Foto’s: Hiep, hiep … vir hondekoek!

Smullekker in pienk. Die Voortrekkermonument se honde het heerlik weggelê. (Foto: VTM)

Hulle verwelkom besoekers, help om die terrein te beveilig en as jy sommer net ʼn opkikker vir die gemoed benodig, is dié “beamptes” van die Voortrekkermonument altyd reg om te help. Veral as daar koek betrokke is …

En koek – ʼn helder pienk affêre kompleet met blomme en pootkoekies vir ekstra afronding – is presies waarmee ʼn groep van die VTM se honde Donderdag bederf is.

“Hulle bederf ons elke dag met hul vriendelike teenwoordigheid; ons het gedink dit is tyd om hulle ook te bederf,” sê Monica Mynhardt, ʼn verslaggewer by Maroela Media. Maroela Media se kantoor is op dieselfde perseel as die Voortrekkermonument geleë.

“Die snytjie koek was net wat die honde nodig gehad het om met ʼn ekstra huppel in die stap terug te keer na hul pos.”

Fanie, ‘n Anatoliese herdershond, het die eerste sny gekry. By hom is Jaco Cilliers, kultuurhoof van die FAK. Maroela Media se kantoor is in die agtergrond. (Foto: VTM)

Zandeleen Thygesen, ʼn senior datakoördineerder by Maroela Media, was verantwoordelik vir die bak van die brak-bederf. Thygesen verduidelik dat die koek net uit troeteldiervriendelike bestanddele bestaan. Dit sluit in glutenvrye meel, piesang, onversoete grondboontjiebotter, bakpoeier en water.

Die pienk kamma-versiersuiker bestaan uit jogurt wat met beetpoeier gekleur word.

Nandi is ‘n Australiese beeshond. En ‘n groot koek-eter. (Foto: Maroela Media)

Fanie, ʼn nege maande oue Anatoliese herdershond, het veral sy stempel van goedkeuring vir dié versiersel gegee. Fanie, pote netjies bymekaar terwyl hy geduldig (nee, nie regtig nie!) wag vir die koek om gesny te word, het die eerste proesel gekry.

En daarna was dit nie lank nie, of van die pragtige pienk koek was daar kwalik ʼn krummel oor.

“Dit is ʼn wonderlike gebaar – en die honde was baie opgewonde,” sê Gerhard Pretorius, kommunikasiebestuurder van die Voortrekkermonument.

Die koek het ook Kai se goedkeuring weggedra. (Foto: VTM)

Die VTM het vroeër vanjaar ʼn honde-eenheid in sy “Wenkommando” op die been gebring as deel van maatreëls om die terrein veiliger en selfs meer besoekersvriendelik te maak. Die kommando het ook ʼn fietsryerskorps en doen voetpatrollies om te verseker dat die veiligheid van die monument, besoekers en personeel geprioritiseer word.

“Ons doen ook perdepatrollies met vyf perde wat die Mooikrans-opleidingsinstituut aan ons geskenk het,” sê Pretorius.

“Dit is net nog ʼn veiligheidsmaatreël wat ingestel is.”

Monica Mynhardt, verslaggewer, en Zandeleen Thygesen, ‘n senior datakoördineerder by Maroela Media, maak reg vir die groot bederf. (Foto: Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Karoo ·

Nandi en Fanie sal in Kamp Vegters verander as hulle ‘n lekker vet karoo skaap tjopie kry i. p. v koek.

OU SAAR ·

Aaaaaaawh.
So dierbaar.
Daar net 1 ding wat my pla…
Kon hulle nie maar die koek op borde gesit het vir Nandi en Kai nie. Al was dit papierborde. Shame… ;-)

trotsNAMSA ·

My dag is gemaak deur honde en pienk koek. Die Wenkommando sal dié dag nooit vergeet nie ! Wie eet vleis as jy ‘n pienk koek kan eet ! Dankie vir die pragtige gebaar en die honde (en mense) het die dag duidelik geniet. Sien elke hond op sy/haar neus namens my. xxxxxxxxxxxx

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.