Markus Jooste neem eie lewe ná reuseboete   

Markus Jooste in September 2018. (Foto: RODGER BOSCH/AFP)

Die polisie het ʼn geregtelike doodsondersoek begin nadat Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, sy eie lewe geneem het.

Jooste (63) het homself Donderdagmiddag by Kwaaiwater in Hermanus naby sy huis in Voëlklip geskiet. “Hy het kort na sy aankoms by ʼn private hospitaal aan ʼn skietwond in die kop beswyk,” het lt.kol. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, gesê.

Dit kom ʼn dag nadat die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) Jooste ʼn boete van R475 miljoen opgelê het en te midde van berigte dat hy homself aan die Valke sou oorgee.

Jooste het tot 19 April gehad om die boete te betaal. ʼn Strafsaak oor die kwessie is ook reeds aanhangig gemaak.

Die boete van R20 miljoen vir binnehandel, wat Jooste tevore deur die FSCA opgelê is, moes ook nog betaal word. Jooste het dié boete in die hooggeregshof betwis.

ʼn Reuseskandaal het Steinhoff in 2017 getref toe die maatskappy ondersoek is vir beweerde bedrog en gapings van tot R101 miljard in sy rekeninge gevind is. Die maatskappy, gesetel in Suid-Afrika, is in Frankfurt en Johannesburg genoteer en byna 98% van sy aandeelwaarde is uitgewis nadat tientalle hofsake deur aandeelhouers en sakevennote, ook die voormalige voorsitter, Christo Wiese, aanhangig gemaak is.

Ná ʼn lang ondersoek het die FSCA Woensdag gesê hy het bevind dat Jooste en Steinhoff se voormalige Europese finansiële hoof, Dirk Schreiber, verantwoordelik was vir die publisering van bedrieglike verklarings oor Steinhoff International se finansiële posisie tussen 2014 tot 2017.

Dit het beteken dat beleggers hul besluite op valse inligting gegrond het. Dit het tot verliese van miljarde rande gely, ook deur pensioenfondse. Byna R200 miljard se pensioenfondsgeld en ander beleggings is uitgewis namate beleggers besef het die maatskappy se finansiële state is gemanipuleer.

ʼn Duitse hof het Schreiber tot drie en ʼn half jaar tronkstraf gevonnis. ʼn Streekshof in Oldenburg, Duitsland, het in Junie verlede jaar ʼn lasbrief van inhegtenisneming teen Jooste uitgereik nadat hy nie vir die bedrogverhoor opgedaag het nie.

Die Reserwebank het ook Jooste se bates bevries.

Jooste het aan die einde van 2017 by Steinhoff bedank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

MC ·

En ons moet dit glo, ek het gewonder waarmee sy “handlers” sal opkom om hom te beskerm.

Anel ·

Hoe skelm kan mense nie wees nie! Nou sit onskuldige mense, wat hul lewe lank gewerk het sonder pensioen! Die ou is maar dieselfde as zuma. Wonder net wanneer kry hy sy dag!!!! Die een is net ‘n groter lafaard as zuma!

Ore ·

Vreemd dat hy nooit as CA geskrap is nie. Is daar dan nie ‘n gedragskode vir CA’s nie?

Jannie van Niekerk ·

Nou is dit so. Een selfsugtige besluit sal’n nadelige invloed hê op honderde mense wat agterbly.

ES ·

En ontsettend baie mense se pensioen waardes het halveer. Het hy regtig gedink hy gaan wegkom daarmee? Nou kan hy nie eers pa staan vir sy swak besluite nie. Hy het nie eers jammer gese vir die miljoene mense se lewens wat hy verwoes het in die proses nie.

Nommer 7 ·

@Pierre, niemand se lewe is verwoes nie. Dit is net beleggers wat baie geld verloor het. Christo Wiese die meeste, R60 miljard, maar sy lewe is nie verwoes nie, hy het nogsteeds miljarde.

kragaap ·

Tragiese uitkoms, eerstens vir baie wat als verloor het, en dan vir hom en sy familie.

Henry ·

Sy welvaart was sy eie ondergang, Jammer vir sy naasbestaandes en die wat geld verloor het

Republikein in die Wes Kaap ·

Nommer 7, soos ES noem het pensioenfondse ook miljarde rande verloor met hul waardelose Steinhof aandele. Die grootste verloorder is egter gewone pensioentrekkers. Selfs die staat se pensioenfonds het ‘n paar miljard verloor. My fonds het R105 miljoen verloor. Dan is daar ook nog UAs wat houe gevat het. Dit raak ons aftreeplanne. Vir Wiese voel ek niks. Hy moes sy raadspligte nagekom het en die misdade opgemerk het. Maar sy probleme is nog nie verby nie.

Nommer 7 ·

@Anel, niemand het hul pensioen verloor nie. Hierdie is nie ‘n Arthur Brown geval nie, slegs Steinhoff andeelhouers wat verliese gely het.

Sandra ·

Dis nievir ons om te oordeel nie. Hy kon dit nie alleen georkestreer het nie. Hooo sy minnares moet ook nou geld teruggee. Sy vrou en kinders gaan swaarkry en hulle weelde moet prysgee. Hy was nie bereid om sy weelde prys te gee nie en het eerder die dood verkies.

Misky ·

Hoeveel mense het nie ook destyds selfmoord gepleeg nadat hy hul pensioene ruineer het nie. Steeds baie hartseer en daar is net verloorders in die saak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.