Foto’s: Betogers vaar strate in oor beurtkrag

Betogings in Kaapstad (Foto:
Robert Dalton/Twitter)

Soos ʼn see van blou het honderde DA-lede Woensdag die strate van Johannesburg ingevaar en na die hoofkantoor van die ANC opgeruk om teen die voortdurende beurtkrag te betoog.

Bordjies waarop staan “genoeg is genoeg”, “gee mag aan die mense” en “beurtkrag is besig om werksgeleenthede dood te maak” is deur betogers in die lug geswaai.

Daar was ʼn sterk polisieteenwoordigheid in die Goudstad met owerhede wat gesê het hulle verwag dat ongeveer 5 000 mense in Johannesburg, wat ʼn bevolking van ongeveer 5,5 miljoen het, sou opruk.

ʼn Paar honderd ANC-ondersteuners het ook by die party se hoofkantoor bymekaargekom vir ʼn teenbetoging.

Betogings is ook op ander plekke landwyd beplan, onder meer in Kaapstad, Kimberley, Kuruman en Upington.

 

 

 

‘Kos is vrot’

Suid-Afrikaners het in die skare hul misnoeë uitgespreek oor beurtkrag en die negatiewe uitwerking wat dit op hul lewe het.

“Ons moet ons fone op sekere tye laai. Ons moet op sekere tye kook. Ons moet nie so in Suid-Afrika hoef te leef nie,” het Marino Hughes, ʼn 22-jarige student, gesê.

Die beurtkrag het die land al honderde miljoene rande aan verlore uitset uit die sak gejaag, wat handel en nywerheid ontwrig het.

“Ek moes vier winkels sluit en 20 mense het hul werk verloor, dit alles omdat ek nie my onderneming kan bestuur weens beurtkrag nie,” het Lloyd Peltier (40), ʼn pluimvee-entrepreneur, gesê.

ʼn Landboubedryfsliggaam het gesê dat melkplase vandeesweek nie melk verkoel kon hou nie weens beurtkrag.

“Kos word vrot in ons yskaste … Wat doen die ANC?” het Mpana Hlasa (35), wat by ʼn skool werk, gesê.

Die betogers is ook vies oor die 18,65%-tariefverhoging in kragpryse wat die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) vroeër vandeesmaand goedgekeur het.

“Ek betaal reeds elke maand meer as R1 000 vir elektrisiteit en ek het omtrent niks krag nie,” sê Betty Lekgadimane (44), wat werkloos is.

DA-leier John Steenhuisen het die skare by die Lethuli-huis in Johannesburg toegespreek en gesê die kernoorsaak van die land se kragkrisis lê in die energie-ooreenkomste wat by Luthuli-huis aangegaan is.

“Daar het korrupsie en kaderontplooiing begin,” het Steenhuisen gesê.

“Saam sal ons misdaad, werkloosheid en swak dienslewering klop, maar vandag se uitdaging is die energiekrisis wat dreig om nie net ons brose ekonomie te ontspoor nie, maar die hele Suid-Afrika. As ons nie hierdie probleem gou oplos en beurtkrag vir eens en vir altyd beëindig nie, sal ons samelewing begin uitmekaarval. Ons is reeds naby aan breekpunt, en gemeenskappe oor die hele land se geduld het opgeraak. Ons moet krag aan die mense herstel voordat die situasie in chaos ontaard.”

“Genoeg is genoeg!” het die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, in Kaapstad vir die skare gesê.

“Ons moet die ANC in 2024 uitstem. Elke Suid-Afrikaner moet in 2024 uitgaan en stem.”

Pres. Cyril Ramaphosa het vandeesweek gesê dit is verstaanbaar dat mense keelvol is oor die kragkrisis wat verwoesting in die land saai, maar het gewaarsku dat dit nie “oornag reggestel kan word nie”.

Tydens ʼn ANC-vergadering vroeër vandeesweek het die president gesê die regering wil elektrisiteit invoer en ook hernubare energiebronne vir kragopwekking oorweeg.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

JohanEtz ·

Gee krag terug aan die mense = power back to the people
Nie “mag” soos hierbo berig is nie….
Beurtkrag leuse..

Althes ·

Ek is trots op almal wat opgeruk het, ons reg is ons reg. Die ANC verarm SA met hul hardkoppigheid.

Waarnemer ·

Ontsetel cyril en sy kaders dan sal die landcreggeruk word.

Reinette ·

As almal maar altyd kan saam staan. En se GENOEG IS GENOEG.. Maar die land is in chaos.. 30 Jr se probleme wat nou aankom….. Hoe gaan hul die probleme oplos…???

Papsak ·

Mooi DA flip hulle op want hulle wil net hulle way gedoen he gaan voort bou op die DA Mnr Steenhuisen doen moeite bravo hou aan wys hulle

Harley Davidson ·

En die ANC teen betoog so die stadige klomp verstaan nie wat die gevolge van die krag krisis is nie.

annie ·

En tragies is dit dat die DA, destydse die VP, plus die Progressiewe Party met Engeland as basisfront die liberale/kommunistiese ANC help vestig het. Hoekom nou skree, en hoekom nóú eers? Eskom is al vir jare aan die verval. Steenhuisen a la Zelenskyy soek groot aandag… En stemme.

trotsNAMSA ·

Verblydend om te sien al die blou hemde, sonder enige oproer. Dis die SA’ners wat SA hopenlik van ondergang kan red.
Dan weer, ANC sal altyd die meerderheid hê, dis te sê as ons jongmense hulle koppe kan optel en vir ‘n oomblik aan hul toekoms sal dink en gaan stem. Dalk bring die Russe vir SA kragopwekkers :)

Gert ·

Hoekom moet ons krag invoer as ons dit self kan produseer? Oplossing is eenvoudig jaag die dom en skelm skepsels weg en stel bevoegde mense aan om eskom van vooraf op te bou

Lourens ·

Wat het hulle nou eintlik bereik, behalwe om die verkeer te ontwrig?

Heinrich ·

Nêrens word melding gemaak van Rob Hersov se kragtige boodskap daar voor Lutuli Huis nie, hoop sy #voetsekANC veldtog kry goed momentum!

yahneh ·

Wow! Vir ‘n verandering meer positiewe as negatiewe kommentaar!

So gewoond wanneer ek die kommentaar lees dat die verval van ons mooie Suid Afrika duidelik sy tol onder die Suid Afrikaner eis. Sluit myself nie uit nie, soms is dit bitter moeilik, maar byt eerder my tong as om gal te braak. Sal eerder self blou aantrek en saamstaan. Sonder brandende bande en chaos soos alreeds genoem.

Wel gedaan bloues!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.