Foto’s: Diepseemonster groet Mosselbaai

Foto: Transnet se haweowerheid

Gister was hy nog daar en teen sonsopkoms vanoggend het hy reeds oor die oseaan se horison verdwyn. Maar in Mosselbaai sal dit nog lank gons oor die monsteragtige olieboorplatform, die Deepsea Yantai, wat sedert Maandag buite die hawe voor anker gelê het.

Inwoners kon hul oë nie glo nie en baie mense was selfs ontsteld oor die rooi gevaarte want hulle het gedink hy – of dalk is dit sy – is nou permanent op die dorp se voorstoep. Ander het na hul lang lense gegryp want die Yantai het die plaaslike olieboorplatform, die Orca, soos ʼn speelding laat lyk.

Op Facebook het dit gekook. Jennifer Church Joubert het geskryf sy het vir ʼn oomblik gedink die platform was op pad na die Brulpadda-olieveld wat onlangs in die diepsee naby Mosselbaai ontdek is. Jerome Steenkamp het gesê “hou hom sommer hier dat hy sy job kan doen”.

Shirley Moos het vertel dat ʼn vrou hoogs ontsteld vir PetroSA gebel het omdat sy geglo het dis hulle olieboor en dat die see besoedel gaan word. Nog ʼn Mosselbaaier, Shaun Theron, het grappig voorspel dat die platform in Mosselbaai gaan bly en dat almal gaan werk hê en skatryk gaan word.

Die hawe-owerheid het toe laat weet dat die Deepsea Yantai in Mosselbaai is om bemanning om te ruil en ʼn bietjie onderhoud te laat doen. Die platform is van Singapoer op pad na Las Palmas in die Kanariese Eilande, maar die eindbestemming is die Noorweegse sektor van die Noordsee.

Foto: Transnet se haweowerheid

Neptune Energy, een van Europa se grootste onafhanklike olie-eksplorasiemaatskappye, het vroeër vanjaar aangekondig dat die Deepsea Yantai 16 olieboorgate aan die kus van Noorweë gaan bedien.

Aanlyn word daar al vir jare oor die monster van ʼn olieboorplatform gepraat. Die Deepsea Yantai is deur die Chinese maatskappy CIMC Raffles gebou en het vyf jaar geneem om te voltooi. Dis in Junie vanjaar in die Yantai-skeepswerf in China te water gelaat en toe as die Deepsea Yantai herdoop na dit voorheen as die Beacon Atlantic bekend was. Dit vaar onder die Bahamas se vlag en word deur die Noorweegse Odfjell Drilling-maatskappy bestuur.

Die Deepsea Yantai is ʼn sesde generasie semi-onderwaterolieplatform en is spesifiek gebou vir die moeilike weersomstandighede in die poolstreke. Dit het ʼn bruto tonnemaat van 24 000 en ʼn dooie gewig van 17 670 ton en kan tot 8 000 meter diep vir olie boor in water met ʼn diepte van 500 meter.

Transnet se haweowerheid sê Mosselbaai is goed toegerus om groot  vaartuie soos the Deepsea Yantai te diens al is dit die kleinste kommersiële hawe aan die Suid-Afrikaanse kus is.

Die hawebestuurder, Shadrack Tshikalange, het al die rolspelers geprys wat gehelp het om die Deepsea Yantai veilig in Mosselbaai te laat vasmeer. “Ons waardeer die geleentheid wat ons gegun is om ʼn vaartuig van dié grootte by te staan en hoop dat ons in die toekoms ook die vertroue van ander internasionale instansies sal hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

wraggies ·

Noorwee tree op soos heiliges wat “groen energie” aanbetref maar niemand se iets oor die boordery met hierdie monsteragtige masjiene en die verkoop van die olie, of hoe.

Kallimaari ·

Ek neem dus aan jy stap orals waar jy wil wees, en gebruik nooit ‘n motor nie, of hoe?

Koos ·

Snaaks hoe mense, wat van energie afhanklik is, kla as hulle sien hoe die energie verkry word. Hulle gebruik petrol en elektriesiteit maar wil nie weet waar dit vandaan kom nie.

Lectric ·

En ons word vertel dat elektriese motors binnekort al die petrol en dieselvoertuie gaan vervang! En aardverwarming die gevolg van fossielbrandstof is! Fopnuus ?

Gefasineerd ·

Dit was regtig nogals iets om te sien. Selfs vanaf Glentana was dit baie duidelik dat die’ boord baie groter as ons permanente een is. Dit was selfs besonders om in die aand te bekyk. Dankie MM – nou weet ons waarna ons gekyk het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.