Geduld gevra met hernuwing van vuurwapenlisensies

(Argieffoto)

Die bestuur van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het gesê daar word werk daarvan gemaak om die agterstand met die vernuwing van vuurwapenlisensies weens die Covid-19-pandemie aan te pak.

Kol. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, het gesê die Sentrale Vuurwapenregister (SVR) het terugslae ondervind weens die pandemie en die gepaardgaande afsonderingstydperk. Dit het dus ʼn uitwerking op die ooreengekome omkeertyd van 90 dae vir vuurwapenlisensie-aansoeke.

“Dit word vererger deur die toestroming van heraansoeke vir vuurwapenlisensies wat in die vorige vuurwapen-amnestietydperk ingedien is, asook in die huidige amnestietydperk.”

Die SVR het meganismes ingestel om die agterstand te verlig nadat die land na vlak 2 van die nasionale afsonderingstydperk beweeg het.

Aansoekers is gevra om geduldig te wees aangesien die SAPD sy omkeertyd hersien om die aansoeke binne 90 tot 120 werksdae af te handel.

“Intussen word die werksure van werknemers by die SVR ook verhoog om doeltreffende dienslewering in hierdie verband te verseker,” het Muridili gesê.

Die bestuur van die SVR hersien voortdurend die maatreëls wat getref kan word om die vertragings in die verwerking van aansoeke om vuurwapenlisensies te verminder.

Mense wat aansoek gedoen het om hul vuurwapenlisensies te hernu, kan navrae rakende hul aansoeke rig aan 012 353 6111 of [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Persheks Adri ·

Ons kan nie so aan gaa nie en ons geduld raak op! Ek het myne gedoen voor lockdown (laas jaar al) en STEEDS 6 maande gewag vir hernuwing van lisensies! Dis onaanvaarbaar doen julle werk waarvoor julle betaal word genade

Martiens ·

Doeltreffende dienslewering was nog nooit prioriteit by die SVR nie. Plaas hulle net luister na Paratus en gaan die roete van, “Lisensieer die persoon en registreer die vuurwapen”. Die hele proses is net tyd mors.

Werner ·

Hierdie proses het nie in Europa of Kanada gewerk nie hulle is eerste wereldlande . Wat gee hierdie derde wereld die idee dat hulle dit kan doen .

Frank ·

Kyk na die bottelnek en spreek dit aan! HALLO!!!!! Wat van nog ‘n paar PC’s en nog ‘n paar personeellede opleiding gee??? Kan werklik nie so moeilik wees nie. Wat vat in elk geval 90dae om te doen as al die aansoek papiere en motiverings voor jou lê en alle individu inligting op die stelsel is. Altyd baie verskonings vir onbekwaamheid en onbeholpenheid.
Sjoe maar ek braak deesdae gal!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.