FSCA kan reuseboete by Jooste-boedel eis

Wyle Markus Jooste, voormalige hoof van die Steinhoff-groep. (Foto: Rodger Bosch/AFP)

Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) sê Markus Jooste, voormalige hoof van die Steinhoff-groep, se dood het geen uitwerking op die owerheid se voortgesette ondersoek na die nou ineengestorte maatskappy nie.

Jooste het hom Donderdagmiddag by sy huis op Hermanus om die lewe gebring.

“Die ondersoek gaan voort omdat daar ander betrokke partye is wat ook ondersoek word,” lui ʼn verklaring van die owerheid. “Die owerheid sal ook voortgaan om die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) by te staan met enige ondersoek wat moontlik onderweg is.”

Die NVG het Vrydag bevestig dat lasbriewe vroeër vandeesweek uitgereik is vir die inhegtenisneming van Jooste, asook vir Stephanus Johannes Grobler, ʼn mededirekteur van Steinhoff. Grobler het Vrydag reeds in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria verskyn.

Die NVG en die Valke het die afgelope ruk nou saamgewerk in hul ondersoek na beweerde ongerymdhede by die Steinhoff-groep.

Die FSCA het Jooste boonop Dinsdag ʼn boete van R475 miljoen opgelê. Hy het tot 19 April tyd gehad om die amper halfmiljard te betaal, hoewel hy teen die boete kon appelleer.

Die boete het gespruit uit ʼn omvattende ondersoek na Jooste en Dirk Schreiber, voormalige finansiële hoof van Steinhoff, se optrede by die maatskappy. Ondanks ʼn bevinding dat hy ook die Wet op Finansiële Markte oortree het, was die owerheid van mening dat hy wel met die ondersoek saamgewerk het en Schreiber is dus ingevolge ʼn samewerkingsooreenkoms nie beboet nie.

Volgens die FSCA het Jooste en Schreiber vals of misleidende verklarings oor Steinhoff International Holdings Limited en Steinhoff International Holdings NV gepubliseer. Die owerheid het ook bevind hulle het wetgewing oortree met die twee entiteite se finansiële state en jaarverslae vir die boekjare 2014 tot 2016 en die 2017-halfjaartydperk.

Eis dalk teen boedel

Die FSCA sê omdat die boete reeds ten tyde van sy dood aan hom opgelê is, verander Jooste se dood nie die uitwerking daarvan nie.

“Die FSCA is wetlik daarop geregtig om die boete van wyle mnr. Jooste se boedel te verhaal. ʼn Besluit oor die kwessie of die owerheid ʼn eis teen die boedel gaan instel, sal op die gepaste tyd geneem word. Dit sal met inagneming van al die tersaaklike omstandighede gedoen word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.