
Minstens een persoon is dood en tientalle ander beseer in die ongeluk op die M7 naby Durban. (Foto: Netcare 911)
Tientalle nooddienswerkers en twee helikopters is Woensdagoggend na ʼn toneel op die M7 naby die Bellvilleweg-afrit by Durban ontbied, nadat drie vragmotors, waaronder ʼn tenkwa en ʼn konstruksievragmotor, in ʼn ongeluk betrokke was.
Die bestuurder van die vragmotor is op die toneel dood verklaar en minstens vyftien ander mense is beseer, het Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, gesê.
Twee van hulle is in ʼn ernstige toestand en is met helikopters na nabygeleë hospitale geneem.
Expect long traffic delays after a horrific crash on the M7 in KZN #ArriveAlive @rescuecare pic.twitter.com/wqQba0OetA
— Arrive Alive (@_ArriveAlive) November 13, 2019
Buiten die drie vragmotors was nóg ses voertuie in die ongeluk betrokke. Verskeie van die voertuie het in die botsing aan die brand geslaan.
“Verskeie pasiënte is op die bane in al twee rigtings aangetref, soos wat mense van die vlamme probeer vlug het,” het Jamieson gesê.
Die pad is vir verkeer in albei rigtings gesluit en groot verkeersopeenhopings is veroorsaak terwyl nooddienswerkers die situasie onder beheer gebring het.
Arrive Alive het motoriste gewaarsku dat vertragings op die pad nog ʼn geruime tyd gaan duur.
Die polisie sal die oorsaak van die ongeluk ondersoek.
- (Foto: Rescue Care)
- (Foto: Netcare 911)
- (Foto: Netcare 911)
- (Foto: Netcare 911)
- (Foto: Netcare 911)
- (Foto: Durban Traffic Alerts)
- (Foto: Netcare 911)
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
23 Kommentare
Spoed kos bloed !!
Treintjie hoe dink jy gaan die goedere van die stasies of van die hawens uitkom waar dit hoort of van die fabrieke af tot by die stasies en hawens.
Mense, ek was een maal op die R21 toe ‘n petroltenk aan die brand slaan. Seker 5 ure daar vas gesit.
Hennie,
Alles met spoed te doen
Dit kan nogal verwarrend wees vir ons Kapenaars…synde dat ons ‘n Durbanweg-afdraai het by Bellville. Ons het nie ‘n M7 nie, net ‘n slakkepas N1.