Foto’s: Ontmoet die nuwe Mej. SA-finaliste

Die finaliste wat volgende maand om die kroon in die Mej. SA-kompetisie gaan meeding, is Dinsdag amptelik bekend gemaak.

Dié 30 vroue kom van reg oor die land en is deur ʼn paneel beoordelaars uitgekies. Onder hulle is twee mediese dokters, ’n prokureur, ’n handelsvlieënier, ’n omgewingspesialis, modelle, gegradueerdes en studente. Sommige het hul eie ondernemings begin, terwyl ander liefdadigheidsorganisasies bestuur.

Daar is ook die eerste transgender-vrou wat in dié skoonheidskompetisie sal meeding.

Gauteng het 12 finaliste opgelewer, gevolg deur sewe van die Wes-Kaap, vier van KwaZulu-Natal, drie van die Oos-Kaap, twee van die Vrystaat, een van Noordwes en een van Limpopo.

Uit hierdie groep sal 10 finaliste gekies word wat aan die finaal van die kompetisie sal deelneem.

Vanjaar se beoordelaars sluit in Bokang Montjane-Tshabalala – Mej. SA 2010, Liesl Laurie – Mej. SA 2015, Melinda Bam – Mej. SA 2011 en Tamaryn Green – Mej. SA 2018. Montjane-Tshabalala en Laurie het verlede jaar ook in die beoordelaarstoele gesit.

Die 30 finaliste lyk só:

Andile Mazibuko (23), van eMabedlane in Ulundi, KwaZulu-Natal, is ’n finalejaarstudent in homeopatie aan die Universiteit van Durban. In haar vrye tyd skryf sy graag in haar dagboek, lees, luister na musiek en dans.

Ané Oosthuysen (23) werk tans as assistent-onderwyser aan ’n laerskool in Vanderbijlpark, Gauteng. Sy studeer deeltyds vir haar NGOS-onderwyskwalifikasie. Sy het ook ’n BA-graad in sielkunde en sosiologie en honneursgrade in sielkunde en mediese sosiologie aan die Noordwes-Universiteit (NWU).

Bianca Bezuidenhout (22) kom van die Strand in Kaapstad en het ’n BA-graad in bemarkingskommunikasie. Sy is tans besig met haar honneurs in BA-mediastudie. Sy is ook ’n dansinstrukteur sowel as ’n sake-eienaar van haar eie swemklere-onderneming, genaamd She Succeeds.

Catherine Groenewald (23), van Constantia in Kaapstad, is besig met haar laaste jaar in BCom in visuele kommunikasie, met grafiese ontwerp as hoofvak. Sy is ook ’n barre-fiksheidsinstrukteur en voltydse model by Topco Models. Tydens die inperking het sy ’n aanlyn onderneming, genaamd Delish Bakery, begin.

Cheneil Hartzenberg (24) kom van Meredale, Johannesburg, en is ’n handelsvlieënier en senior vlieginstrukteur in ’n bestuursrol by ’n vliegskool. Sy het verlede jaar ’n digitale bemarkingskursus by UCT aanlyn voltooi en studeer tans vir haar lisensie vir lugdiensvervoer.

Danielle Marais (24) is afkomstig van Randburg in Johannesburg en het haar BCom-honneursgraad in entrepreneurskap en bemarkingsbestuur met lof geslaag. Sy is ’n handelsmerkbestuurder in 14 Afrikalande en die uitvoerende hoof en stigter van die liefdadigheidsorganisasie Walk in Freedom. Sy teken graag, lees, stap en bring tyd saam met mense deur.

Eloïse van der Westhuizen (26) kom van Panorama, Kaapstad. Sy het ’n BCom in bestuurswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch en ’n honneursgraad in logistiek- en voorsieningskettingbestuur voltooi. Sy het albei grade met lof geslaag. Sy is ook ’n bedryfsontleder en deeltydse model by Twenty Model Management.

Ferini Dayal (26) is van Kensington-Suid, Johannesburg, en het ’n graad in biomediese wetenskappe, met fisiologie as haar hoofvak, en die graad Baccalaureus in geneeskunde en snykunde – albei aan die Universiteit van die Witwatersrand (WITS) – voltooi. Na ’n internskap van twee jaar by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal is sy nou ’n gemeenskapsdiensdokter in Vosloorus by die Thelle Mogoerane-hospitaal.

Itumeleng Baloyi (23) kom van Seshego in Limpopo en is ’n voltydse student wat haar BTech/ gevorderde diploma in projekbestuur aan die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie voltooi het. Sy is ook ‘n deeltydse junior terreinbestuurder by ’n ingenieursfirma, sowel as ’n digitale skepper en vryskutmodel. Sy hou van seekos en haar ouma se morogo.

Jamie Cloete (23) woon in Edgemead, Kaapstad. Sy het ’n BA in sosiale wetenskappe aan die UK en ’n honneursgraad in omgewing- en geografiese studies aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Sy wil graag Barbara Creecy, die minister van omgewingsake, ontmoet om omgewingsuitdagings te bespreek en om ’n volhoubare verskil te maak om die vernietiging van ons natuurlike erfenis te bekamp.

Jeanni Mulder (24) van Seepunt, Kaapstad, is ’n voltydse model en beskryf haarself as meelewend, met ʼn sterk wil en opreg. Sy gee erkenning aan haar ma dat sy haar rolmodel was wat haar geleer het om ʼn veggees te hê, diep lief te hê en nooit bang te wees om passievol te wees oor wat jou gelukkig maak nie. In haar vrye tyd hou sy daarvan om uiting te gee aan haar kunssinnige sy, TV te kyk en poker te speel.

Kaylan Matthews (25) is van Gqeberha in die Oos-Kaap en is besig met haar finale jaar in menslike bewegingskunde aan die Nelson Mandela Universiteit. Sy is ’n lief vir oefen en ’n gesonde leefstyl. Sy wil graag haar graad gebruik om mense te motiveer om hulself te aanvaar en te leer om hul liggame lief te hê en verlief te raak op oefening en die voordele daarvan.

Keashel van der Merwe (22) is afkomstig van Roodepoort in Gauteng, en is ’n onafhanklike grimeerkunstenaar. Sy lees graag geestelike boeke en boeke oor emosies. Sy sê die beste ding van Suid-Afrika is die karakter van die mense, sy diversiteit, die kultuur, die kos en die kuns.

Kgaketsang Mathobisa (22) kom van Bochabela, Bloemfontein, en is ‘n derdejaarstudent aan die Universiteit van die Vrystaat (UV). Sy is tans besig met ‘n BA-graad in geïntegreerde organisasiekommunikasie. In haar vrye tyd geniet sy dit om grimeertruuks in te oefen. Haar tante se lasagne is haar gunstelingkos.

Kgatlhiso Modisane (27) is van Dorandia, Pretoria, en is ’n prokureur wat in die banksektor werk. Sy is ook ’n deeltydse student en studeer vir ’n kwalifikasie in belasting met die hoop om ’n geregistreerde belastingpraktisyn te word. Haar rolmodel is hoofregter Mogoeng Mogoeng, wat volgens haar haar werklik geïnspireer het om daarna te streef om ’n regspersoon met hoë etiese standaarde te wees.

Kgothatso Dithebe (26) kom van Centurion, Pretoria. Sy is tans besig met ’n LLB-graad in regte. Sy bestuur ook haar eie onderneming wat te doen het met konstruksie en die verskaffing van goedere en dienste. In haar vrye tyd gaan sy gimnasium toe, speel netbal en beproef graag nuwe resepte. Sy sê haar grootste prestasie was om haar eerste eiendom vanjaar te koop.

Lalela Mswane (24) is van KwaSokhulu, Richardsbaai in KwaZulu-Natal, en is ’n model en danser. Sy het ’n graad in regte aan die Universiteit van Pretoria (UP) behaal. Sy beskryf haarself as grasieus, met ʼn sterk persoonlikheid en noukeurig en sê dat sy graag die minister van indiensneming en arbeid, Thulas Nxesi, wil ontmoet om maniere te bespreek om die groeiende werkloosheidsprobleem te verlig.

Lehlogonolo Machaba (24), afkomstig van Oskraal, Letlhabile in Noordwes, het ’n diploma in mode-ontwerptegnologie aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) behaal. Sy werk by Invade Models en is die stigter en eienaar van die DeMollies-modehandelsmerk. In haar vrye tyd werk sy as vrywilliger by ’n plaaslike LGBTQIA-sentrum om jong mense te help om universiteit- en werksaansoeke te doen.

Licalle Isaacs (22) is van Plumstead in Kaapstad. Sy het gasvryheidsbestuur aan die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie studeer en het haar gevorderde diploma in geleentheidsbestuur verwerf. Sy hou daarvan om dokumentêre films, komedies en films te kyk, asook om verskillende restaurante op die proef te stel. Haar gunstelingmaaltyd is ’n mediumgaar biefstuk met sampioensous en ’n gebakte aartappel met gesmelte botter.

Lisanne Lazarus (25), van Amanzimtoti in KwaZulu Natal, is ’n bemarking- en handelsnaambeampte vir ’n plaaslike radiostasie. Haar rolmodelle is Basetsana Kumalo, “vanweë die manier waarop sy die platform van Mej. Suid-Afrika gebruik het as beginpunt vir haar toekoms ” en Priyanka Chopra Jonas, “’n vrou wat in ’n tradisionele huis grootgeword het, maar die onkonvensionele weg gekies het”. Sy sê haar “skuldige plesiertjie” is om roomys om middernag te eet.

Mawusive Sibutha (24) woon in Bloemfontein in die Vrystaat, maar verteenwoordig die Oos-Kaap, waar haar gesin in Ntabankulu woon. Sy het ’n BA-graad in sosiale wetenskappe en studeer sielkunde en bedryfsielkunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).

Moratwe Masima (24) is van Atholl in Sandton in Gauteng, en is ’n gekwalifiseerde mediese dokter wat haar eerste jaar internskap by die Charlotte Maxeke-hospitaal doen. Sy is ’n aspirant- plastiese en rekonstruktiewe chirurg.

Olin-Shae dela Cruz (27) kom van Bryanston in Sandton in Gauteng. Nadat sy ’n hoër sertifikaat in joernalistiek verwerf het, het sy ’n BA-graad in bedryfsadministrasie en  mediabedryfsbestuur verwerf. Sy is die medestigter van ’n bemarkingsonderneming, genaamd Swish EP, werk as rekeningbestuurder vir ’n media- en advertensieonderneming en rig netbal oor naweke af saam met Action Kidz South Africa.

Pearl Ntshehi (24) kom van Mamelodi en woon in Centurion, Gauteng. Sy het ’n BCom en LLB verwerf en is tans besig met haar BCom-honneursgraad. Sy hoop om ’n toegelate regspraktisyn te word. Sy sê haar grootste enkele prestasie was om die eerste vroulike president aan haar universiteit te wees.

Precious Mndalama (23) kom van Soshanguve, Pretoria, en is ’n derdejaarregsstudent aan Unisa. Sy beskryf haarself as ambisieus, passievol en prettig. Sy sê haar rolmodel wat sy die graagste wil ontmoet, is Naomi Campbell omdat sy ’n baie suksesvolle internasionale model en aktivis is wat haar daarvoor beywer om  sosiale ongelykhede uit die weg te ruim.

Pumeza Zibi (24), kom van Heideveld, Kaapstad, en studeer BTech in openbare betrekkinge bestuur aan die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie. Sy is ’n groot rofstoei-aanhanger en sy hou daarvan om katvideo’s op YouTube te kyk.

Savannah de Almeida (23) kom van Hillcrest, Durban, en is ’n sosialemedia- en digitale bemarkingspesialis. Sy sê skoonheidskompetisies is meer as net hare en grimering en uiterlike skoonheid en moedig vroue aan om hul unieke individualiteit te aanvaar en hulle te help om suksesvolle sakevroue te word. Die een ding wat sy aan Suid-Afrika wil verander, is om ’n einde aan geslagsgeweld te maak.

Tiffany Francis (22), afkomstig van Mulbarton, Johannesburg, is die eienaar van Tiffany K Models, sowel as ’n professionele model en mode-ontwerpstudent. Haar rolmodelle is haar ma en oorlede tante, wat albei haar die waarde geleer het van veerkragtigheid en empatie. Haar ideale vakansie sou ’n week in Italië wees met Frank Sinatra-musiek, strande en vir dae aaneen pizza eet.

Tshegofatso Molefe (26) kom van Kestell in die Vrystaat, maar woon in Maritzburg in KwaZulu-Natal. Sy het ’n LLB-graad aan die Universiteit van KwaZulu-Natal behaal en is tans besig met haar meestersgraad in gevorderde strafreg. Sy werk tans as ’n prokureur vir strafverdediging by Legal Aid South Africa, terwyl sy wag om toegelaat te word as ’n prokureur van die hooggeregshof.

Zimi Mabunzi (26) kom van eQonce (King William’s Town) in die Oos-Kaap en is ’n BCom-regstudent aan die Nelson Mandela Universiteit. Sy het ’n groot passie vir musiek en wil dit graag eendag bestudeer en self musiek maak. In haar vrye tyd hou sy van oefen, sing en kook.

Vir meer inligting, besoek: https://www.misssa.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Prontuit ·

sjhoe hier is regtig ‘n paar mooi gesiggies maar ja sal maar sien wie wen ne

MakersMark ·

Ha ha praat oor wêreld vrede, kindertjies en diere regte. Alhoewel die baie prysenswaardige doelwitte is, is dit holrug gery in die tipe kompetisies asook die persone wat daaroor praat is glad nie gekwalifiseer om daaroor te praat nie. Meestal wensdenkery.

Elmarie ·

Hier is sommer ‘n hele spul pragtige dames! SA het beslis van die mooiste vrouens ter wêreld, baie skryf nie eers in vir sulke kompetisies nie.

Marisa W ·

Pragtig en so slim almal van hulle – gelukkig hoef ek nie te kies nie :)

MakersMark ·

Gaap…..is daar enige doel of waarde aan die tipe kompetisies ? My opinie is dis maar ‘n spul snert.

Yolandie ·

Kan maar die kompitisie in die totaliteit stop sit wanneer transgender inskrywings nou kan kompiteer met pragtige vroue……..Lehlogonolo Machaba (regtig waar) geen neem deel aan jou eie kompitisies in jou gemeenskap en hou op om jouself in te wurm in ‘n kompitisie wat bedoel is vir vroue om aan deel te neem.

Karina ·

Almal is pragtig en baie geleerd daarby! Moeilik om te kies

Belinda ·

Niks mooier as n natuurlike rooikop soos die Cathrine Groenewaldt. Sy is natuurlik pragtig en dit sonder extentions en alles wat nog fake kan wees nie. Sterkte almal. Sal maar wag en sien met die groot dag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.