Foto’s: Klofie-matrieks vier uitstekende uitslae

Opgewonde matrieks van die Hoërskool Waterkloof ontvang hulle matriekuitslae. (Foto: Maroela Media)

Dit was Vrydagoggend net vreugdevolle omhelsings, breë glimlagte en trotse ouers waar jy kyk toe die matriekleerders van die Hoërskool Waterkloof hulle matriekuitslae ontvang het.

Dié Pretoriase skool is weer aangewys as een van die topdrie skole in Gauteng wat die beste presteer het in verlede jaar se eindeksamen.

Chris Denysschen, hoof van die Hoërskool Waterkloof, sê aan Maroela Media hy het verlede jaar gereeld met die matrieks gesels oor hulle houding en hoe dit hulle lewensrigting kan bepaal.

“Dit is belangrik dat hulle onthou hulle is die kaptein van hulle eie skepe en dat slegs hulle kan bepaal hoe die toekoms gaan lyk.”

Inge Venter het oorstelp aan Maroela Media vertel dat sy die sewe onderskeidings waarvoor sy gehoop het, in die sakkie het.

“Ek voel verskriklik verlig en dankbaar. Dit is net genade van Bo af, ek sou dit nie sonder die Here kon doen nie. Ons het deurgedruk en is bly dis nou verby.”

Sy beplan om rekeningkunde te studeer aan die Universiteit Stellenbosch.

Inge Venter en Lisa Janse van Rensburg. (Foto: Maroela Media)

Lisa Janse van Rensburg, wat ook sewe onderskeidings gekry het, sê sy was bekommerd oor haar wiskundepunte, maar dat sy wel die onderskeiding waarvoor sy gehoop het, gekry het. Sy beplan om rekeningkunde aan die Universiteit van Pretoria te studeer.

“Ek het deur my hoërskoolloopbaan so hard gewerk aan my wiskundepunte en dit was nog altyd een van my topvakke, maar met die eindeksamen was ek bekommerd oor hoe ek gaan vaar. Ek moes my geloof in die Here plaas en geduldig wag vir my punte, maar dit was senutergend.”

Jana Gous, wat internasionale sake aan die US gaan studeer, sê sy is verlig om haar punte te ontvang en dat sy ook die sewe onderskeidings waarvoor sy gehoop het, ontvang het.

“Dit was ʼn baie intensiewe eksamen. Ek is dankbaar vir die onderwysers wat ons gehelp het om voor te berei vir die eksamen en dis lekker om te sien die harde werk wat ons gedoen het, het vrugte afgewerp.”

Tamlyn Wessels verwys na haarself as ʼn “kultuurkind” en sê sy het drie onderskeidings gekry.

“Ná so ʼn wilde jaar lyk die punte eintlik goed. Ek het beter gevaar as wat ek gedink het. Ek gaan vanjaar ʼn oorbruggingsjaar neem en bietjie musiek maak, en dan sal ek besluit waarheen van daar af.”

Opgewonde matrieks drom saam om hulle uitslae te kry. (Foto: Maroela Media)

JC Steyn, wat binnekort met ʼn beurs by die beroepskollege Sol-Tech aansluit, sê hy voel hy kon beter gevaar het met sy punte, maar dat hy tog tevrede is met wat hy vermag het.

“Die jaar het rof begin met Covid wat nog bietjie gepla het, maar teen die einde van die jaar was dit regtig ʼn fees. Ek dink egter nie ek gaan skool mis nie!” sê hy met ʼn glimlag.

Marike Scherman, bemarkings- en kommunikasiebeampte van die skool, het dié leerders die beste vir die pad vorentoe toegewens.

“Ons is ongelooflik trots op ons matrieks se uitslae en deel in die blydskap van hierdie besonderse groep matrieks van 2022. Ons wens vir elke matrikulant die beste toe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

marisa ·

Ek weet elke ma dink sy donkie is ‘n resies perd en dis goed so …. maar ek sien nie kans vir al die uitslae en gebrag op facebook en al wat ‘n koerant is nie!!!

Cherokee ·

My geukwensinge ook aan die matrieks. Die fotos lyk asof slegs een helfte ge’photoshop’ is. Geluk jonge dames.

Surfer ·

Mooi so jul slimkoppe, wel gedaan deur hier moeilike tye van donkerte. Jammer jul moes so lank wag, maar ek dink julle verstaan dat alles om ons het agteruitgegaan en julle slimkoppe sal weet hoekom. En dis nie loadshedding se skuld nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.