Foto’s: Buthelezi gegroet

Roubeklaers tydens prins Mangosuthu Buthelezi se staatsbegrafnis. (Foto: GCIS)

Duisende mense, sommige geklee in tradisionele krygsklere, het Saterdag die staatsbegrafnis van prins Mangosuthu Buthelezi, voormalige leier van die Inkatha Vryheidsparty (IVP) en tradisionele premier van die Zoeloes, bygewoon.

“Die son het gesak op ’n era en ’n lewe wat ’n impak op ʼn groot deel van ons land se moderne geskiedenis gehad het,” het pres. Cyril Ramaphosa aan roubeklaers in Ulundi gesê.

​Oudpresidente Jacob Zuma en Thabo Mbeki was ook teenwoordig.

Oudpresidente Jacob Zuma en Thabo Mbeki tydens die staatsbegrafnis. (Foto: GCIS)

Buthelezi, stigter en voormalige leier van die Inkatha Vryheidsparty, het vanaf 1994 tot 2004 as die minister van binnelandse sake in die kabinette van Nelson Mandela en Thabo Mbeki gedien.

Buthelezi was egter in ’n stadium in ’n bitter wedywering met die ANC gewikkel nadat hy destyds uit die ANC weggebreek het om die Inkatha Vryheidsparty in 1975 te stig.

Ramaphosa het Saterdag toegegee hy en Buthelezi het “nie altyd saamgestem nie”.

“Op politieke vlak het ons nie altyd saamgestem nie. Ons het ons dikwels aan opponerende kante van die een of ander saak bevind. Hy het nooit weggeskram van ’n skerp woord, kritiek of om van mening te verskil nie …

Pres. Cyril Ramaphosa tydens prins Mangosuthu Buthelezi se staatsbegrafnis. (Foto: GCIS)

“Hy was nie ’n man wat van brandende vraagstukke weggeskram het nie. En hy het sonder vrees standpunt ingeneem vir wat hy gereken het reg is.

“En tog het die gees van kameraderie, respek, empatie en begrip van die geweldige probleme wat ons in die gesig staar met die heropbou van hierdie land, al ons interaksies gekenmerk.

“Hy het respek gehad vir die gesag van die staat en het die instellings van ons demokratiese bestel verdedig.”

Pres. Cyril Ramaphosa tydens prins Mangosuthu Buthelezi se staatsbegrafnis. (Foto: GCIS)

Ramaphosa het ook gesê hy het bewondering vir Buthelezi nadat hy sy begeerte uitgespreek het dat die IVP en die African National Congress permanent versoen en saamwerk om Suid‑Afrika op te bou.

“As ’n ouer staatsman het hy waardigheid verpersoonlik.”

Prins Buthelezi is verlede Saterdag in die ouderdom van 95 oorlede. Buthelezi het op 27 Augustus sy 95ste verjaarsdag in die hospitaal deurgebring. Hy het in Julie ʼn roetine-ondersoek ondergaan weens langdurige rugpyn, maar moes in Augustus weer opgeneem word ná hy ’n komplikasie ontwikkel het ná die prosedure.

‘n Staatsbegrafnis vir prins Mangosuthu Buthelezi. (Foto: GCIS)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bolandse Nooi ·

Vaar’land, ek het Saterdag gewonder hoeveel keer kan 1 ou nou begrawe word? Ek het toe al tred verloor met al die begrafnisdienste wat vir hom gehou is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.