Forensiese patologie-instituut maak deure oop in Kaapstad

Die nuwe forensiese patologie-instituut is langs die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad geleë (Foto: Ayanda Ndamane/African News Agency/ANA)

ʼn Nuwe staatslykhuis in Observatory, Kaapstad, sal in April sy deure oopmaak, het Bonginkosi Madikizela, die LUR vir vervoer en openbare werke, Maandag gesê.

Hy het die Observatory- forensiese patologie-instituut (Ofpi), wat by die ingang van die Groote Schuur-hospitaal geleë is, besoek om die vordering van die konstruksiewerk te monitor.

Konstruksiewerk aan die fasiliteit ter waarde van R287 miljoen het in April 2017 begin en dit sou na verwagting in Maart 2019 reeds gereed gewees het. Daar was egter verskeie vertragings weens die omvang van die projek en konstruksiewerk is opgeskort tydens die landswye afsonderingsperiode. Vordering was ook onderworpe aan vertragings met die permanente elektriese-, water- en siviele verbindings.

Madikizela het gesê dié uitdagings was buite hul beheer, maar hy gee sy onverdeelde aandag aan die projek om seker te maak dit word afgehandel volgens die hersiene skedule.

“Sowat 11 000 lykskouings moet jaarliks in Wes-Kaapse forensiese fasiliteite gedoen word en 70% van die gevalle kom in die Kaapstadse metro voor,” het Madikizela gesê. “Dié gevalle het beduidend toegeneem weens sterftes tydens die Covid-19-pandemie.”

Die lykhuis in Soutrivier, wat die hele Kaapse wes-metropool, suidelike voorstede, Klipfontein en die Kaapse Vlakte bedien, kan al jare lank nie meer die druk hanteer nie.

Die nuwe forensiese patologie-instituut word deur sy departement gebou en sal beduidende kapasiteit tot die provinsie se bestaande patologiedienste byvoeg. “Die doel van my besoek vandag is om die vordering en die stand van gereedheid te monitor.”

Die fasiliteit huisves alles onder een dak: opleiding, navorsing, lykskouing, administrasie, plek vir berging en laboratoriums. Dit sluit 26 outopsie-tafels, vier ontledingskamers met ses tafels elk, opleidingsvertrekke waar ontledings gedoen kan word, en 360 yskaste in. Die gebou kan 100 besoekers, 10 ondernemers en 20 studente hanteer.

“Ons is baie trots daarop om ʼn laboratorium van die hoogste standaard te bou wat verder die beeld van die Wes-Kaap uitbou as ʼn sentrum van uitnemendheid vir mediese en verwante dienste,” het Madikizela bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Flip ·

Daarshy Wes Kaap, wys hoe dit gedoen word. Spandeer die belastingbetaler se geld op vooruitgang om n beter diens te lewer en nie soos in ander plekke onder anc beheer op duur motors, huise en alles net plunder vir hulself….

Samuel ·

Welgedaan!! Hoop die ANC neem kennis van hoe geld aangewend moet word tot voordeel van die samelewing.

Johan ·

…..hoe sal die stomme Bongin’ nou weet van ‘toe of oop deure’ by ń lykshuis?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.