NVG bevestig lasbrief vir Markus Jooste

(Argieffoto: ANA)

Die Nasionale Vervolgingseenheid (NVG) het Vrydag bevestig daar is vroeër in die week lasbriewe uitgereik vir die inhegtenisneming van wyle Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van die ineengestorte Steinhoff-groep.

Luidens ʼn verklaring van die NVG is die lasbriewe Woensdag, twee dae voor Jooste se dood, bekragtig. ʼn Lasbrief vir Stephanus Johannes Grobler, ʼn mededirekteur van Steinhoff, is op dieselfde dag uitgereik.

Die NVG het hand aan hand met die Valke gewerk in hul ondersoek na beweerde ongerymdhede by die Steinhoff-groep.

“Die Valke en NVG-spanne het nou saamgewerk as span – wat oor verskeie jurisdiksies gestrek het –  met die hoofdoel om ʼn vervolging te verseker,” lui die verklaring.

Ná die lasbriewe gemagtig is, het die ondersoekspan vooraf seker gemaak alle roetes uit die land word dopgehou ingeval die twee verdagtes op die vlug probeer slaan.

“Die roetes is beveilig voordat die twee se verdedigingspan genader is om te verseker dat hulle [Jooste en Grobler] in die hof verskyn.”

Die aanklagte teen Jooste en Grobler sluit onder meer in bedrog, ʼn patroon van rampokkery en oortredings van die Wet op Finansiële Markte deur Steinhoff International Holdings.

Grobler het Vrydag reeds in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria verskyn.

Maroela Media het vroeër berig die polisie het ʼn geregtelike doodsondersoek begin nadat Jooste Donderdag glo sy eie lewe geneem het.

Die 63-jarige Jooste het homself glo by Kwaaiwater op Hermanus, naby sy huis by Voëlklip, geskiet.

“Hy het kort ná sy aankoms by ʼn private hospitaal aan ʼn skietwond in die kop beswyk,” het lt.kol. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, vroeër bevestig.

Jooste is dood ʼn dag nadat die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) hom ʼn boete van R475 miljoen opgelê het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leeubekkie ·

Tragies.
So jammer dat dit so moes eindig. Sterkte aan familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.