Gauteng-onderwys: Eksamenkullery aangemeld; só vorder plasings

Matome Chiloane, LUR vir onderwys in Gauteng. (Foto: GDE)

Altesaam 51 Gautengse matrikulante word by kullery betrek in verband met die afgelope eindeksamen.

Matome Chiloane, provinsiale LUR vir onderwys, het Sondag tydens ʼn mediakonferensie bekend gemaak dat 45 leerders met aantekeninge betrap is. Vyf is met selfone in hul besit gevind en een leerder het die eksamen namens ʼn ander leerder probeer aflê.

Volgens Chiloane is die gehalte van die eksamen egter nie deur dié voorvalle geraak nie. Altesaam 188 974 kandidate het die eindeksamen in Gauteng afgelê. Vraestelle word tot 20 Desember gemerk en die uitslae word op 19 Januarie bekend gemaak.

Die LUR het ook terugvoer oor die aanlyn plasings vir gr. 1- en gr. 8-leerders gegee. Tot dusver is 272 963 leerders reeds in skole in die provinsie geplaas – 130 690 gr. 1’s en 141 949 gr. 8’s. Daar moet volgens Chiloane nog 17 gr. 1’s en 206 gr. 8’s geplaas word.

Altesaam 32 795 aansoeke wat ontvang is, het nie die nodige dokumentasie bevat nie.

Chiloane het aangekondig dat die aanlyn stelsel weer van 11 Desember tot 15 Januarie oop sal wees vir ouers om aansoeke te voltooi. Ouers sal slegs een skool kan kies vir plasing. Die stelsel sal ook weer van 18 Desember tot 31 Januarie oop wees vir laat aansoeke en slegs skole met plek op die stelsel aandui.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jack ·

Ja as jy nie eers 30% kan kry sonder om te kul nie hoekom enigsins aanmeld vir enige eksamen ?

Sê maar net ·

Toesighouers het seker gesit op hul selfone i.p.v toesig hou.
Skande!!!!

Oosieoos ·

Tronk toe met die wat vraestelle uitgelek het en ander oortreders moet goed gestraf word wat gaan hulle in die toekoms nie aanvang nie

Niklaas ·

Met so ‘n lae slaagsyfer in hierdie tye is kullery mos nie nodig nie .

Sean ·

Uitslae eers 19 Jan bekend Wanneer begin die leerders dan met volgende jaar???? Hulle kan nie gaan werk of swot voor uitslae daar is nie Ekt my matriek uitslae op 18 Des 1989 gekry en die 3de Jan begin werk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.