Fotos: Gemeenskap gryp in toe skool oorstroom

Tientalle lede van die gemeenskap het Saterdag ingespring en gehelp om die skool op te ruim [Foto: Verskaf]

Bestuurslede van Laerskool Kameelfontein, noordoos van Pretoria, het nie gedink leerders sal Maandag kan skoolgaan nadat die skoolterrein Vrydag erg oorstroom is ná die swaar reën nie.

Lede van die gemeenskap en ouers het egter Saterdag self moue opgerol om die skoolterrein op te ruim en honderde tonne vullis van die terrein te verwyder.

Swaar reën- en donderbuie het van Vrydagmiddag in dié omgewing voorgekom. Weens die reën het massas modder, water en klippe die skool se parkeerterrein, stoepe, store, van die klasse en die personeelkamer oorspoel.

Meer as 12 tien ton trokvragte se modder is uit die skoolterrein weggery. Die water in die personeelkamer en van die klaskamers was byna kniediep.

Dit is die eerste keer in meer as agt jaar dat die skool sulke erge oorstromings gehad het.

Karen Dearlove, waarnemende hoof van Laerskool Kameelfontein, sê massas reënwater het met die grondpad – wat voor die skool verbyloop en teen ’n helling geleë is – afgeloop en die skool oorstroom.

Meer as 12 tien ton trokvragte se modder is uit die skoolterrein weggery [Foto: Verskaf]

“Die skool se waterafvoerstelsel kan die water wat van die skoolterrein afkomstig is, hanteer, maar hierdie massas water was net té veel vir die stelsel om te hanteer,” het sy gesê.

Die afvoerstelsel is deur modder en water verstop en só het die water net opgebou.

Dearlove sê sy het Saterdag net ná 06:00 ’n boodskap ontvang dat die skool onder water is. Sy is dadelik skool toe en die prentjie wat sy daar gesien het, het haar oë laat rek.

“Ek het gedink ons sal die skool vir die week moet sluit.”

Die ouers van die skool is op ’n Whatsapp-groep oor die skade ingelig. Hulle het toe besluit om hul Saterdag op te offer en te gaan help opruim.

Die ouers en lede van die gemeenskap het kragte saamgesnoer om die skoolterrein binne ʼn dag op te ruim sodat die kinders Maandag weer soos normaal skool toe kon gaan.

“Ons het teen 09:00 begin skoonmaak en is eers die aand omtrent 18:00 huis toe,” vertel Daleen Gouws, ’n ouer van die skool.

“Ons het die meubels uit die geraakte klaskamers gedra en met moppe die water en modder opgewas.”

’n Groot seringboom het boonop reg voor die ingang van die skool omgeval. “Een van die pappas het met ’n kettingsaag ingespring en sommer vinnig die boom in stukkies opgesaag sodat dit weggery kan word,” vertel Dearlove.

Van die klaskamers was vol water [Foto: Verskaf]

Dearlove sê die skool is besig met ’n opname om die omvang van die skade te bepaal.

“Ons het groot waterskade gehad. Van die klaskamers se teëls het opgelig, die mure se verf is afgedop en van die meubels wat waterskade opgedoen het, is tot niet.”

Die skool se speelterrein is verlede jaar nuut oorgedoen en het ook waterskade gely.

Dearlove sê dit is ’n wonderwerk dat die kinders wel vandag skool toe kon gaan.

’n Groot seringboom het boonop reg voor die ingang van die skool omgeval [Foto: Verskaf]

“As die gemeenskap nie ingespring en gehelp het nie, sou ons nie vandag soos normaal kon voortgaan nie. Om te sien hoe almal uit hul pad gegaan om te help was oorweldigend. Dit is wonderlik om te sien hoe iets moois uit ’n tragedie soos hierdie ontstaan het.”

Volgens Dearlove is dit belangrik vir die kinders om soos normaal skool toe te kan gaan omdat hul onderrigtyd vir lank weens die Covid-19-pandemie ontwrig was.

“Een van die ouers het Saterdag vir my gesê hulle sal alles in hul vermoë doen om hul kinders normaliteit te gee – en dit is om hulle skool toe te stuur na ’n normale skoolopset. Dit is van kardinale belang vir die kinders se sosiale en emosionele welstand.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Swerwer ·

Genadeland! En weereens die bewys van die ouers wat saamstaan en inspring om op te ruim en die Nuwe Suid Afrikaanse Regiering/Onderwysdepartement skitter in hul afwesigheid

Misky ·

Ons kon nie help om dadelik die groot groep blankes te sien wat ingryp en omgee vir hul kinders se opvoeding nie. Was die skool nou in afgeleë area, het dit nie gebeur nie en onder die boom gesit vandag en wag vir ander om dit te doen. Welgedaan aan elkeen wat ingespring het. Dit wil gedoen wees!!!!!

Johanna ·

Waar is SABC 2 en E-NUUS ons het sulke nuus nodig op Sosiale Media. Dis GOEIE NUUS

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.