FOR SA hof toe oor kerke wat nie mag open

Argieffoto (Foto: sspiehs3/Pixabay)

Freedom of Religion South Africa (FOR SA) het hom Maandag tot die Johannesburgse hooggeregshof gewend om die regering te dwing om die huidige en onbepaalde verbod op godsdienstige byeenkomste op te hef.

FOR SA vra in hofstukke spesifiek dat die godsdienssektor oor dieselfde kam as casino’s,  gesondheidsklubs, rolprentteaters en restaurante geskeer moet word wat betref die grootte van toelaatbare byeenkomste.

Die organisasie vra dat die regering wetenskaplike bewyse verskaf oor waarom alle geloofsgebaseerde byeenkomste tydens die aangepaste vlak 3-regulasies verbied word, terwyl ander, soortgelyke byeenkomste wel toegelaat word.

Hy vra ook dat, hangende die verskaffing van hierdie inligting, geloofsbyeenkomste mag plaasvind op voorwaardes wat nie minder gunstig is as dié wat op ander byeenkomste van toepassing is nie, maar steeds onderhewig is aan toepaslike gesondheid- en sanitasieprotokol en sosiale afstand.

Die organisasie versoek dat godsdienswerkers erken moet word as noodsaaklike werkers wat ʼn noodsaaklike diens lewer.

FOR SA se aansoek aan die hof word ondersteun deur verskeie kerke en godsdienstige organisasies wat glo dat die verbod neerkom op onbillike diskriminasie teen die godsdienssektor en ʼn growwe skending van hul grondwetlike reg op godsdiensvryheid.

“Dit wys daarop dat godsdiens, vanweë sy wesenlike belang as mensereg, selfs groter grondwetlike beskerming geniet as die ekonomiese sektor,” sê Michael Swain, uitvoerende direkteur van FOR SA.

“Ons glo dat godsdiensleiers, wat aan die voorpunt gestaan het om hul gemeentes verligting, vertroosting en ondersteuning tydens hierdie pandemie te bied, toegelaat moet word om die besluit te neem om hul persele vir geloofsgebaseerde byeenkomste te open of nie,” sê Swain.

Die argumente en verligting in die aansoek van FOR SA stem baie ooreen met sake wat onlangs in Duitsland, Switserland, Frankryk en die VSA beoordeel is, waar howe regulasies van die hand gewys het wat onregverdig teen geloofsgebaseerde byeenkomste en aanbiddingsplekke gediskrimineer het.

FOR SA voer ook aan hoewel talle godsdienstige organisasies aanlyn platforms gebruik om hul gemeentes te bereik, het die verbod op persoonlike byeenkomste ʼn diskriminerende uitwerking op meer behoeftige gemeenskappe wat nie die data of tegnologie daarvoor kan bekostig nie. Dit het ʼn ernstige uitwerking op hul reg om hul godsdiens te beoefen.

“Ons erken die regering se moeilike taak om die balans tussen lewens en lewensonderhoud te bewerkstellig, veral tydens die erns van die tweede golf van die Covid-19-pandemie. Dit is egter belangrik om steeds alle sektore van ons samelewing gelyk te behandel.

“FOR SA het vantevore al verskeie briewe aan die regering gerig oor sy hantering van die godsdiensgemeenskap tydens die afsonderingstydperk, grotendeels sonder reaksie.

“Ons het nou geen ander keuse nie as om die hof te vra om die regulasies te hersien sodat ʼn billike beoordeling gemaak kan word of die regering se beslissing redelik en regverdigbaar is in ooreenstemming met die vereistes van die regsreël, die Grondwet en regverdige administratiewe optrede.”

FOR SA se aansoek volg op ʼn afsonderlike aansoek wat die Suid-Afrikaanse Nasionale Christenforum (SANCF) verlede week in die Johannesburgse hooggeregshof ingedien het. Dié saak is uitgestel tot 2 Februarie.

FOR SA vra dat sy aansoek gesamentlik aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

OppieProvince ·

Dit is omdat Kerke so maklik toe gemaak kan word dat gaan met hierdie land soos dit gaan. Huidige Leiers blyk nie baie Christelik te wees nie…..

Samuel ·

Dit is baie maklik om kerke te sluit, ja. Die geestelike leiers is ook maar soms die wêreld ter wille. Christene moet opstaan vir hulle geloof.

Jaco ·

Selfs in ateïstiese kommunistiese lande, daar waar baie ANC leiers in ballingskap was, het kerke meer vryhede gehad.

Samuel ·

Die kerke dien nie die regering se beleid nie. Geestelike waardes gebaseer op God’s woord, het geen betekenis vir ons leiers nie.

Sonia ·

Hoogtyd dat kerke begin opstaan vir ons reg as gelowiges om byeen te kom – sekerlik was dit so in die Konstitusie opgeneem en saam met al ons ander regte mag die regering dit nie net verander nie.

Dirk Mostert ·

Hoe kan van die Staat wetenskaplike bewyse verwag word, as die Staat geen regte wetenskaplikes het nie? Inperkingsregulasies is ‘n belediging vir ‘n wetenskaplike se intelligensie.

Vrijburger ·

Laat my raai – Die NGK is nie deel van hierdie aksie om die kerke weer oop te kry nie?

Johan ·

Ja laat weet bietjie…of kruip hul nou weer by die regering.

Daleen ·

Ons kerk is nog heeltyd vandat vlak 3 ingestel is oop – hoe? Hulle het nie agteroor gesit nie hulle het dadelik ‘n verhoog gebou en die klanksisteem en luidsprekers word elke sondag na buite gedra. Ons almal parkeer in parkeerterrein en het “drive-in” diens. Ons aanbid nog steeds – hoekom kan ander kerke nie ook plan maak nie. Waar daar’ n wil is is daar ‘n weg.

Porseleintjie ·

Christen vervolging is n realiteit. Dit is maar die eerste tree om deure te sluit. Deur passief te wees daaromtrent stem ons daartoe in. Waarom hou die moslems vrydae steeds kerk? SA sal darem n opstand beleef indien dit gestop word.

Hoopvol ·

Ons moet onthou dat die Kerk in stryd is met ons regering se kommunistiese beleid. Ons kan nie verwag hulle moet ons ondersteun nie, maar ons sal moet besin oor waar ons staan teenoor God, en opstaan teen hierdie ondermyning van ons godsdiens. Met godsdiens bedoel ek nie oppervlakkige dien van God nie, maar soos die Bybel sê : “En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.”
ROMEINE 12:1 AFR83
Ons mag nie toelaat dat ‘n goddelose regering óns keer om ons godsdiens te beoefen nie!

John ·

Die histeria rondom hierdie is dat Kerke toegemaak is agv die mening dat hulle “hotspots” is….maar…..
kom kyk na die statistieke….sedert die kerke toe is is daar nog steeds meer en meer infeksies…dit moes mos nou afgeneem het? Die “hotspot” is nou toe ! Ons is nie dom nie, asseblief! Dieselfde geld vir “Ivermectin” DIT WERK ! Maar nee blok dit, verban dit! Waaroor gaan dit alles?
Hierdie mense is beslis atiëste of sal ek sê Anti-Christene…….

Rosie ·

Hou huisgodsdiens elke dag by jou huis, jy en jou gesin – nie net sondae nie. Keer terug na jou Skepper!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.