Foto’s: Tshwane-burgemeester vier Kersfees saam met hawelose mense

Cilliers Brink, burgemeester van Tshwane, spreek ‘n groep van meer as 300 haweloses toe tydens ‘n Kerspartytjie. (Foto: Verskaf)

Cilliers Brink, burgemeester van Tshwane, neem sy plig om na die hawelose mense en minderbevoorregtes van die Jakarandastad om te sien, ernstig op en beplan om voortaan die opheffing van dié behoeftiges in die gemeenskap te prioritiseer.

Só het Brink verlede Dinsdag gesê tydens ʼn Kerspartytjie wat gehou is onder leiding van Mercy Circle, asook pastoor Phillip Pretorius van die Every Nation-kerk, Erich Posthumus van Goeie Nuus Fabriek, dr. Josias Moleele van GAP en kunstenaars soos Paul Willemse, borge en die plaaslike gemeente‑orkes.

Meer as 300 hawelose mense het die partytjie bygewoon.

“Politici het nie al die antwoorde nie, maar met behulp van organisasies sonder winsbejag, kerkleiers en sakelui, kan daar groot opheffingswerk in die stad gedoen word,” het Brink gesê.

Die skare hawelose mense, wat voor die aanvang van die partytjie deur die Tshwane-busdiens by sekere optelpunte reg oor die stad opgelaai en aangery is, het Brink toegejuig.

Cilliers Brink. (Foto: Verskaf)

Sam Moimane, adjunkhoof van die Homeless Association of Tshwane, het saam met altesaam nege verskillende organisasies sonder winsbejag die hawelose mense wat op hulle databasisse is, uitgenooi en hulle by optelpunte laat byeenkom.

Volgens Erich Posthumus, uitvoerende hoof van die Goeie Nuus Fabriek-opheffingsmaatskappy, was die partytjie ʼn hoogtepunt van die jaar.

“Jy kon werklik die liefde en omgee voel. Daar was ʼn gees van goedheid en vreugde wat geheers het,” het Posthumus gesê.

Jacqui Uys, raadslid van wyk 85 en koalisievoorsitter van Tshwane, het die gaste verwelkom. Pastoor Phillip Pretorius, hoofleier van die Every Nation-kerkgroep, het ook sy hart met die gaste gedeel.

Renee Kruger en Julian Manuel van Radiokansel het die gaste met pragtige Kersliedere bederf.

Brink het tydens sy toespraak genoem dat talle mense na Pretoria kom met die hoop om werk en beter lewensomstandighede te kry, maar soms nie gehelp kan word nie en in swaarkry gedompel word.

Pastoor Jimmy Wright, organiseerder van die byeenkoms en uitvoerende hoof van Mercy Circle, het in sy boodskap uit Lukas 2 genoem dat ons Verlosser kan identifiseer met die behoeftes van die eensames en uitgeworpenes, en goeie nuus het vir mense wat swaarkry.

Erich Posthumus van Goeie Nuus Fabriek, Cilliers Brink, dr. Josias Moleele en pastoor Jimmy Wright. (Foto: Verskaf)

Die hawelose mense is na afloop van die partytjie teruggeneem na hulle onderskeie optelpunte met geskenkpakkies in die hand, gevul met onder meer Bybels, KFC-wegneemetes en Kersgeskenke.

Brink en sy span het ook planne om sekere geboue in die stad in sogenaamde Mercy Drop In-sentrums te omskep, vanwaar hawelose mense kos, storte, kombuis- en sitkamergeriewe kan geniet en ook lewensvaardigheidsopleiding sal ontvang.

“Daar gaan nou hard gewerk word om ou geboue weer mooi te maak en hande te vat met organisasies sonder winsbejag, korporatiewe instansies, die media, vrywillige skenkers om die sentrums, wat van die nuwe jaar opgerig sal word, oor vyf jaar te voltooi,” het Wright oor die kerk se langtermynplanne vir die hawelose mense van die Tshwane-metro gesê.

Pastoor Wright kan gekontak word by [email protected].

Kyk hier na Goeie Nuus Fabriek se video van die Kerspartytjie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Danie ·

Dit is sekerlik die mooiste gebaar nog ooit in politieke kringe. Baie dankie daarvoor.

Emmer ·

Cudos aan die span!
Wys net….mens KAN ‘n verskil maak sonder ‘n R5miljoen partytjie… ;-)

Leona ·

Baie geluk en welgedaan! Ek hoop hulle kry almal shelters wat Tshwane gaan verskaf. Ook dat die 100 000de mense wat nie kos in hulle huise het nie, geakkomodeer gaan word

agnes ·

Dit klink alles Baie gaaf maar kan Tshwane ook groot asb omsien na die higiene en skoonmaak langs ons paaie in die munisipaliteit. Dit is n skande om te Sien hoe ons stad en veral die buite Wyke gemaak lê met afval en rommel.

Ronel ·

Ag dis wonderlik – moes baie baie spesiaal gewees het. Feit bly staan dis net genade dat van ons het wat ons het. Ons kon ook op straat gesit het, sonder kos, sonder ‘n dak oor ons kop. Danksy God se Genade is ek waar ek is en het ek wat ek het. Dis ‘n voorreg om vir hierdie mense iets te doen en te gee – die Here seen my genoeg elke dag!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.