Frankfort: Privaat onafhanklike kragvoorsiening is al oplossing

Een van Rural Maintenance se sonplase in die Vrystaat. (Foto: Verskaf)

Suid-Afrika se kern-infrastruktuur stort ineen en dit sal só bly indien aktiewe burgery en privaat inisiatiewe nie gaan opstaan en self dinge maak werk nie. Só sê Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL). Hy het die boodskap gelewer aan lede tydens die organisasie se jaarlikse streeksvergaderings.

Die belangrikste voorbeeld van ʼn privaat- en gemeenskapsoplossing vir probleme wat deur die staat veroorsaak is, is die vennootskap tussen Rural Maintenance en die Mafube Besigheidsforum. Rural Maintenance is reeds 11 jaar in die Mafube- plaaslike munisipaliteit (Frankfort) aktief. Die Mafube Besigheidsforum, bestaande uit plaaslike boere, ondernemings en plaaslike burgerregteorganisasies poog om sedert 2017 die gapings wat deur die wanfunksionele munisipaliteit veroorsaak is, te takel.

“Hierdie inisiatief het tot volg gehad dat die Mafube-munisipaliteit se Eskom-rekening tans afbetaal word,” sê Wilken. “Bo en behalwe die R120 miljoen wat reeds in die instandhouding en opgradering van Mafube-kragnetwerk belê is, het Rural Maintenance meer as R22 miljoen aan tantième aan Mafube- plaaslike munisipaliteit betaal en R709,4 miljoen aan Eskom (namens die munisipaliteit) vir grootmaat elektrisiteit.”

Hy sê dit is gevolglik een van die meer suksesvolle privaat inisiatiewe in die platteland. “Dit bied ’n diensleweringsmodel wat orals nagestreef kan word. Dit is daarom teleurstellend dat dit blyk dat Eskom en die regering hierdie inisiatief wil kelder. Eskom se argument teen die konstante betroubaarheid van Rural se kragopwekkingsvermoë is nie ʼn legitieme rede nie. Dit sou veel beter gewees het indien die staat en Eskom Rural Maintenance sou bystaan om die nodige battery- of kragopwekker-rugsteun in plek te kry eerder as om die inisiatief te stop.

“Gegewe die regering en staatsinstellings se rekord van korrupsie moet ons egter nie verbaas wees nie. Die mense van Suid-Afrika se belange is nie in tel by die owerhede nie, en ons moet dus niks van hulle verwag nie.”

Wilken voeg by al raak landsburgers moedeloos oor die ineenstoring van ons elektrisiteitsinfrastruktuur en ander dienste, moet ons onthou dat daar wel privaat oplossings bestaan. “Dit kan geïmplementeer word as die politici opsy staan. Daarom bepleit VL organisasie en beplanning vir plaaslike selfvoorsiening op plaaslike vlak. VL sal voortgaan om steun te verleen vir beleide en belastingtoegewings om dit toe te laat om afhanklikheid van ‘n onstabiele, korrupte of bankrot regering te vermy. Ongelukkig is die kostes

van energie stoor, soos batterye, asook rugsteunkragopwekking baie duur en gaan dit ’n verenigde gemeenskapspoging verg om dit voldoende te beplan en finansier.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Chris ·

Die regime gaan elke soortgelyke inisiatief wat uit die bevolking kom kelder. Die mense raak verboureerd en dit gaan erger word.

Pietertjie ·

Soos die Voortrekkers van ouds is ons op onsself aangewese. Ons moet ook leer uit Piet Retief se geskiedenis.

annie ·

Die wit gemeenskap is reeds op hul knieë. Hul kan nie twee regerings onderhou nie. Die witwerkersunie is onrealisties want hul het werk en die uniebase het geld. Die res, die meerderheid, is in sak en as. Die Marxiste, die sg ANC, sal enige onafhanklike bedryf dooddruk, annekseer of oorlog verklaar en begin met rassistiese strafprosesse. Onrealistiese drome help nie.

Anel ·

Dit is wat komununisme is. As ek werk en ‘n kragopwekker kan bekostig maar my buurman kan nie, dan mag ek ook nie myne gebruik nie want ons moet almal swaar kry. Nie kom ons kyk hoe kan ons hom ook help nie. Vir die anc gaan dit oor die geld wat hulle verloor. Want as mense nou begin selfstandig word kry die anc nie inkomste nie. So die die land moet eerder ten gronde gaan as wat mense selfonderhoudend raak. Alhoewel dit al manier is om bo uit te kom. Ek verstaan nie hulle logieks nie, want daar is niks logies aan hulle denke en doen nie.

Manie ·

Die regering se sogenaamde ondersteuning van eie krag opwekking is net ‘n foefie om hulle beeld te poets. Die waarheid is egter dat hulle self alles wil besit en beheer.

Harley Davidson ·

Die oplossing van al sa se probleme lê in die hande van die privaat sektore as dit nie vir die onbevoegde regime was nie sou ons nie in hierdie posisie gewees het nie.

Gerrie ·

Onder ANC heerskappy is die konsep van demokrasie selfs Eskom en ander ver verbygesleep na demoonkrasie toe.

Lillian ·

Wonder wie het daai regter betaal om sy uitspraak te lewer teen die mense van Frankfort, want die Vader alleen weet of hy enige verstand het en of hy dit gebruik.

Linda ·

Hulle wil nie krag krisis oplos nie want dan kry hulle niks

Stofdonkie ·

Met die koste van batterye om energie te stoor wat so hoog is sal Eskom uiteindelik net krag opwek vir naggebruik. Hoe meer mense kan sonkrag installeer en oortollige elektrisiteit terugvoor in die netwerk hoe nader kan ons kom aan die punt waar eskom darem net sal elektrisiteit hoef op te wek vir naggebruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.