Fotos: Brûe onder water in Centurion

’n Bakkie is Vrydag deur die sterk stroom van die Hennopsrivier in Centurion meegesleur [Foto: Verskaf]

’n Bakkie is Vrydag deur die sterk stroom van die Hennopsrivier in Centurion meegesleur toe die bestuurder van dié voertuig ’n laagwaterbrug probeer oorsteek het.

Reën het net voor verlede naweek in die Jakarandastad begin uitsak en het sedertdien nog nie skietgegee nie. Stad Tshwane waarsku teen moontlike kitsoorstromings in Centurion – waar die Hennopsrivier reeds sterk loop. Laagwaterbrûe in Rabie- en Endstraat is reeds oorstroom.

Volgens Thabo Charles Mabaso, woordvoerder van die departement nooddienste van die Stad Tshwane, het die nooddienste Vrydag omtrent heeldag gespook om die bakkie uit die water te kry. Die bakkie het na bewering ’n laagwaterbrug in Centurion oorgesteek en is toe deur die sterkvloeiende water meegesleur.

Die bestuurder van die bakkie het ongedeerd van die voorval afgekom [Foto: Verskaf]

“Die bestuurder van die bakkie het ongedeerd van die voorval afgekom. Hy moet egter nog identifiseer word,” sê Mabaso.

Mabaso sê die stad se rampbestuurspanne, metropolisie en ander belanghebbendes is sedert Vrydag op ʼn gereedheidsgrondslag geplaas ná waarskuwings van moontlike oorstromings. Dié rampspanne het laagwaterbrûe met ’n moontlike risiko vir oorstromings vir motoriste gesluit.

“Die stad sit egter met die probleem dat motoriste die versperrings wat voor die brûe geplaas is, oopmaak of verwyder om oor die brûe te ry. Die brûe word reeds gesluit om die veiligheid van motoriste te verseker.”

Die stad sit egter met die probleem dat motoriste die versperrings wat voor die brûe geplaas is, oopmaak of verwyder [Foto: Verskaf]

Mabaso doen ’n beroep op motoriste om – indien moontlik – nie in swaar reën te ry nie nadat ’n ongeluk Saterdag omstreeks 15:00 aangemeld is. Ses mense is beseer toe twee voertuie op die R511-pad in Centurion gebots het.

“Twee mense het kritieke beserings opgedoen, terwyl die oorblywende vier mense matige tot ernstige beserings opgedoen het. Al die pasiënte is per ambulans na nabygeleë hospitale geneem vir verdere mediese behandeling.”

“Een persoon was in een van die motors vasgekeer en paramedici het dié persoon bevry.”

Mabaso sê ʼn indien motoris op die pad gaan, moet hulle uiters versigtig op die nat paaie ry.

Mabaso sê ʼn indien motoris op die pad gaan, moet hulle uiters versigtig op die nat paaie ry [Foto: Verskaf]

Brûe onder water in Centurion [Foto: Verskaf]

“Motoriste moet ’n veilige volgafstand hou omdat die swaar reën hul sig kan belemmer. Motoriste moet ook ten alle tye hul hoofligte aanskakel.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Riaan ·

Ek bly al in Centurion vir amper 30 jaar, en die laagwater brue is nog altyd ‘n probleem. Hoekom nie al in die tyd die brue verbeter het nie.

Dit is dieselfde met die ou PTA/JHB pad, wat ligjare gelede alreeds ‘n dubbel pad MOES gewees het.

Pieter ·

As jy 30 jaar in Centurion bly, dan weet jy mos. Bly weg van die laagwater brue as dit onder water is.

Elizabeth ·

Ons mense leer nie! Dit is nie die eerste keer nie ook nie die laaste. Versekeraars moet hierdie tipe eise afkeur.

annie ·

Centurion het gegroei op plaasgrond buite die stad maar dit is dit. Lekker plaas. Maar die inwoners boer nou in die malls vir voorrade en daarvoor is nie voorsien gemaak nie. Laagwaterbrué kom uit toeka se dae en die paaie en strate daaromheen lê laag wat groot geld vra vir verbeteringe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.