Foto’s: Só gaan Verlorenvlei vir altyd verlore

verlorenvlei-2019-hooffoto-sandra-prinsloo-en-felicity-strange

Felicity Strange en Sandra Prinsloo staan in die middel van die droeë Verlorenvlei. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

“Ek glo ʼn vleiland is ʼn goeie barometer van wat in die omgewing aangaan. As die vlei wys daar is fout, dan is daar fout met die hele omgewing se waterstelsel.”

So sê Pierre Brink, ʼn bekommerde inwoner van die Verlorenvlei. As daar enige waarheid in sy woorde steek, stuur een van die grootste vleilande aan die Weskus, net buite Elandsbaai, op ʼn ernstige ekologiese ramp af.

Dié vleiland, wat ʼn gebied van 1 500 hektaar beslaan en ook een van die min varswatermere aan die kuslyn insluit, vorm deel van die rivierstelsel van ongeveer 30 km.

Gedurende die laaste twee jaar het die vleiland egter so erg opgedroog, dat mense nou droogvoets regdeur kan stap. Vir sover as wat die oog kan sien, is daar net riete en gekraakte grond met ʼn bietjie water wat onder die brug naby Elandsbaai uitsyfer en ʼn vlak varswatermeer waarin pelikane nou slegs met hul pote toe onder die water kan staan.

Maroela Media het die vleiland Woensdag besoek en kon dit kwalik glo toe inwoners vertel hoe hulle in die verlede in die vleiland en sy meer geroei en met seilbote gevaar het. Die besoek was deel om bewusmaking te skep vir Wêreldvleilanddag wat jaarliks op 2 Februarie gevier word. Die dag plaas die fokus op vleilande wat waterstelsels help suiwer en gronderosie laer af in die rivierstelsels help voorkom.

“Die situasie is haglik. Die reën het net minder en minder geword en ons is nou op die plek waar gedeeltes van die vlei heeltemal opgedroog het,” het die aktrise Sandra Prinsloo, wat ook ʼn bekommerde inwoner van die omgewing is, gesê.

“Daar is wel dele van die vleiland waar daar nog ʼn bietjie water staan, maar dit is baie vlak. Ons pragtige voëls, en veral die watervoëlsoorte, het verdwyn.

“Visse het gevrek en die skilpadjies vrek ook, want hulle kan nie by die water uitkom nie. Dit is ʼn hele ekosisteem wat nou besig is om heeltemal tot niet te gaan,” het Prinsloo gesê.

Prinsloo sê inwoners is al vir meer as 10 jaar besig om alarm te maak oor die situasie van die vleiland.

“Die owerhede wou net nooit gehoor gee aan die klagtes nie en ek hoop net nie dit is nou te laat nie.”

Vra jy mense soos Prinsloo wat die oorsaak van die probleme in Verlorenvlei is, gee hulle verskillende antwoorde. Tog kom dit op hoofsaaklik op ʼn paar dinge neer: die bestuur van waterbronne, riete en ander indringerplantsoorte en die voortdurende bedreiging van ontwikkelings, soos mynbouaktiwiteite.

verlorenvlei-nou-en-toe-pierre-brink

Verlorenvlei (links) soos wat dit tans lyk en die vleiland (regs) in beter jare toe die water tussen 2m en 5m diep was. Foto: Pierre Brink/Verskaf.

Riete neem vleiland oor

“ ʼn Mens is maar versigtig om vingers te wys, want jy wil nie net blameer nie, maar ek dink die riete wat tans besig is om die vleiland oor te neem, is ʼn groot probleem,” sê Sandra.

Dit is ʼn mening wat Brink en Kobus Louw, ʼn boer in die omgewing, beaam en saamstem dat die riete die hele vlei van Grootdrif af oorneem. Daar is selfs nou rietpolle in die middel van die vlei wat nooit voorheen daar was nie.

“Die fluitjiesriet moet beheer word en groot gedeeltes sal moet verwyder word, maar as ons dit met die owerhede bespreek, sê hulle die riete is nie ʼn probleem nie, want dit was nog altyd daar,” het Louw gesê.

Louw-hulle het die riete oor twee jaar met ʼn program, wat gebruik word om die groei van landbougewasse soos rooibostee dop te hou, gemonitor.

“Die 49 hektaar wat ons gemonitor het, het binne ses maande van 1 ton per week na 1,7 ton per week in digtheid toegeneem. Die waterverbruik van die riete oor die twee jaar was 1,1 miljoen kubieke meter.”

Brink raai die klosse riet groei (na sy raming) met sowat 5 cm per dag en as die reënseisoen begin, gaan die eerste water net die riete voed en nie die vleiland nie.

Felicity Strange, nog ʼn vriend van Verlorenvlei, meen die toename in riete is ʼn simptoom van die ekologiese probleme wat die vleiland in die gesig staar. Die riete floreer nou in die droëer omstandighede en suig boonop die laaste bietjie water wat in die vleiland is, op.

verlorenvlei-2019-03

Vir sover as wat die oog kan sien, is daar net riete en gekraakte grond met ʼn bietjie water wat onder die brug naby Elandsbaai uitsyfer. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Reënval bereik nie Verlorenvlei nie

Kobus het gesê die vleiland het ook ʼn ernstige droogte in 2005 beleef, maar nadat ʼn gemiddelde reënval in die streek in 2006 en 2007 teruggekeer het, het die vleiland byna onmiddellik weer herstel.

“Ten spyte van gemiddelde reënval in die opvangsgebied hoër op die binneland, het die watervlakke van die vleiland nog glad nie herstel nie en ek dink nie ons sal ooit weer die vlei sien soos wat hy was nie, al ontvang ons nou skielik ʼn bogemiddelde reënval tot in volgende jaar.”

Kobus reken die vleiland dra gewoonlik ongeveer 45 miljoen kubieke meter water, maar die vleiland is tans net 12% vol.

“Ek glo een van die belangrikste dinge wat gedoen kan word, is om te bepaal wat die minimum vlakke van volhoubaarheid vir die vleiland is. ʼn Meetingsinstrument moet geïmplementeer word om dit te help behaal.

“Die volgende stap is om wat die ou mense genoem het, ’n ‘waterfiskaal’ aan te stel wat kan help om waterbeperking in te stel as die minimumvlakke nie gehandhaaf word nie. Ander waterverenigings soos dié by Clanwilliam het dit al gedoen, maar ons is nog nie eens by die eerste stap nie.”

Louw glo egter nie landbouaktiwiteit is verantwoordelik vir die dramatiese afname in die vleiland se watervlakke nie.

“ ʼn Mens sal baie dom wees om direk uit die vleiland te besproei. Die grondeienaars langs die vleiland het ons boorgate se water laat toets en die isotope, noem dit die DNS van die water, is nie dieselfde as die vleiland sʼn nie.”

Tog is daar mense soos Brink wat glo die waterstelsel van die geweldige uitbreiding in landbouaktiwiteit hoër op na die binneland langs die vleiland, moet ook nog verdere druk op die vleiland plaas.

Intussen moet die vriende van Verlorenvlei ook deurentyd ʼn aansoek vir ʼn oopgroefmyn, waar tungsten in die Moutonshoek ontgin kan word, afweer.

Hulle glo die nuwe myn sal maar min van die beloofde werksgeleenthede oplewer, terwyl dit die grond, water en lug in die omgewing sal besoedel.

Die gemeenskap is egter vol vertroue dat hulle die tweede aansoek vir die myn ook weer suksesvol sal kan beveg.

“Die vlei is in nood en ek is op die pad waar ek glo wette en navorsing help net nie meer nie, al kan jy voor jou oë sien hoe die vleiland in ʼn soutpan met riete ontaard.

“Ek weet nie of ons Verlorenvlei ooit weer na sy volle glorie sal kan herstel waar dit tot in die see uitmond nie, maar ek dink ons kan beter doen vir die vleiland as om net hieroor te praat,” het Brink gesê.

  • Lesers wat meer oor Verlorenvlei wil weet of die reddingspoging van die vleiland wil ondersteun, kan die Vriende van Verlorenvlei se webwerf besoek of die groep se Facebook-blad en Instagram volg. Die Vriende van Verlorenvlei kan ook gekontak word deur ʼn e-pos te stuur aan [email protected]
  • Esté Meyer Jansen van Maroela Media het met Sandra Prinsloo en Felicity Strange, albei verteenwoordigers van die Vriende van Verlorenvlei, gesels om meer oor die dreigende krisis by die vleiland uit te vind. Luister na die onderhoude bo en onder aan hierdie artikel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

John ·

Ja, dit sal die beste wees om orals alle bome en riete te verwyder. Kap oom die gras uit en verkoop al die diere aan Oosterlinge… dan sal dit meer reèn.

aj ·

Daar is nie te min water nie …… daar is TE VEEL MENSE!

Die OLIFANT in die kamer is TE VEEL MENSE!

vir die water, grond, lug, kos, huise ensovoorts!

China het hulle probleem met OORBEVOLKING aangespreek! SA leef in ontkenning!

TE VEEL MENSE!!!

Jaco ·

AJ praat in die algemeen, nie spesifiek van die vleiland nie. Hy is reg, maar slegs kinderlose mense kan eintlik praat van oorbevolking. Enige iemand met kinders het n bydrae (hoe klein ook al) gelewer tot oorbevolking. Dit geld wêreldwyd.

Nel ·

Die ”owerhede” laat my aan ‘n spul volstruise dink wat met hulle koppe in die sand staan en hoop dat as hulle nie die probleem kan sien nie dit weldra sal weggaan.
Be happy don’t worry.

IK ·

Ja, vleiland is vd uiterste belang vir ‘n omgewing. Om die minste te sê dra dit by vir ‘n gesonder natuur. Goed om ook weer vir Sandra te sien . . .

Erwee ·

As ek hierdie berig lees na die een van die 69 jarige boervrou wat vanoggend op hulle plaas vermoor is vir hulle bakkie, gewere en ammunisie dan kan ‘n mens nie anders as om te wonder nie. Ons land en sy mense word van alle kante bedreig. Dis die uitmoor van mense, water-skaarsste (Ek lees Beaufort-Wes se mense kry nou 10 liter water per dag!!), ekonomiese ineenstorting, korrupsie en vele meer. Dis nie net mens teen mens nie, maar ook natuur teen mens!!! Waarom? Is dit bloot toevallig? Ek dink nie so nie. Ek vermoed ons gaan ‘n seisoen binne waarin ons karakters getoets word. Mag ons die dag as ons geweeg word, nie te lig bevind word nie!! As ons dissels geplant het, gaan ons nie koring oes nie. Kom ons beplan, werk saam, sit die regte saad in die grond en kry hoop vir ‘n groot oes om in te kom. Dis nog nie te laat nie!!

Pop ·

Sover mens in enige deel van die land reis, sien mens die riete. Jare terug(60) het my ouma al gekla oor die riete in die riviere en damme. Syt toe al gese mense moet die goed uitroei want die dag gaan kom dat daar geen water oor is nie. Sys al dood en haar woorde weerklink in my kop

Kobus ·

Wyse Ouma. Op my plaas ook in daardie omgewing het ek ook met fluitjiesriet gesukkel. Vinke het daarin nes gemaak en gedurende broeityd groot skade aangerig aan aanliggende graanlande. Ek het met roundup turbo die riete gebespuit in die groen stadium en vandag is my rivierloop weer skoon. Waar daar ñ wil is is daar ñ uitweg.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.