‘Gebrekkige rampbestuur dra by tot Vrede-tragedie’ – VF Plus

Burgers se huis het tot die grond afgebrand (Foto: Verskaf)

“Die feit dat die brandweer nie opgedaag het nie óf dat daar nie voldoende brandbestrydingstoerusting beskikbaar was nie, het bygedra tot Henk Burgers (62) se tragedie.”

Só sê Jan van Niekerk, die VF Plus se leier in die Vrystaat, ná Burgers Sondag vroegoggend deur twee mans in sy huis in Vrede, Vrystaat, oorval is en hulle daarna sy huis aan die brand gesteek het. Hy het ure later in ʼn hospitaal aan sy wonde beswyk.

Burgers se huis het tot die grond afgebrand nadat die brandweer meer as een keer gebel is, maar nooit opgedaag het nie.

Die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) op die dorp het ook self ingespring om die brand te blus, maar hul reddingspoging was gekortwiek toe hulle nie water by die munisipaliteit se waterwerke kon kry nie.

“Ons wou waterspuite by die munisipaliteit se waterwerke volmaak, maar dié se hek was gesluit. Ons kon ook nie die persoon wat die hek moes oopsluit in die hande kry nie,” het Dana Kruger, ondervoorsitter van die GFP, aan Maroela Media gesê.

Vrede word deur die Phumelela- plaaslike munisipaliteit bedien. Dié munisipaliteit bedien ook Warden en Memel.

Kruger sê die GPF soebat die munisipaliteit al die afgelope twee jaar om vir hulle ʼn waterspuit te gee om self brande te blus. Hy sê hulle het ook al gevra om ʼn sleutel vir die hekke by die waterwerke te kry om ook self water te tap indien nodig.

Volgens Van Niekerk het daar sedert Januarie vanjaar reeds vier huise in die Phumelela- plaaslike munisipaliteit afgebrand. Hy sê dit is hoofsaaklik omdat daar nie voldoende brandbestrydingstoerusting beskikbaar is nie.

“Rampbestuur in die Vrystaatse platteland verkeer in ’n haglike toestand met dikwels slegs een brandweerwa, indien enige, wat vir verskeie dorpe in plaaslike munisipaliteite beskikbaar is,” sê Van Niekerk.

Burgers is Sondag omstreeks 09:00 in die hospitaal aan sy kopwonde oorlede (Foto: Henk Burgers, Facebook)

“Die feit dat hierdie dienste nie beskikbaar is wanneer dit nodig is nie, is nalatigheid van die ergste aard en iemand moet aan die pen ry daarvoor voordat brande tot lewensverlies en verdere eiendomskade lei.”

Die VF Plus het skrywes aan die Phumelela-munisipaliteit en die provinsiale departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) gerig om nadere besonderhede oor dié gebrekke rampbestuur te bekom. Hierdie besonderhede sal in ag geneem word om die moontlikheid van strafregtelike klagte teen diegene wat vir hierdie noodsaaklike dienste verantwoordelik is, te oorweeg.

Maroela Media het vroeër berig Burgers is net ná 02:00 in sy huis aangeval en het ongeveer 09:00 in die hospitaal aan sy kopwonde beswyk.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, sê Burgers het wakker geword toe hy voetstappe in sy kombuis gehoor het. Burgers woon alleen in die huis.

“Hy het gaan ondersoek instel en is deur twee mans gekonfronteer. Die mans het toegang tot die huis verkry deur ʼn venster te breek,” sê Makhele.

“Die mans het Burgers met ʼn ysterstaaf en mes oorval. Hy het probeer terugveg, maar is erg aangerand totdat hy sy bewussyn verloor het.”

Volgens Makhele het Burgers na ʼn wyle sy bewussyn herwin en die vlamme en rook gesien wat uit een van die kamers gekom het.

Burgers se buurman het wakker geword van sy eie hond se geblaf, waarna hy by die venster uitgekyk en gesien het Burgers se huis brand. Hy het oor die muur gespring en Burgers uit die brandende huis gered.

Burgers is per ambulans na ʼn hospitaal in Vrede gehaas, waar hy later oorlede is.

“Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.”

Enigiemand met meer inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei, kan kapt. Mostert by 082 466 7752 skakel of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit is die geval in die meerderheid munisipaliteite waar die ANC aan bewind is ,ek steun die VF+ se geveg om ‘n referendum in die weskaap uit te roep sodat dit ‘n onafhanklike staat word.

Elinette ·

Dink jy nou regtig die ANC regering sal toelaat dat die Wes-Kaap ‘n onafhanklike staat word? En hoekom dan nou – per sé – die Wes-Kaap; hoekom nie Gauteng of KZN nie? Is dit omdat die Wes-Kaap die enigste provinsie is wat darem nog in ‘n mate funksioneer?

Lourens CFG ·

Dit was ‘n nood situasie, hulle kon net die slotte gebreek het. As my buurman se huis brand en daar geen brandweer is nie, en net ‘n slot wat my keer, is daardie slot vinnig af. Ons mense is nog té wetsgehoorsaam, met wette wat teen ons is.

Johanncb ·

Baie van ons mense het géén meer trots op hulle werk nie! Vergeet van respek vir menselewens en eiendom!

Jan ·

En die VF+ doen mee deur hul patetiese saamloop met die ANC oor “rampbestuur” wat meer skade as goed doen.

Piet parys ·

Het die polisie die moordenaars gevang . NEE SOOS ALTYD Weerhou julle dienste geld . Geen diens geen geld . Dis tyd dat julle op julle regte staan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.