. Wees bly ek is nie president nie. You evil creatures would have faced a firing squad.

Jean ·

So as mense nog nie skuldig bevind is nie wil jy hulle al voor ‘n firing squad laat staan…

Cherokee ·

So Jean, jou gedagtewêreld sien ‘n moontlikheid van onskuld vir ‘n groep mans en vrouens wat een enkele vrou doodslaan. Tyd vir meditasie. Probeer dit uitsorteer.

JohanR ·

Stuur die 5 Rusland toe en sit hulle sommer reg voor al die ander soldate.

Sandra ·

Ja nee welkom in Suid Afrika waar die geregtigheid vir die moordenaars seevier, en nie vir die slagoffers nie. Hulle het die vermetelheid om te vra dat die klagtes teruggetrek word na wat hulle gedoen het. Geen hof gaan dit toestaan nie. Hulle moet betaal vir wat hulle gedoen het.

domheks ·

En wie moet nou die twee minderjariges versorg? Laat elkeen ‘ paar duisend rand per maand bydra vir hulle verssorging,

Magda G ·

Gee hulle gas. Hoekom n vrou so wreed aanrand, Nou wil hulle nie die gevolge dra nie

whatever ·

Mag geregtgheid seëvier en laat die moordenaars kry wat hul toekom ( wie dit ookal is)

marius ·

As daar nie getuienis teen hulle was nie sou vervolging nie ingestel word nie .

Hennie Biebouw ·

Jy sal verbaas wees wat die staat somes doen, net om ‘n slag ‘n ander demografie ook in die statistieke te bring. Die saak lyk nie vir my baie sterk nie…

ES ·

Ek is geneig om met jou saam te stem Hennie – die Staat kan slegs slaag as hulle die nodige bewyse het. Die feit dat die kameras afgesit is maak die saak baie moeilik aangesien niemand kan sien wie is aangerand nie.

Blikke ·

Hoe kan jy vra om die saak te laat vaar as jy skuldig en medepligtig is?…..asb verduidelik net dit!!!

Hennie Biebouw ·

Wanneer is hulle skuldig bevind, aan waaraan? In ‘n beskaafde samelewing is jy onskuldig, tot skuldig bewys

ES ·

Blikke, hulle weet die kameras was afgesit en dat die saak baie moeilik gaan wees om te bewys. So onregverdig as wat dit is, is dit hoe ons regstelsel werk. Jy is onskuldig totdat jy bo redelike twyfel skuldig bevind word en hulle weet daar is min bewyse.

Vonny ·

Shame so mooi jong vrou.
Sò wreed weg geneem.
Sterkte aan haar kids en families.

Hennie Biebouw ·

My ouma het altyd gesê, “dood het altyd ‘n oorsaak”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.