FW de Klerk Sondag amptelik gegroet

FW de Klerk (Foto: RODGER BOSCH/AFP)

ʼn Staatsgedenkdiens word Sondag in Kaapstad ter nagedagtenis van oudpres. FW de Klerk gehou.

Familie, regeringleiers, leiers van politieke partye en verteenwoordigers van burgerlike organisasies sal na verwagting die geleentheid bywoon om De Klerk finaal te groet.

De Klerk het op 11 November sy stryd teen kanker verloor. Die oudpresident het in Maart, op sy 85ste verjaardag, bekend gemaak dat mesotelioom, ʼn soort kanker wat die weefsel in die longe aantas, by hom gediagnoseer is.

Volgens kol. Athlenda Mathe, woordvoerder van die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur (Natjoints), is gereelde vergaderings ná De Klerk se dood gehou ter voorbereiding van sy staatsgedenkdiens.

Alle wetstoepassingsagentskappe op nasionale en provinsiale vlak sowel as verskeie ander staatsdepartemente het deel gevorm van die beplanningspan om te verseker die gedenkdiens verloop seepglad.

“Natjoints het die stand van gereedheid en paraatheid van alle wetstoepassingsagentskappe beoordeel en is tevrede met die planne wat sekuriteitsplanne, roetesekuriteit en toegangsbeheer van al die betrokke departemente behels,” het Mathe gesê.

Genooide gaste wat die staatsgedenkdiens gaan bywoon, word versoek om ordentlik en verantwoordelik op te tree. “Gaste word ook aangemoedig om met wetstoepassers saam te werk om te verseker dat alle gaste in ʼn veilige omgewing kan rou.”

Mathe sê gaste moet ook ten alle tye die nodige Covid-19-veiligheidsprotokols nakom om die verspreiding van die virus te verhoed.

Die gedenkdiens word om 10:30 by die Groote Kerk in Kaapstad gehou.

ʼn Nasionale routydperk van vyf dae is reeds op 17 November vir De Klerk ingestel, waartydens die landsvlag halfstok gehang het. Hy is ook tydens ʼn private diens deur sy familie gegroet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hendrik ·

Hoop dit is die finale groet. Ons bevind ons in n nuwe era.In hd uiters haglike omstandighede waarin ons land tans verkeer, het ons nuwe patriotiese leiers met n toekomsvisie vir die voortbestaan van ons Afrikanervolk nodig. Gelukkig is daar tans heelwat van hulle wat reeds die nodige leiding bied.

Kokkie ·

Weliswaar maar ‘n afgewaterde groetgeleentheid wat uit die belastingbetaler se sak moet kom. En baie is nie geneë om te sien dat hulle belastinggeld daarvoor aangewend word nie. Inderdaad, Hendrik. Mag dit die finale groet wees.

Tipper ·

Ek dink darem nie Fw de Klerk het die land weggegee nie, of wat sê julle,ons is nou beter af, niks meer sanksies nie.

annie ·

Huh! As jy jou pos moet afstaan of gedurig bedreig word deur misdadigers; selfs jou plaas of lewe kan verloor? Opstande en betogings regoor die land en dreigemente vir nog meer? Jou kinders g’n toekoms hier het nie? Sanksies neem vele vorme aan en kom nie net van ‘elders’ nie. Dit hou net aan. Maar ons is bly vir jou as jou toekoms in SA blink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.