Gauteng wil duisende jongmense met leerlinglisensies help

(Foto: Maroela Media)

Die Gautengse provinsiale regering, in vennootskap met die alkoholmaatskappy Diageo South Africa, het ʼn geleentheid bekendgemaak vir benadeelde jongmense van die provinsie.

“Om die werkloosheidsgaping te takel en verantwoordelike verbruik van alkohol te bevorder, neem dié inisiatief ʼn stap vorentoe om ʼn voorspoedige en veiliger Gauteng te skep,” sê premier Panyaza Lesufi.

Volgens die jongste syfers van Statistieke Suid-Afrika staan die werkloosheidskoers in Suid-Afrika onder jongmense 46,5% vir die eerste kwartaal van 2023. “Alkoholmisbruik bly ook steeds ʼn beduidende faktor vir padongelukke deur dronkbestuur.”

In reaksie op dié uitdaging het Diageo South Africa hande gevat met Lesufi se kantoor, die departement van paaie en vervoer en die departement van ekonomiese ontwikkeling om die kwessies holisties aan te roer en “positiewe verandering teweeg te bring”.

Onder die naam “Wrong Side of the Road” het die veldtog ten doel om jongmense met administratiewe fooie by te staan om leerderlisensies te bekom. “Om in ag geneem te word, moet die deelnemers tussen 17 en 34 jaar oud wees en in townships, informele nedersettings of hostelle in Gauteng tuisgaan,” voeg Lesufi by.

Alhoewel die teiken van die projek is om 40 000 jongmense by te staan, is meer as 130 000 versoeke reeds ontvang sedert die premier die projek in Augustus 2023 aangekondig het.

Lesufi sê ʼn leerlinglisensie is die eerste fase om ʼn rybewys te bekom wat die deur oopmaak vir indiensneming. “Die veldtog bevorder ook aktief verantwoordelike bestuur tydens die leerfase en kan ons op só manier hopelik padveiligheid verbeter, veral wat dronkbestuur betref.”

In vennootskap met die Gautengse departement van ekonomiese ontwikkeling sal 10 000 van die 40 000 geleenthede gereserveer word vir motorfietslisensies om ʼn projek genaamd Last-Mile te ondersteun. Last-Mile het ten doel om jong mense te help om lisensies te bekom, om hulle op te lei en te mentor en met werksgeleenthede te verbind. Diegene wat belangstel, ontvang opleiding en bystand, insluitend toegang tot motorfietse (opsies sluit in verhuring, verhuring voor aankope of aankope) en kontrakteer met vennote uit die bedryf.

Sibani Mngadi, direkteur van maatskaplike betrekkinge by Diageo South Africa, het gesê die inisiatief strook met sy 10 jaar-volhoubaarheidsaksieplan, Society 2030: Spirit of Progress. “Dit weerspieël ons toewyding tot positiewe verandering in optrede wat tot gebrekkige bestuur lei. As ʼn internasionale alkoholmaatskappy, glo ons in die plig wat ons het om met vennote soos die departement van paaie en vervoer saam te werk om voorkomingsinstrumente te skep wat lewens kan red.”

Oor Wrong Side of the Road

Die werwingsproses is reeds afgehandel, met ʼn oorweldigende reaksie van aansoekers. Diegene wie se aansoeke suksesvol was, sal die volgende stap in die reis ontvang deur SMS en WhatsApp, insluitend ʼn video en ʼn kort vraelys wat verband hou met die impak van alkohol en dronkbestuur. Dit sluit gereedheid in om die rybewystoets te ondergaan en ʼn 80%-slaagkoers te behaal met die K53-app.

Aansoekers vir die volgende fase moet hul leerlinglisensie-eksamen tussen 19 Oktober 2023 en 28 Februarie 2024 kan aflê. Dit word beperk tot 40 000 leerlinglisensies.

Vir meer inligting oor die veldtog, besoek die sosialemediabladsye by @DriveDry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

annie ·

… en nou sit ek met ‘n rybewys. En nou het ek ‘n motor nodig. Arme ekke!

Koos 100 ·

Eers ‘n voertuig om te leer bestuur. Dit nou uit huushoudings waar daar nie eers kos is nie. Dan na 18 maande verval die leerling lisensie, en wat dan verder????

Casper ·

Ag asseblief Lesufi,al die projekte wat jy al aan gevat het,het vrot geword.Dink jy regtig dit gaan maak dat mense nie meer gaan bestuur onder die invloed nie.

Hennie Biebouw ·

Lesufi is darem seker opgewonde synde hy die “samewerking” het van die mense wat die blou weergawe versprei van die mannetjie wat so stap. Die bloue is mos ‘n groot kader gunsteling…

Frikkels ·

Wys my enige een van die kastige voorheen benadeeldes in hierdie ouderdomsgroep wat wel voorheen benadeel is. Lesufi dink sy vyand is onder ñ kalkoen uitgebroei!

Amelia ·

Ek dink die wiel draai reeds probleem is as die wiel draai kry ons jammer maar is hy nie draai nie kla ons die natuur laat die wiel draai

Jack ·

Ja nie seker hoe hy sy somme maak nie.Jy het ‘n motor nodig om ‘n bestuurs lisensie te kry.Sonder ‘n motor is ‘n leerling lisensie sinneloos.Dan moet jy nog ‘n werk kry en hopelik ‘n motor om te kan by die werk uitkom.Die kite gaan nie vlieg nie.

miche ·

Goeie idee maar nou gaan ‘n groooot deur oop vir nóg korrupsie en nepotisme.

Ronél ·

Benadeelde jongmense……………???? Ook al holruggery soos apartheid………….

Papsak ·

Rasisme ten sterkte Lesufi dink hy is oulik verkiesing kom mos nou gaan jy ongelukke sien gaan voort

Wildemien ·

So woed rassisme en diskriminasie voort. Wat is volgende? Die 40 000 kry elkeen ook ‘n karretjie om werkloosheid te oorkom?
Maak dit eerder deel van die nuttelose vak genaamd LO. Elke matrikulant (18 jr oud) moet met ‘n rybewys sy skoolloopbaan voltooi. Die departement van vervoer kan die hulpbronne vir skole daarstel om leerlinge te leer bestuur asook die logistieke en administratiewe nagmerrie om ‘n leerlinglisensie te bekom verbeter.
Wie onthou die K53 Golfies van die tagtigerjare?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.