Gaan groot skenking pad na omstrede Libertas-ontwikkeling plavei?

Nie alle inwoners van Stellenbosch is ewe geesdriftig oor die beoogde ontwikkeling nie. (Foto: Danie Keet)

Die beoogde ontwikkeling van ʼn gedeelte van die geskiedkundige plaas Libertas op Stellenbosch het inwoners vandeesweek rooi laat sien.

Die plaas, wat reeds in 1707 deur Adam Tas na Libertas herdoop is nadat hy vir 13 maande in die donker gat van die Kasteel in Kaapstad toegesluit is, gaan – as die ontwikkelaars hul sin kry – in ʼn woonbuurt met ongeveer 1 200 huise op drie verskillende dele van die plaas omskep word.

Veral inwoners van Die Boord is erg omgekrap, maar ander belastingbetalers van Stellenbosch is ook ontevrede omdat daar nog geen behoorlike studies oor hersonering en die impak op die omgewing gedoen is of ʼn openbaredeelnameproses gehou is nie.

“Wat die ergste is, is dat die ontwikkeling buite die stedelike grens van die dorp val en die ontwikkeling dus direk teenstrydig is met die beginsels wat deur die Stellenbosch-munisipaliteit self vasgestel is oor die bestuur van ruimtelike ontwikkeling in die dorp. Sou die aansoek goedgekeur word, kan die munisipaliteit nie sy eie beginsels oorboord gooi en dit ter wille van sogenaamde voordelige uitbreiding van die dorp nie,” het ʼn woordvoerder van die Stellenbosse belastingbetalersvereniging by navraag gesê.

Die voorgestelde ontwikkeling beslaan ongeveer 180 ha, terwyl sowat 50 ha uitgehou word. Daar is drie blokke waarbinne die ontwikkeling sal geskied: Een blok met sewe eenhede, een met 500 eenhede en een met 700 eenhede, tesame met beperkte kommersiële ontwikkeling.

“Dit is ook belangrik om daarop te let dat die oorskryding van die stedelike grens nie ʼn  buitengewone konsep vir die Stellenbosch-munisipaliteit is nie, aangesien die aanpassing van die stedelike grens al voorheen gedoen is vir uitbreidings wat tot nadeel van gemeenskappe in Jamestown, Raithby, Kylemore en Johannesdal gedoen is.

“Ons voel die huidige munisipale bestuur toon ʼn ernstige gebrek aan kommer oor die bewaring van Stellenbosch se historiese erfenis, lewensgehalte en maatskaplike eenheid omdat hy voortgaan om hierdie vernietigende praktyke te fasiliteer,” het ʼn lid van Die Boord-aksiegroep gesê.

Op ʼn vergadering van ongeveer 120 regshebbende inwoners van Stellenbosch en veral Die Boord, is daar gesê die beoogde aansoek om ontwikkeling wyk af van munisipale beleid, veral met bepalings in die reeds aanvaarde en goedgekeurde ruimtelike ontwikkelingsplan (ROP).

Inwoners meen dit moet ten alle koste vermy word.

Talle besware

(Foto: Danie Keet)

“Die argument is eenvoudig: Daar is geen noodsaaklikheid vir hierdie ontwikkeling nie. Die beplande Adam Tas-korridor gaan reeds duisende nuwe inwoners na Stellenbosch lok en opsigself groot druk op die beperkte infrastruktuur van die dorp plaas. Die munisipaliteit se mislukte nie-gemotoriseerde vervoerplan (NMV) skiet tekort aan inhoud en dra tans geen gewig nie. Dit kan dus nie ten gunste van die ontwikkeling as argument gebruik word nie.

“Sowel die Adam Tas-korridor as die NMV moet eers ten volle ontwikkel word voordat regverdiging vir die uitbreiding van die stedelike grens oorweeg kan word.”

Volgens ʼn woordvoerder van die Stellenbosse belastingbetalersvereniging, gooi die munisipaliteit sy eie beginsels oor ontwikkeling oorboord, sou dit goedgekeur word.

“Die hele karakter van Stellenbosch gaan verander en een van die grootste inkomstebronne, toerisme, gaan nadelig beïnvloed word deur die verwagte verkeersopeenhopings. Omdat die sonering vir gemengde gebruik geoormerk is, kan die ontwikkelaars haas enigiets daar doen. Ons kan eenvoudig nie toelaat dat meer natuurruimtes en landbougrond verlore gaan nie.

“Nog ʼn beginsel van die aanvaarde 2019- munisipale ruimtelike ontwikkelingsraamwerk (MROR) wat deur die voorgestelde ontwikkeling geïgnoreer word, is dat nedersettings beperk moet word om natuur‑ en landbougebiede te beskerm.”

Inwoners het ook die voordeel wat hierdie ontwikkeling vir Die Boord sou inhou, bevraagteken. Na raming sal meer as 2 000 bykomende voertuie die enigste toegangsroete na die Libertas-ontwikkeling moet gebruik. Dit gaan weer ongekende druk op motor- en voetgangerverkeer in Van Reedestraat plaas, die waarde van eiendomme in die gebied nadelig raak en groot druk op die kruising met die R44 plaas.

“Boonop is daar ʼn groot vraagteken oor die beweerde skenking van ʼn bedrag van by die R30 miljoen deur die ontwikkelaars aan die Demokratiese Alliansie (DA) wat – net soos in die geval van Adam Tas se stryd met die destydse bewind aan die Kaap oor korrupsie en onetiese gedrag gegaan het – nou ook die plaaslike munisipaliteit van [burgemeester] Gesie van Deventer in die gesig staar,” het ʼn ontstoke inwoner by die vergadering gesê.

“As uitvoerende burgemeester – en ingevolge die munisipale goedkeuringstelsels soos dit tans bedryf word – het sy min of meer ʼn veto-reg oor alle munisipale besluite en kan sy selfs ʼn appèl teen só ʼn ontwikkeling ten gunste van die ontwikkelaars van die tafel vee.”

Pat Botha van die Stellenbosch-belangegroep sê die voorgestelde ontwikkeling op so ʼn historiese plaas, en dit buite die stedelike grense van Stellenbosch, is onaanvaarbaar.

“Die stadsbeplanners betrokke, First Plan, se Gideon Roos kon nie sê watter voordeel die ontwikkeling vir Die Boord inhou nie. Sy enigste verweer was dat dit ʼn groter belastinginkomste vir die dorp sou meebring.

“Die proses sal in drie fases gedoen word: Inligting van die gemeenskap, aansoeke vir hersonering by verskillende departemente soos landbou, en ʼn omgewingsimpakstudie – ʼn proses wat tot twee jaar kan duur.

“Ons grootste besware is die verbreking van die stedelike grens, dat dit ʼn historiese plaas is wat grotendeels vernietig gaan word en die verkeersopeenhopings in ʼn reeds verstopte verkeerstelsel wat sal vererger,” het sy gesê.

Die raadslid vir wyk 22, Esther Groenewald, het by die geleentheid gesê hulle sal nie bes gee oor die verandering van die landelikheid van Die Boord nie, en gaan ook nie toelaat dat die karakter en erfenisstatus van die omgewing aangetas word nie.

  • First Plan en die munisipaliteit is om kommentaar genader, maar het met publikasie nog nie gereageer nie. Hul inset sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.