Foto’s: Oranjerivier se water begin sak

Upington-brug op Woensdag (Foto: Verskaf)

Sommige inwoners langs die Oranjerivier in die Noord-Kaap staal hulle vir kwaai oorstromings, maar kenners meen hulle het geen rede tot kommer nie omdat die rivier in die Benede-Oranjeriviervallei reeds sy piek bereik en watervlakke begin daal het.

Dié inwoners is egter nie heeltemal buite gevaar nie en bogemiddelde reënval word nog tot Mei vir die land se somerreënvalstreke voorspel. Riviere en damme sal na verwagting dus propvol bly.

Die Eiland-vakansieoord (Foto: Verskaf)

Nog reën kan ook verwag word met die sikloonseisoen wat nou begin het en tot einde April kan duur.

Die rivier het Maandag en Dinsdag sy piek op Douglas bereik, Dinsdag en Woensdag op Prieska en Woensdag en Donderdag op Upington. Die piek in Upington is tussen 4 500 en 4 600 kubieke meter per sekonde bereik.

Die rivier het ook Vrydag sy piek op Kakamas bereik en sal na verwagting Saterdag by die Augrabieswaterval bereik word. Dit behoort vir ʼn waterskouspel te sorg.

Vakansieoorde, inwoners langs die rivieroewer en boere langs die Oranjerivier in die Upington- en Augrabies-omgewing het die swaarste weens die oorstromings gekry. Oorde, huise, landerye en wingerde staan onder water. Sommige boere se druiwe-oeste is beskadig en rosyne het weggespoel.

Die meeste dorpenaars slaak ook ʼn sug van verligting.

“Dit was ʼn haarbreedte of daar was groter moeilikheid,” vertel Caroline Louw, ʼn inwoner van Upington.

“Die rivier het hom mooi gedra. Hy het op plekke stil verbygegaan.”

Volgens Sakkie Spangenberg van Sakkie se Arkie, was inwoners slaggereed indien die rivier sy walle oorstroom.

“Inwoners naby aan die rivier het sandsakke gepak en meubels in die onderste vertrekke van huise is uitgedra,” vertel Spangenberg.

Water het Maandag deur die duikweg op die dorp gestroom en dié pad was teen Vrydag steeds gesluit.

Louw sê inwoners het gemengde gevoelens oor die stampvol Oranjerivier. “Dit is omtrent ʼn skouspel van kolkende en skuimende water waarin die rivier getransformeer is.

“ʼn Mens staan verstom wanneer jy dit aanskou. In dieselfde asem is dit ook baie gevaarlik, want die sterk waterstrome sleur alles mee.”

Volgens inwoners het die rivier dieselfde vloedvlak as in 2011 bereik. Spangenberg sê die 1974- en 1988-vloed was egter erger as die oorstromings wat hulle vanjaar ondervind het.

“Ons het in 1988 in Palmlaning op die water geski. Dit is die volste wat ek die rivier gesien het.”

Damvlakke daal

Een van die damme wat tot die aansienlike styging van die Oranjerivier se watervlak bygedra het, is die Vaaldam.

Volgens departement van water en sanitasie het die land se damme, ook die Vaaldam, se watervlakke die afgelope week ʼn effense afname in vergelyking met verlede week getoon.

Die vlak van die Vaaldam, wat verlede week op 120% gestaan het, het vandeesweek gedaal tot onder 108%. Wisane Mavasa, woordvoerder van die departement, sê dit is weens die afname in reënval en die departement se vloedbeheermaatreëls, waaronder die oopmaak van sluise.

Daar was teen Vrydag nog vyf sluise in die Vaaldam oop en die departement het aangedui dat hy moontlik nog twee oor die naweek gaan toemaak.

Die Bloemhofdam se watervlak het ook van 107,8% tot 100% gedaal. Die Gariepdam, wat deel vorm van die Oranjerivier se watervoorsieningstelsel, het ʼn daling van 112,3% tot 106% gehad en die Vanderkloofdam het van 109% tot sowat 107% gedaal.

Hierdie week staan die algehele bergingskapasiteit van die land se watervlak op 97,5%, ʼn afname van verlede week se 99,9%, en ʼn aansienlike verbetering van verlede jaar se 92,3%.

“Die geïntegreerde Vaalrivierstelsel wat aan ʼn aantal provinsies water voorsien, het binne ʼn week van 105,8% tot 103,4% gedaal en die Oranjerivierstelsel het van 111% verlede week tot 108,9% vandeesweek gedaal.

Kaapstad se watervoorsieningstelsel het ook van 56,4% tot 56% gesak,” sê Mavasa.

“Die algehele provinsiale waterberging wys dat sewe provinsies die afgelope week ʼn afname in watervlakke aangeteken het. KwaZulu-Natal het effens gedaal van 97,6% tot 91,9%, die Vrystaat van 109,6% tot 107,1%, Gauteng van 102,1% tot 101%, Limpopo van 91,6% tot 90,6%, Mpumalanga van 101,4% tot 100,1%, die Oos-Kaap van 80,5% tot 77,9% en die Wes-Kaap van 49,7% tot 49,2%.

“Waterberging het in die Noord-Kaap aansienlik toegeneem, van 108,4% tot 115%, en in Noordwes van 87,2% tot 88%.”

Droogte op pad

Dr. Gideon Groenewald, ʼn geoloog van Clarens, sê die vol damme is goeie nuus omdat die land nou die droeër El Niño-weerstelsel betree en die La Niña-weerstelsel wat einde Februarie uitgewoed het. La Niña het die afgelope drie jaar vir goeie reën hier gesorg.

“Die departement moet nou juis die damme vol hou vir die droogtetyd wat voorlê. In hierdie stadium is dit nog moeilik om te bepaal hoe lank die droogte in ons midde gaan wees, maar ons moet so voorbereid as moontlik wees,” sê Groenewald.

Suid-Afrika het met die vorige El Niño-weerstelsel van 2015 tot 2020 ʼn droogte ondervind.

Nadat tropiese sikloon Freddy stoom verloor het (dit het Mosambiek verlede naweek getref), wag kenners vir die volgende sikloon.

“Volgens weermodelle kan ʼn volgende sikloon reeds in die komende week vorm, maar dit is nog nie duidelik hoe sterk die sikloon gaan wees en hoe sy bewegings gaan lyk nie.”

Volgens Groenewald was Freddy die sikloon in die aangetekende geskiedenis van siklone in die Indiese Oseaan wat die verste bly beweeg het; dit het 8 000 km oor drie weke beweeg en het groot skade aangerig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.