Gautrein kap terug oor waterskuld

Die Gautrein. (Foto: GautengCitizen via Wikimedia Commons)

Die Tshwane-metroraad het Maandag die watertoevoer en Dinsdag die kragtoevoer na die Gautrein-stasie in Hatfield afgesny weens agterstallige skuld, maar Gautrein beweer die rekeninge is albei op datum.

Kesagee Nayager, woordvoerder van Gautrein, sê die watertoevoer is Maandag afgesny en die munisipaliteit beweer dat hy sowat R10 miljoen verskuldig is vir dienste gelewer aan die stasie. “Die stad het vanmiddag die kragtoevoer na die stasie afgesny. Die Gautrein-stasie het ʼn voorafbetaalde elektrisiteitsmeter en die rekening is nie net op datum nie, dit het eintlik ʼn krediet tot die waarde van R120 000. Die waterrekening is ook op datum.”

Maroela Media het vroeër berig die munisipaliteit het voor die afgelope naweek al minstens R148 miljoen aan agterstallige skuld ingevorder sedert hy ophou doekies omdraai het en wanbetalers se dienste voor die voet begin opskort het as deel van sy ongekende skuldinvorderingsprogram. Nóg sakeondernemings se krag is Maandag afgesny.

“Ons probeer tevergeefs om met die stadsraad kontak te maak sodat hulle bewys kan lewer oor die beweerde agterstallige skuld. Die stad se adjunkhoof vir inkomstebestuur het gisteraand ʼn skermskoot met ons gedeel wat ʼn ander rekeningnommer wys as die rekeningnommer wat op die kennisgewing, om dienste op te skort, verskyn. Die stad het dus onwettig dienste na die stasie opgeskort,” sê Nayager.

“Gebaseer op inligting wat vanoggend met personeel by die stasie gedeel is, wil dit voorkom of die skermskoot van gisteraand vermoedelik verband hou met heffings en belasting. Die persele waarop die Gautrein-stasies gebou is, is deur die Gautengse provinsiale regering aangeskaf as deel van ʼn projek vir openbare vervoer. Die Gautengse provinsiale regering het die nodige grondregte bekom om die Gautrein-spoorlyn op dié eiendom te bou en te bedryf en dit is dus openbare vervoer-infrastruktuur vir die doelwit van heffings en belasting.

“Aangesien die water- en elektrisiteitsrekeninge vir die stasie ten volle betaal is en op datum is, doen ons ʼn beroep op die stad om dringend die water- en kragtoevoer na Hatfield-stasie te herstel,” voeg Nayager by. “Ons doen ook ʼn beroep op die stadsraad om hulself beskikbaar te maak vir ʼn vergadering sodat ons die volledige rekening kan sien eerder as net ʼn skermskoot en sodat die saak so vinnig as moontlik opgelos kan word.”

Gautrein gaan intussen die hof nader om ʼn dringende interdik te bekom dat die dienste herstel moet word.

Tshwane se burgemeesterskomiteelid vir finansies, Peter Sutton, het weer ʼn beroep op kliënte gedoen om alle rekeninge te vereffen en sodoende ontwrigtings te verhoed.

“Die metroraad neem kennis van ʼn kommerwekkende neiging van niebetaling weens dispute oor sekere dienste op munisipale rekeninge. Ons wil dit graag duidelik stel dat ʼn dispuut op ʼn dienslyn, soos elektrisiteit, nie die kliënt kwytskeld van betaling vir ander munisipale dienste soos water, sanitasie of vullisverwydering nie,” sê Sutton.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Samuel ·

Wat is die waarheid?

Ten minste doen die stad iets om wanbetalers aan die pen te laat ry. Doen so voort.

Moedeloos ·

Sover my kennis moet alle rekeninge opdatum wees. Ons Munisipaliteit blok ook pre-paid krag aankope as die res van die rekening nie vereffen is nie. Dit is hul manier om jou by hul kantore te kry vir onderhandelinge want mense kom nie hul aanspreeklikheid na nie.

Swerwer ·

Ai tog, waarom wasgoed was in die publiek. As alles op datum betaal is, sal daar mos bewyse van die bankrekening gekry kan word dat dit is. Doen dit en wys dit vir wie jul ook al wil, dit gaan beslis goedkoper wees as die hof en ook baie vinniger.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.