Fopnuus of feite: ‘Chinese magte’ in SA

Samesweringsteorieë en fopnuus is volop tydens die Covid-19-pandemie. Verskeie gerugte oor “Chinese magte” wat kwansuis in Suid-Afrika teenwoordig is, het die afgelope tyd op sosiale media opgeduik. Maroela Media het gaan vasstel of dié gerugte fopnuus of feite is.

Chinese polisiestasie

Die gerug dat “Chinese polisiestasies in Suid-Afrika oopmaak” het reeds in November 2018 die ronde gedoen en is tóé reeds deur die Franse nuusagentskap AFP verkeerd bewys.

Die foto’s is op 28 Oktober 2018 by die opening van die gemeenskaps- en polisiesamewerkingsentrum in Port Elizabeth geneem. Die Chinese owerheid het tussen 2005 en 2018 13 soortgelyke sentrums in Suid-Afrika opgerig.

“Hierdie samewerkingsentrums is nié polisiestasies nie en word nié deur die SAPD beman nie,” het kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, destyds gesê.

Nog ’n polisiewoordvoerder, kapt. Khaya Tonjeni, het aan Africa Check gesê die doel van die gemeenskapsentrum is om gratis Mandaryn-taalklasse vir polisielede aan te bied.

Jie Lee Zhang, uitvoerende hoof van dié niewinsgewende projek, het gesê hulle beoog “om goeie verhoudinge met die SAPD, metro- en gemeenskapspolisie op te bou”. Hy het benadruk dat die organisasie nié by magte is om enigiemand in hegtenis te neem of aan te hou nie.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het verlede week aan News24 gesê: “Daar bestaan nie so iets soos ’n Chinese polisiestasie in Suid-Afrika nie. Dis maar net ou [vals] plasings wat mense opnuut versprei.”

Die vervoer van weermagtenks

Foto’s op twitter van beweerde Chinese weermagvoertuie.

Die video van die vervoer van “weermagtenks” wat talle kere op sosiale media gedeel is, het volgens ’n Suid-Afrikaanse militêre kenner “niks te doen met die afsonderingstydperk, Covid-19, of samesweringsteorieë oor buitelandse magte nie”.

Darren Olivier, weermagkenner en hoof van die militêre nuuswebtuiste African Defence Review, het op Twitter gesê hy is “redelik seker” dat die aflewering van voertuie vir Botswana se weermag bestem is.

“Omdat Botswana ’n ingeslote land is maak hy op buurlande vir skeepsaflewerings staat, vanwaar die voertuie dan met paaie of spoorweë vervoer word. Dikwels word Suid-Afrikaanse hawens gebruik,” het hy gesê.

Olivier het ook daarop gewys dat die bedekte voertuie lyk of dit Mowag Piranhas kan wees. Botswana se weermag gebruik dié gepantserde voertuie wat vervaardig word deur die Switserse maatskappy Mowag, ’n filiaal van General Dynamics European.

In 2016 het Botswana ’n bestelling van 45 addisionele Piranhas geplaas, wat sedertdien in kleiner hoeveelhede soos dié konvooi afgelewer word,” het Olivier gesê. “Met ander woorde, niks om oor bekommerd te wees nie.”

Olivier het ook aangevoer dat die militêre voertuie nié in Kaapstad afgelewer is nie, maar in Walvisbaai, Namibië, vanwaar dit na Botswana vervoer word.

Chinese soldate in SA

‘n Duikboot aan die Wes-Kus. (Foto: Verskaf)

Foto’s van “Chinese soldate in Suid-Afrika” wat rondgestuur word blyk ook fopnuus te wees.

“Verduidelik die Chinese militêre soldate in Suid-Afrika, Cyril. Ons is nie blind nie,” lees ’n plasing wat wyd op sosiale media versprei is.

’n Omgekeerde fotosoektog op TinEye het getoon die foto van die ry soldate in wit uniforms wat op aandag staan, het reeds in Augustus 2016 op die internet verskyn. ’n Verdere omgekeerde Google-soektog dui op die moontlikheid dat dié foto by China se militêre basis in Djiboeti in die Horing van Afrika geneem is.

Die foto van soldate met die Chinese vlag is in Maart vanjaar in Kambodja geneem, waar Chinese en Kambodjaanse soldate ’n gesamentlike anti-terrorisme- en humanitêre reddingsoefening uitgevoer het.

Die foto van die groep soldate met die vliegtuig in die agtergrond het in 2013 op die webtuiste van die Amerikaanse weermag verskyn. Dié foto is by die Bloemspruit Lugmagbasis geneem terwyl Suid-Afrikaanse en Amerikaanse soldate oefenspronge uitgevoer het ter voorbereiding van die gesamentlike militêre oefening Shared Accord 2013.

Nóg ’n omgekeerde fotosoektog het getoon die foto van ’n Chinese soldaat wat kniel by ’n Suid-Afrikaanse soldaat met ’n geweer is in 2017 tydens die Internasionale Weermagspele in Hubei, China, geneem.

Die duikboot wat verlede week aan die kus by Kleinmond kus in die Wes-Kaap gewaar is, is ook nie Chinees nie.

Kapt. Jaco Theunissen, hoof van die operasionele eenheid van die Suid-Afrikaanse vloot het aan Netwerk24 bevestig die duikboot is Suid-Afrikaans.

“Die duikboot is ontplooi om grense te beveilig,” het hy gesê. Volgens Theunissen is die hoofdoel van die operasie om die “onwettige beweging van mense en goedere oor die landsgrense te verhoed” en om “Suid-Afrika se mariene hulpbronne te beskerm teen onwettige stropers”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Baardman ·

Darren, die waarheid sal mos nie aan jou bekend gemaak word nie. Hulle woeker onder jou neus en bedrieg jou net soos vir ons

Nie Verbaas ·

Waarvoor sal polisie se lede Mandaryn wil leer praat? Is daar n groter prentjie? Waar daar n rokie trek is daar n vuurtjie.

Toktokkie ·

O my word!! Hoekom moet ons Suid-afrikaanse polisie en metro leer mandarin praat???!!! Hierdie stel my glad nie gerus nie. Maak my eintlik meer bekommer. Natuurlik sal hulle nie mense kan in hegtenis neem nie, maar as mens kyk na metro se optrede teenoor vroue en hul menseregte skendings teenoor ons landsburgers maak die chinese invloed al hoe meer sin. Kry hul lesse in mandarin of lesse in hoe om kommunisties op te tree?

Willie ·

Toktokkie, dit is maar net sodat ons ouens kan verstaan wat die polisie sê.

Peet ·

Dit is baie maklik – gaan kyk na die vragmotor wat dit vervoer se registrasie nr’s. Almal is Namibiese nr. In 2018 het die fotos ook almal op hol gehad. Fotos is in Walvisbaai geneem. Voertuie oppad na Botswana. Namibiese regering het ‘n verklaring destyds daaroor uitgereik.

Peet ·

Dit is baie maklik om dit as fopnuus te identifiseer. Alle vervoer trokke het Namibiese registrasie nr’s. Die plek is defnitief Walvisbaai en die video is geneem vanaf die Shell garage op die pad uit Walvisbaai. In 2018 was dit dieselfde foto’s wat opslae gemaak het.

Fedup ·

I’m sorry, mm. Appreciate that you went and have a looksie at this small people and their “business ” we just don’t like. But as long as they are here, strengthening their foot hold and being such good friends with this circus, i don’t buy it.

Johnny ·

MM:
Nie-winsgewend: bedryf tans sake teen ‘n verlies, ten spyte van moontlike ingesteldheid op wins maak
Nie-winsbejag: is glad nie ingestel op wins nie

TC ·

Waar daar n rokie is is daar n vuurtjie. Onder draai die duiwel def rond

Leon ·

My vraag is, hoeveel van die duisende Chinese wat so lekker maklik in die land inkom is nie lid van die Chinese intelligensie diens of weermag nie. Hulle word nie behoorlik nagegaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.