Foto’s: Bok-ondersteuners neem verlof vir trofeeparade

Die Springbokke word verwelkom in Kirkness-straat. (Foto: Tania Heyns)

Honderde Springbok-ondersteuners het Donderdag in die strate van Pretoria saamgedrom om die Springbokke en die Web Ellis-trofee in lewende lywe te sien. Ja, sommige het selfs verlof by die werk ingesit om in die joligheid van die trofeeparade te deel.

Die trofee-toer het Donderdagoggend by die Uniegebou afgeskop, waarna die Bokke deur Pretoria se strate in ʼn bus getoer het.

In Kirkness-straat voor Loftus Versfeld het ’n hoendervleis-atmosfeer geheers toe die bus om die draai kom met Franco Mostert en Dwayne Vermeulen wat die goue beker omhoog hou terwyl die skare hulle toejuig. Die res van die span het agterop dié bus gewaai en na die skare gewys totdat die bus enkele minute later in die volgende straat op die trofeeparade-roete verdwyn het.

Franco Mostert en Dwayne Vermeulen hou die Web Ellis-trofee vas. (Foto: Tania Heyns)

“Ek moes verlof insit vir vandag, maar dit is die moeite werd. Dit gebeur een keer in 12 jaar, so ons kon dit nie mis nie,” het Kobus van den Berg aan Maroela Media gesê. Kobus het saam met sy seun Willem in die vreugde voor Loftus kom deel.

“Ons gaan seker geskrewe waarskuwings by die werk kry. Dis fine,” skerts Omphile Huma op sy beurt. Huma het veral daarna uitgesien om kaptein Siya Kolisi te sien. “Ons is opgewonde. Ons kan nie wag nie!,” het hy vooraf gesê.

Logan Mashigo vertel dat hy as kind Bulletjie-rugby by Loftus gespeel het. “Dit is so ’n groot eer om hier te wees. Die ouens het so goed gedoen. Ek het grootgeword in die land toe dinge begin verander het. Om nou te sien wat die ouens bereik het deur saam te werk, is amazing,” vertel Mashigo. “Soos my vriend gesê het, ons gee nie om of ons ’n waarskuwing kry om vandag te kom kyk na die boytjies nie. Dankie Bokke!”

Anthea Mara (Foto: Tania Heyns)

Anthea Mara vertel haar man en skoonpa het die eindstryd in Jokohama in Japan gaan kyk. “Ons is groot, groot Bok-ondersteuners,” vertel sy voor Loftus soos ondersteuners elders in die straat “Shosholoza” sing.

“Dit is ongelooflik. Kyk net hoe sing almal. Jy kan nie hierdie gevoel beskryf nie.”

Adriaan Bouwer en Tjoppie Smit het vanoggend 05:00 uit Rustenburg in Noordwes gery om die Springbokke en die beker te sien. “Hier is ons! Die gees is awesome. ’n Mens kan die eenheid onder Suid-Afrikaners sien. Dis lekker,” sê Tjoppie.

Quintin Janse van Rensburg geklee soos Faf de Klerk. (Foto: Tania Heyns)

’n Skraps geklede Quintin Janse van Rensburg was vanoggend ’n hoogtepunt vir ondersteuners in Kirkness-straat. Hy was geklee in een van die nou bekende landsvlag-swembroekies waarin die Springbok Faf de Klerk ná die eindstryd in Japan paradeer het. “Watter ou ontmoet die prins in sy swembroek? Faffie het my inspireer.”

Leon Stoltz (11) en Wian Spannenberg (11) is albei kranige rugbyspelers en het in groen-en-goud opgedaag om die Springbokke te sien. Hoewel Leon se held Handré Pollard weens ’n gebreekte wangbeen nie aan die parade kon deelneem nie, het Wian daarna uitgesien om sy held Jesse Kriel te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Ida ·

My verlof is goedgekeur vir Maandag ????????????????????????????

·

Kom hulle Polokwane toe ook ons het hulle ook support!!!!!!!!!!?

Helien ·

Bly die bokke het gewen. Ek hou nie daarvan dat daar so n groot bohaai gemaak word oor die kaptein nie die media gaan aan of die kaptein van die Springbokke alleen die rugby gewen het.

Zoom Zoom ·

Met die bokke se wen Gaan dit voorspoed, geld, huise, net die beste mediese en geen misdaad en moord vir almal in SA bring.

D ·

Tog neem hy nie die eer vir homself nie, maar dank hy Jesus, sy spanlede en die afrigter Rassie Erasmus daarvoor en gebruik hy dit as voorbeeld dat ons land ook so kan saamstaan.

D ·

Helien – Tog neem hy nie die eer vir homself nie, maar dank hy Jesus, sy spanlede en die afrigter Rassie Erasmus daarvoor en gebruik hy dit as voorbeeld dat ons land ook so kan saamstaan.

Alida ·

Is daar nou geen misdaad nie? In your dreams. Na 95 het die hel losgebrand. Trots om die beker by ons te he.

koos ·

Ek werk in die Pretroria se middestad, seker nie die beste area om te werk nie, maar vandag was ek bevoorreg genoeg gewees dat my bestuurder ons die geleendheid gegee het om te gaan kyk, en met net sowat 5 min. se loop na Kerkplein toe.
Was wonderlik om dit te beleef!!!!

Lizelda ·

So bly daar was so baie ondersteuners @koos ek werk ook id Middestad en wat n lekker who-ha toe die Bokke vrby ons ry. Man dit was n awesome gevoel.

Michael P ·

Ag julle gaan nou so aan niemand het nog vir ou Elton Jantjies geloof dat hy die beste water draer by die wereld beker was nie.

Adri ·

Ai kan hul dit nie maar n publieke vakansie dag maak nie, dan hoef niemand n waarskuwing te teken of verlof in te sit nie… Baie geluk Bokke, julle is tops….

heksie ·

knyp vas daai beursies, selfone en sleutels. skelms weet net hoe om saggies dit te gaps dan laat spander hulle terwyl julle lekker kiekies neem. nee dankie ek sal op tv kyk (as ek nie beurtkrag het nie)

Tienie ·

En wat van môre?

Gaan ons versoen wees?

Die droom gaan nog n nagmerrie word!!

Lekker word die Lugkastele gebou. Ek wonder wie gaan dit die reënboog kleure verf……

Alida ·

Bly iemand stem saam met my. Niks gaan verander nie in teendeel

Humbug ·

Vandag helde more is meer as helfde van die ondersteuners draadsitters, skellers van spelers en ander mense. Geluk bokke maar kom ons kyk hoeveel werklike ondersteuners het Jul as Jul verloor.

Amelia ·

Ek dink nogal dit was ‘n eer om die bokke te sou kon sien. Hulle het gespeel vir die Wereldbeker. Ek is trots maak nie saak wat nie – ek het geskreeu en was hees en op en af gespring toe hulle wen. Wanneer laas het mens net so uitbundig gevoel. Dit was ‘n oomblik van triomf waar Suid Afrika saamgestaan het as een nasie, een stem.

AP ·

Ek het nogals yskoud geword toe die bokke bus onder die brug by Soweto stadium ry, bly almal is veilig.

Leon ·

Net jammer bokke bederf alles deur openlik in publiek op n bus bier te drink. Goeie rolmodelle

Prys die Boxies ·

Ag, gun tog die spulletjie om hul geliefde boxies te aanbid.

Sam ·

Dit voel vir my al te veel na afgodery … dis nét ‘n sport, mense! Daai goue beker kan maar in die vorm van ‘n goue kalf gemaak word. Rugby en ‘die beker’ het geen towerkrag om die land te red nie. Inteendeel.

En … hou maar vir God uit sport uit! Is dit die span wat die hardste bid, wat wen? Moet Hom nie na ons mensvlak aftrek en dink Hy bemoei Hom met die hop van ‘n bal nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.